Nina se dankie-sê-briefies

 bemagtig-n-kind-nina-se-prentjie.jpg

Nina se prentjie wat sy saam met haar briefie gestuur het. (Foto: Verskaf)

Soms wonder ʼn mens of die bydrae wat jy maak of graag wil maak regtig by die regte mense gaan uitkom. Daarom is dit vir die Bemagtig-ʼn Kind-projek so lekker om terugvoer te ontvang van dié wat direk baat by bydrae wat tot dié fonds gemaak is.

Hier is so bietjie ʼn kykie in die lewe van Nina* en hoe haar lewe positief beïnvloed is. Sy en haar sussie het kragte saamgesnoer en dié briefies vir Helpende Hand gestuur.

Nina se eerste briefie:

Hallo almal,

My naam is Nina.

Ek het vir my sussie gevra om die brief vir julle te skryf, want ek kan mos nog nie skryf nie. My sussie is ook in die skool in gr. 3.

Ek wil vir julle ʼn storie vertel.

Ek bly in ʼn huisie saam met pappa, mamma, my twee sussies, boetie, en sy meisie.

Ek was nie lank gelede nie in ʼn klein skooltjie, sommer naby aan my huis. Ons was vyf maatjies in die skooltjie.

Ek was altyd eerste by die skool, want ek wou my juffrou help om alles uit te pak. Juffrou het altyd gesê ek is baie fluks, en ook baie slim.  Ons skooltjie het nie mure gehad nie, as dit gereën het, het ons sommer onder die afdak gesit, en wanneer die son geskyn het, somer onder die groot boom en die wolke. Dit was die lekkerste skool. Juffrou het ons geleer van prentjies inkleur, huisies teken en om sirkels te knip, al het ek ʼn bietjie skeef geknip. Ons het hard gewerk, ons het lekker gespeel en gelag, sommer baie, dit was so lekker.

Maar nou is ek groot, in graad R. En dis eintlik waaroor ek wil praat. 

Ek wou so graag skool toe gaan, maar omdat mamma gesê het dat ons geldjies ʼn bietjie min is, en skoolgeld baie duur is, sal ek eers in gr. 1 skool toe kan gaan. My hartjie was so seer, ek het elke oggend as my sussies skool toe gaan ook my kleertjies aangetrek en saam met mamma-hulle skool toe gestap.

Maar toe gebeur ʼn wonderlike ding. ʼn Wonderwerk!

My mamma het met ʼn tannie by Helpende Hand gepraat en hulle het ʼn slim plan gemaak. Helpende hand is ʼn plek met baie gawe mense wat kindertjies help.  

Hulle het toe geldjies bymekaar gemaak sodat ek kan skool toe gaan.

Julle!!! Ek is ook nou in Gr. R in die groot skool en ek is baie gelukkig.

Ek het my eerste leesboek gekry en juffrou se sy kan sien dat ek klaar sommer slimmer is. Ek het nuwe maatjies by die skool en ek hou baie van hulle. Kara* het my sommer genooi na haar partytjie toe.

Ek en mamma doen elke middag huiswerk, want ek wil so slim raak soos my sussie. Sy is nommer 6 in haar klas, mamma sê dis baie goed en sy is trots op haar, en ekke ook.

Mamma sê Helpende Hand het vir my ʼn bruggie gebou sodat ek volgende jaar in gr. 1 sommer al sal kan lees en skryf.

My hartjie is so gelukkig. My mamma s’n ok.

Liefde
Nina

Nina se tweede briefie:

 bemagtig-n-kind-nina-gradeplegtigheid-02.jpg

Nina met haar gradeplegtigheid. (Foto: Verskaf)

Halo julle

Dis weer Nina hier.

Ek het mos anderdag ook vir julle ʼn brief geskryf van Helpende Hand wat geldjies gegee het sodat ek skool toe kan gaan om te kan lees en skryf.

Jule, ek het wonderlike nuus!

Ek gaan volgende jaar as Kersfees verby is groot skool toe. Ek is baie bly, my sussie is ook bly, maar my ma is die blyste.

Ons was vanoggend by die skool, ek het ʼn snaakse hoed op my kop gehad want dit was my juffrou noem dit iets soos grade plegtig, so iets. En toe ek daar voor staan, sê juffrou, “Nina, jy was ʼn ster, en juffrou is trots op jou.” Toe lag ek so lekker, want ek hou van sterre en ek is bly oor juffrou trots is op my.

Nou kan ek ook lees en knip en skryf soos my sussie.

Mamma se ek moet vir Helpende Hand dankie sê dat hulle ʼn bruggie gebou het om my te  help om skool toe te gaan. Mamma sê ek het sommer oor die bruggie gespring, so slim is ek. Mamma sê ook dat ek vir julle moet se dat liewe Jesus vir pappa nuwe werk gegee het en ons nou meer geldjies het.

Ek gaan nou die sertifikaat wat juffrou vir my gegee het in ons kamer hang sodat pappa dit kan sien as hy by die huis kom.

Mamma sê julle is die beste, ek sê ook so.

Liefde
Nina

Hierdie verhaal kon ʼn ander uitkoms gehad het as die gemeenskap nie saamgestaan en geld aan die Bemagtig-ʼn-kind-projek voorsien het nie. Sonder die gemeenskap sou Helpende Hand nie kon intree en help nie. Hierdie is ʼn besonderse voorbeeld van ʼn gemeenskap wat saamstaan om mekaar te help.

As jy hierdie artikel lees, en jy wil en kan ook help, besoek gerus ons webwerf, sluit aan as ʼn ondersteuner of SMS die woord KIND na 45763 (SMS kos R2) en help ons om kinders te bemagtig.

*Nina en Kara is ʼn skuilname wat gebruik word om die identiteit van hierdie dogters te beskerm. Die briewe is aangepas wat spelling betref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.