Nisboere: Ek is ’n boer langs beton

Foto slegs ter illustrasie. (Foto: Erik Scheel/Pexels)

Deur Donsie Kruger

“Ek is ʼn lat van die stad maar ek’s ʼn boer in my hart
Die gejaag maak my moeg en ek wil eintlik net ploeg
En my mielies plant
My hande kry in die sand”

Die lirieke van “Ek bly ʼn boer” van die groep Jan Jan Jan is die versugting van menige stadsjapie wat in ʼn betonoerwoud woon. Dit is ook ʼn nommerpas beskrywing vir Jaco Erasmus, wat op ʼn plaas grootgeword het en toe sy lewe in die stad kom maak het. Met ʼn suksesvolle boukonstruksiemaatskappy wat onder sy hand gedy en ʼn stewige bankbalans, tref die koronavirus die land. Tydens die algehele inperking het Jaco, soos baie van ons, besin oor die pad wat sy lewe tot op daardie stadium geloop het. Hy het besef dat hy verveeld was met sy sakeonderneming en dat sy harde werk en gejaag na ʼn beter lewe, hom van tyd saam met sy vrou en nuwe babadogtertjie beroof het.

Jaco neem ʼn dapper stap en koop ʼn kleinhoewe, met planne om met selfgeboude tonnels ʼn klein boerdery te begin. Twee vennote laat hom egter in die steek en hy moet vinnig ʼn plan maak om kop bo water te hou. So word Rent A Greenhouse gebore. As jy Jaco vra waaroor sy nisboerdery gaan, sê hy laggend hy boer met boere.

’n Unieke boerdery

By Rent A Greenhouse kan jy ʼn tonnel van óf 30 m óf 50 m by Jaco huur. Die tonnels word deur Jaco en sy span op sy kleinhoewes opgerig. Ingesluit by die tonnel kry die huurder ook die gebruik van die boorgatwater en stel Jaco sy span kundige boere tot almal se beskikking om hulle met raad en daad by te staan, sodat die huurder die beste resultate uit sy of haar plantverbouing kan kry. Kwessies soos watter saailinge om te plant, wanneer om dit te plant, hoekom die spesifieke gewas geplant behoort te word en hoe ʼn mens dit korrek in die grond kry, asook waterleiding, sonposisies en grondkwaliteit, is van die basiese vrae waarmee Jaco daagliks help.

Hy sorg dat die grond waarop die tonnels gebou is van topgehalte bly, daarom stuur hy deurlopend grondmonsters aan ʼn laboratorium vir ontleding en maak die nodige aanpassings waar nodig. Jaco verkies organiese boerderymetodes en verskaf topgehalte organiese materiaal vir die bemesting van die plante. Op die perseel is ook nog die spesifiek-ingerigte afdak en kamers waar die kleinboere hulle oeste kan verwerk en verpak, asook ʼn vragmotor wat onder die kleinboere gedeel word, om die produkte na die verskillende markte of persoonlike afsetgebiede te neem.

Ons stap deur die tonnels terwyl Jaco vertel van elke stadsboer se eie unieke boerdery. Daar is slaaitamaties en groenrissies, rissies van alle soorte, kruie en boomsaailinge in unieke sakkies wat sorg dat hul wortels na buite groei en nie al in die rondte soos in ʼn konvensionele swart sakkie nie.

Daar is blomplante wat aan kwekerye verskaf word en tot ʼn tonnel vol bonsaiboompies – waar jy by “Jo-Da Bonsais” ʼn kursus om jou eie bonsai te kweek, kan kom neem. Jaco is trots op elke stadsboer wat hier ʼn sukses van sy boerdery maak. Hy herinner almal altyd dat hierdie ʼn langtermyn projek is.

“Jy sit jou geld in die grond, dan kyk jy hoe jou geld groei, daarna oes jy jou geld, hou ʼn bietjie terug en ploeg die res weer terug in die grond. ʼn Boer moet geduld hê, ʼn goeie werksetiek, hope vertroue en liefde vir die grond”, sê Jaco. Daar is baie hande wat geld maak uit die boer se produk. Vandat die boer sy produk van die land afhaal, totdat ons dit in die winkel koop, is daar so ongeveer ses tussengangers wat elk sy deel van die wins neem. Die boer kry maar ʼn fraksie van die wins uit sy verkope. Daarom reken Jaco hy kan sommer dadelik sien of ʼn stadsboer, wat by sy tonnels begin, die pyp sal kan rook.

Uitbreidings

ʼn Wonderlike uitvloeisel van die unieke boerdery, is die Urban Farmers Market, wat een keer ʼn maand op die hoewe gehou word. Daar kan die kleinboere hul organies-gekweekte produkte kom verkoop, sy-aan-sy met tuisgebak en tuisgemaakte items van uitstallers uit die gemeenskap. Dit is ʼn besige mark en trek maklik 500 besoekers per maand.

Jaco en sy vrou, Sandeleen, het self ook ʼn paar tonnels waarin hulle verskillende groentes en blomme verbou, maar sy passie lê by die stadsjapies wat, soos hy, ʼn plekkie gesoek het om die boer in hulle uit te leef. Sy plan is om uit te brei na ander stede om meer toeganklik te wees vir meer stadsboere en hy het reeds sy oog op erwe in Pretoria en Fourways. Jaco is ook die administrateur van ʼn WhatsApp-groep waar ongeveer 130 lede saamgesels oor verskillende aspekte van hul boerdery. Onder andere is daar ʼn agronoom, tuinboukundige, landboukundiges, saad- en organiese kunsmisverskaffers en vele ander wat raad en ondersteuning gee.

Die huurder-boere

(Foto: Daria Shevtsova/Pexels)

Een so ʼn stadsboer, is Esmerelda Maarman van Pretoria wat een van die 50 m tonnels huur en met opgewondenheid haar pienk Egiptiese knoffelplantjies aan my wys. Sy en haar man het ʼn jaar gelede besluit dat hulle, na sy aftrede, graag ʼn boerdery op die been wil bring. Jaco se tonnelboerdery gee hulle presies die geleentheid waarna hulle gesoek het: om solank alles te leer van hulle gekose gewas en met hulp van die hele groep van kleinboere probleme vinnig en effektief op te los. Dié is ʼn gemeenskap wat saamstaan en mekaar ondersteun. Só vertel Esmerelda dat ʼn kleinboer se rooi jalapenos nie aftrek gekry het op die mark nie en hy van sy rissies ontslae geraak het. Sy het dit gemerk en gereken dit is baie geld wat hy so in die water stort – sy sal ʼn sous daarvan maak. Daaruit ontwikkel haar tweede besigheidjie, Cowboy Candy en Jalapino Sauce, so uit die niet.

Azera is nog so ʼn kleinboer wat beweeg het van die tonnels na haar eie stukkie grond, waar sy tans met boerenkool (kale), broccoli, kool en suikerriet boer. Haar verhaal is merkwaardig. Sy het in die algehele inperkingstyd in ʼn diep depressie verval. Nadat sy berading gesoek het, het die berader haar begelei om te besin oor wanneer en waar sy werklik in die verlede gelukkig gevoel het. Azera het besef dat sy op haar ouers se plaas, wanneer sy besig was met die boerdery, werklik gelukkig was. Die berader het haar aangemoedig om ʼn stukkie grond te soek waar sy weer kan begin om iets te plant. So het haar en Jaco se paaie gekruis. Sy het nie weer teruggekyk nie. Sy het Covid opgedoen en byna by die dood omgedraai, maar die gedagte aan haar stukkie tonnelgrond wat wag, het haar aan die lewe gehou. Sy sê dat Jaco ʼn inspirasie is vir vele stadsboere wat ʼn plekkie soek waar hulle hande in die grond kan steek. Sy wil graag ook nou terugploeg in die gemeenskap en het daarom by die organisasie Girl Power South Africa betrokke geraak. Die organisasie beywer hulle vir bemagtiging van jong meisies in die gemeenskap, sodat hulle hul plek kan volstaan in die wêreld. Azera het reeds ʼn eerste groep dogters vir opleiding ontvang. Sy leer hulle die basiese beginsels van groenteverbouing en vertel opgewonde hoe die meisies wat eers gril vir die grond, mettertyd nie genoeg kan kry van die modder nie! Van depressielyer tot Covidpasiënt tot boer tot onderwyser – en Azera se reis is nog nie klaar nie! Sy praat entoesiasties oor haar planne om ʼn groter stukkie grond te bekom, waar sy haar volle gewig kan ingooi om jong dogters touwys te maak aangaande boerdery en hoe om selfversorgend te wees en ook die meisies, wat ʼn liefde vir boerdery toon, verder te help.

Deur Jaco ontmoet ek nog so ʼn onderwyser. Alex McNabb is ʼn boorling uit Egipte en die hoof van Ekurhuleni Agricultural College. Hierdie is ʼn klein kollege in die stad wat jongmense oplei om hulle eie klein boerderye te kan begin. Vakke soos dierproduksie, plantproduksie, landbou-ekonomie en landbou-ingenieurswese word aangebied. Alex het ʼn passie om jongmense weer die beginsels van boerdery te leer en hy is verheug om te sien dat al hoe meer jongmense daarin begin belangstel. Alex vertel met trots dat veral die vroulike geslag uitblink in hul kursusse, wat bestaan uit 30% akademie en 70% praktiese opleiding. ʼn Paar van sy studente het na hulle opleiding beweeg na Jaco se tonnelboerdery en hy hoop dat hulle eendag ook ʼn plasie van hul eie sal bedryf.

My soektog om met ʼn nisboer ʼn onderhoud te voer, het my na Jaco Erasmus, ʼn nisboer van stadsboere, gelei. Hy bestuur reeds 68 van hierdie tonnels, waar kleinboere onder sy hand gedy. Nog meer het aanbeweeg na kleinhoewes en plase van hul eie. Soos ʼn toegewyde boer volg hy sy “produkte” waar hulle ook al gaan en bedien hulle met raad en daad, want dit is sy begeerte om hulle te sien floreer.

Net voor ons groet, gaan wys hy my sy pampoenland, waar hy sy reusepampoen vir die Pampoenfeeskompetisie in Vrede gekweek het. Die stadsboer poseer met trots vir ʼn foto en ons groet met die wense dat hierdie boer se pampoen die prys huis toe sal bring!

Op Jaco se webtuiste, www.urbanfarmersmarket.co.za, lees ek hierdie aanhaling van Paul Pierce raak: “Ubuntu is about a community coming together to help one another”. Dit is baie gepas, want Jaco Erasmus het sy droom om te boer na die mense geneem en baie ander se droom ʼn moontlikheid gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.