Wêreldwyd het die Covid-19-pandemie die lewe soos wat ons dit geken het, vir altyd verander.
Skielik kon ons nie meer dinge doen wat ons as vanselfsprekend aanvaar nie, en spesiale geleenthede waarna al jare lank uitgesien is, is ook beperk.
Dit wou aanvanklik voorkom of die liefde vir eers na die agtergrond geskuif moes word omdat troues nie kon voortgaan soos beplan nie. Maar ʼn paar paartjies het besluit om steeds voort te gaan met hul liefdesverhaal, te midde van die Covid-19-pandemie.
Charmaine Brooks van Brackenfell in die Wes-Kaap sou aanvanklik op 2 Mei, tydens vlak 4 van die landwye afsondering, getrou het, maar hulle het vinnig besef dit gaan nie gebeur nie.
Sy en haar verloofde, Andreas, wou egter nie toelaat dat die pandemie hulle onderkry nie, en toe hulle hoor dat predikante weer huwelike mag registreer, het hulle besluit om te trou.
“Ons is hoërskoolliefdes en ken mekaar al tien jaar lank. Ons het in 2018 verloof geraak, so ons het net besluit ons wag al lank genoeg hiervoor, dit gaan ons nie onderkry nie,” sê sy.
Hulle het toe besluit om op 26 Junie vanjaar te trou, met slegs twee van hul vriende teenwoordig.
“Reis was nog verbode in die tyd toe ons wou trou. Ons ouers of familie kon die troue glad nie bywoon nie, aangesien hulle ver weg bly.”
Die paartjie het by die Nooitgedacht-wynlandgoed buite Stellenbosch getrou met slegs hul twee beste vriende, die predikant en ʼn fotograaf teenwoordig. Brooks het by haar beste vriendin ingehaak en hulle het laggend by die paadjie afgestap na Andreas toe.
“Al was dit heeltemal ander as wat ons aanvanklik gedink het, is ons so dankbaar ons het dit gedoen. Ons is baie bly ons het hierdie groot belofte gemaak, dis ʼn belofte van ʼn leeftyd en in dié stadium is dit vir ons belangriker as enigiets anders.
“26 Junie was ʼn baie spesiale dag. Ek dink ons het ʼn baie cool storie om eendag vir ons kleinkinders te vertel,” sê sy.
Die paartjie beplan om steeds in 2021 ʼn groot partytjie te hou om hul troue saam met vriende en familie te vier.
ʼn Paartjie van die Oos-Kaap het ook besluit dat nóg Covid-19 nóg die afsonderingsregulasies in hulle pad sal staan om verloof te raak, al is die moontlikheid van ʼn troue nog vaag.
Madelein Potgieter van Patensie in die Oos-Kaap het op 11 April aan Michal Ehlers verloof geraak tydens ʼn intieme piekniek waar net dié twee teenwoordig was.
Potgieter vertel hulle wou aanvanklik in Oktober vanjaar trou, maar weens die landwye afsonderingstydperk het hulle besluit om in April 2021 te trou, met of sonder die virus.
“Dis moeilik om te sê hoe lank Covid-19 nog met ons gaan wees, maar ons wil definitief volgende jaar trou. Ons wil nie nog langer wag nie. So, al is die virus nog daar, gaan ons nog steeds wil trou,” sê sy.
Potgieter sê dit was vir haar spesiaal om tydens die staat van inperking verloof te raak en dat Ehlers se verlowingsplanne nie veel deur die virus geraak is nie. Sy meen die grootste uitdaging is wel om die troue te probeer beplan met so ʼn onsekere toekoms.
Christa Steyn en Kobus Bezuidenhout van Pretoria sou op 30 Mei trou aan mekaar beloof het, maar is gedwing om hul spesiale dag na 9 Augustus uit te stel.
Steyn vertel dat hulle nou met 30 mense teenwoordig hul troue sal hou.
“Daar sal steeds ʼn seremonie en onthaal wees, maar ander tradisies en goed soos die gevolg, gooi van die kousband en ruiker, opening van die dansbaan en ʼn tafelplan is van die baan,” vertel sy.
Steyn sê hulle wou nie langer wag om te trou nie omdat niemand weet wat die toekoms inhou nie en hulle graag bymekaar wou wees.
“Dit het my as bruid ook in die posisie geplaas waar ek nie té pedanties kon wees oor onbenullighede soos die skakering van die donkerblou tafeldoek, in watter kerk of kapel ons gaan trou, ontwerp van uitnodigings, en so meer nie. Een van die mees bevrydende gedagtes is die besef dat ons op nuwe maniere aan troues kan en moet dink.”
Steyn en Brooks is dit eens dat die pandemie nie die eerste of die laaste uitdaging is wat hulle as paartjies gaan trotseer nie, en daarom is hulle nie bang daarvoor nie.
“Niemand het die pandemie sien kom nie. Die huwelik gaan nie sonder sy uitdagings kom nie. Gebruik hierdie omstandighede as oefenlopie om ʼn onsekere en groot uitdaging aan te pak,” is Steyn se raad aan mense wat dieselfde paadjie stap.
Moenie dat iets in jou pad staan om te kry waaroor jy lankal droom nie, beaam Brooks.
“Die lewe is vol struikelblokke, maar net soos die huwelik moet jy dit eenvoudig probeer oorkom. Glo en vertrou op God dat Hy alles op sy tyd doen en dat daar wel ʼn rede is met alles.”