Noodverligting op pad na Noord-Kaap

Vir Helpende Hand se span in die Noord-Kaap gaan dit oor die warmte en hartlikheid waarmee hulle oral ontvang word en die voorreg om te kan help. (Foto: Verskaf.)

Die Noord-Kaap word tans platgery om kos uit te deel aan mense en instansies wat groot nood ervaar. Helpende Hand het hierdie uitreikprojek van stapel gestuur omdat hierdie provinsie ʼn dubbele slag ervaar – droogte aan die een kant, en die nasionale inperking aan die ander kant.

Madeleine Swanepoel, assistentstreeksorganiseerder van Helpende Hand in die Noord-Kaap, vertel dat die groep personeellede en vrywilligers nagenoeg 2 000 km oor ʼn tydperk van twee weke gaan aflê om sowat ʼn duisend behoeftige mense te help.

“Hoewel die Noord-Kaap die provinsie met die laagste bevolkingsyfer is, is dit geografies die grootste. Ons het ʼn verpligting teenoor die gemeenskap om te help waar ons kan. Daarom moet ons groot afstande aflê,” sê sy.

Gemiddelde afstande tussen dorpe beloop meer as 100 km. Daar is dus groot logistieke uitdagings verbonde aan hierdie uitreikprojek, met 10,2 ton se kosvoorrade wat geskuif moet word. Die koste beloop duisende rande. “Helpende Hand is baie dankbaar vir ondersteuners, weldoeners en instansies wat help met die vervoer, skenkings en nog meer,” voeg sy by.

Met hierdie besending word tien instansies bygestaan, wat weer aan ongeveer 110 gesinne, asook 284 bejaardes voorsien. Die kosvoorrade is deur Solidariteit se krisisfonds geskenk en sluit gewoonlik droë rantsoene in, soos mieliemeel, koekmeel, rys, stampmielies, blikkieskos en droë bone. Helpende Hand het ook gedurende hierdie tyd vars produkte soos aartappels ontvang en versprei.

Hierdie en ander projekte sou onmoontlik gewees het sonder die ondersteuning en skenkings van die publiek wat tot die krisisfonds bydra, sê Swanepoel.

“Ons gemeenskappe staan saam. Ons besef dat ons mekaar nodig het en nie geïsoleerd kan werk nie. Waar daar dus ʼn gemeenskaplike doel is, kom mense bymekaar en werk saam om diegene in nood te help. Dit is nie in ons aard om te gaan lê nie. Ons beleef uitdagings, maar is nie sonder hoop nie.”

Die beste deel van hierdie uitreikprojek is die warmte en hartlikheid waarmee hulle oral ontvang word, asook die opregte omgee van die wat gee en die dankbaarheid van dié wat ontvang.

Kimberley, Griekwastad, Hopetown, Strydenburg, Britstown, Victoria-Wes, Loxton, Carnarvon en Williston gaan met hierdie uitreikprojek besoek word. Vroeër die jaar is Vaalharts, Warrenton, Christiana, Postmasburg, Douglas, Kuruman en Kathu reeds besoek.

Hul grootste uitdaging is om genoegsame hulpbronne bymekaar te maak om in die aanvraag te voorsien. “Ons besef die nood is enorm. Daar is vele ander gebiede wat nog nie hulp ontvang het nie. Daarom het ons besluit om meer klein verspreidingspunte oor die streek te vestig sodat ons gesinne oor die volgende paar maande vinniger en makliker met kospakkies kan bystaan,” verduidelik Swanepoel.

Die fokus van Helpende Hand is gemeenskapsontwikkeling, dus die verbreking, voorkoming en verligting van Afrikaner-armoede. Waar die groter fokus voor die Covid-19-pandemie op die verbreking en voorkoming van armoede was, is Helpende Hand genoodsaak om gedurende die pandemie te fokus op verligtingsprojekte vir behoeftige mense.

“Armoede het drasties toegeneem weens die droogte én die inperking. Mense was hul inkomste kwyt weens afleggings of salarisbesnoeiings, bejaardes kon nie meer op die finansiële bydraes van familielede staatmaak nie, instansies het swaar gekry omdat hulle nie meer fondsinsamelings kon hou nie. Die behoefte aan hulpverlening het beslis toegeneem.”

Hoewel daar definitief moeilike en uitdagende dae was, is Swanepoel opreg dankbaar aan haar familie, verskeie gemeenskappe, kollegas, vriende, ondersteuners, vrywilligers en instansies wat haar in dié tyd bygestaan het en haar span se hande sterk gemaak het, sodat hulle kan doen wat hulle moet doen. “En bowenal, die Here wat ons krag, vrede en veilige vesting is,” sê sy.

  • As jy ook ʼn verskil wil maak, maak ʼn skenking aan die Solidariteit Beweging se krisisfonds. Lesers kan skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds by Helpendehand.co.za of by Krisisfonds.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Androclus ·

Hulle gaan by al die plekke soos loxton,Williston en Carnavon wat van Fraserburg en Sutherland wat net ‘n klip gooi ver van die bogenoemde plekke is.

Jaco ·

Mag die kosuitdelery gedoen word? Is dit wettig? Dis onlangs nog grootliks verbied om kos aan wit mense uit te deel. Een instansie in Krugersdorp is selfs deur die polisie dopgehou om te verseker dat hulle nie kos uitdeel nie. Maak maar eers seker by ons anti-wit owerhede.
Daars soveel gevalle van 2 stelle reëls in SA: 1 stel vir our people en ‘n ander meer drakoniese stel vir wit mense. Die ANC-regering kan maar net sowel volle apartheid terugbring.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.