Nog ʼn ‘droomkamer’ open in pediatriese saal

Die droomkamer in die Charlotte Maxeke-hospitaal. (Foto: Verskaf)

Ouers met kinders wat aan lewensgevaarlike siektes ly en wat hospitale se pediatriese sale moet besoek, hoef nie langer in droewige, beige-kleurige mure vas te staar terwyl hul kroos behandeling kry nie.

Nou is daar helder en kleurryke vertrekke om in te vertoef, met kleure wat hoop inspireer en wat siek kinders steeds die vreugde van kindwees kan laat ervaar. Die eerste Travel Dream Room, ʼn inisiatief van Reach for a Dream en Air Mauritius, is onlangs by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg in gebruik geneem.

Reach for a Dream het reeds in 2018 met die Dream Rooms-inisiatief begin, wat toegewyde ruimtes in hospitale vir kinders en hul gesinne bied. “Vir baie mense dien reis as ontsnapping en as inspirasie. Kinders wat aan lewensgevaarlike siektes ly en behandeling moet ondergaan, vir wie dit nie fisiek moontlik is om te reis nie, moet ook ʼn plek hê om te ontsnap, ʼn plek gevul met hoop, ʼn plek om te droom en geïnspireer te word. Dit is die bedoeling van hierdie Travel Dream Room,” sê Carla da Silva, streekshoofbestuurder vir Suider Afrika en Latyns-Amerika van Air Mauritius.

Air Mauritius het met talle vennote in die reisbedryf hande gevat om dié droomkamers ʼn werklikheid te maak.

Hoewel dit die eerste reisdroomkamer is, het Reach for A Dream reeds agt droomkamers reg oor Suid-Afrika geopen. Dit sluit in Charlotte Maxeke, die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto, die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria, die Donald Gordon Mediese Sentrum, in Johannesburg en die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad.

“Ons droomkamers is gewild by kinders in die hospitale. Ons hoop om 50 droomkamers in hospitale wat kinders met lewensgevaarlike siektes versorg, in te rig,” sê Julia Sotirianakos, die uitvoerende hoof van die Reach for A Dream-stigting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.