Nóg ʼn BCom-graad vir Akademia

akademia

Foto: Reint Dykema

Te midde van afskalings in Afrikaans aan hoëronderwysinstellings elders het Akademia vandeesweek akkreditasie ontvang om ʼn BCom in Finansiële beplanning aan te bied. Hierdie graadkursus word van 2017 aangebied en aansoeke word nou ingewag.

Dié BCom-graad is Akademia se vierde graadprogram. Dit volg op die instelling van BCom (Ondernemingsbestuur) in 2014 en ʼn BCom (Bestuursrekeningkunde) in 2015. Die eerste studente vir die ander nuwe kursus, BCom (Ekonomie en Regte), is vanjaar reeds aanvaar.

Al Akademia se kwalifikasies is behoorlik geakkrediteer volgens dieselfde akkreditasieproses as waaraan alle openbare universiteite se kwalifikasies moet voldoen.

Benewens die vier BCom-grade bied Akademia ook gevorderde diplomas en hoër sertifikate in projekbestuur, rekeningkunde en kantooradministrasie.

Die BCom (Finansiële beplanning) bemagtig die student met ’n begrip van die beginsels van ekonomie, beleggingsbestuur en finansiële beplanning en die vermoë om dié beginsels in die praktyk toe te pas. Dit lê ook die grondslag vir nagraadse spesialisasie op hierdie terreine. Die kursus vir die eerste studiejaar kos R30 050, wat ʼn tabletrekenaar en internettoegang by Akademia se studiesentrums insluit. Studente woon kontaksessies in enige van Akademia se studiesentrums landwyd by.

Klasse word ná kantoorure en op Saterdae aangebied, sodat skoolverlaters reeds tydens hul studie ʼn inkomste kan verdien en werkervaring kan opdoen; en sodat diegene wat reeds werk sonder onderbreking van diens kan studeer.

Akademia ontwikkel tans verdere graadkursusse en aankondigings oor nuwe akkreditasies sal later vanjaar gemaak word.

Besoek Akademia se webtuiste vir besonderhede oor die kursus en inskrywings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

JC ·

Jinne, ek is SO bly!! :-) My hart jubel. Afrikaans gaan van krag tot krag!! Almal ondersteun Akademia! Almal ondersteun Afrikaans! Yippee!!

Therese van Schalkwyk ·

Veels geluk, Akademia! Mag julle van krag tot krag gaan en groot hoogtes bereik in die toekoms. Akademia is sowaar ‘n ligpunt in die swart nag wat vir Afrikaans aangebreek het op universiteitsvlak.

Die feit dat Afrikaanssprekendes van die gróótste verraaiers van ons taal is, is ‘n bitter pil om te sluk. Daar moet beslis ‘n volledige verslag saamgestel word met die name van al die persone wat hul met soveel geesdrif beywer het vir die Val van Afrikaans. Die lys is heeltemal te lank, maar ons weet wie hulle is en ek het meer respek vir Julius Malema, wat vir sy eie mense omgee, as vir hierdie persone.

Alfonso ·

Dit is verstommend! n Eie Afrikaanse universiteit onder ons oë! Bravo!!

Frik ·

Wondelik! A- nou gaan ons AFRIKAANS van krag tot krag! Dit is maar net die begin ! *Akademia bo!

Frik ·

Wondelik! A- nou gaan ons AFRIKAANS van krag tot krag! Dit is maar net die begin ! *Akademia bo!

ZURI ·

My kind swot daar en dit is so professioneel. Na sy eerste klas het hy my gebel en gesê, ma na vannaand is ek regtig trots om ‘n Afrikaner te wees.

leon - Centurion ·

Baie geluk met nuwe graad kursus. Nou ‘n BSc graad asb.

neelsie ·

Nou is die tyd om skouer aan die wiel te sit en die wa deur die drif te kry .
Hierdie is genade van BO.
n Wonderlike uitkoms .
Ondersteun die groep.
Mag dit van krag tot krag gaan en stel julle hoop in ons Vader.
Weet julle sal DIE instelling in ons land word.

hans ·

Vertrou die huidige skenkers aan die Universiteite Pretoria en Stellenbosch gaan nou al hul skenkings aan Akademia oordra.

Hulp aangebied ·

Akademia, nooi oud dosente, ervare mense in die bedryf en ander wat kennis het om by te dra tot julle kursusse, om die inhouyd te ontwikkel ens. Baie mense sal wil help en het die kennis om nog meer kursusse te ontwikkel. Moet nie net geldelike hulp vra nie maar help met kursus inhoud ens. ook.

Izzy ·

So dankbaar dat daar nog ‘n plek is vir ons kinders en klein kinders om te gaan studeer in Afrikaans. Baie dankie aan Solidariteit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.