Nostalgie herleef in Melville

the-stuff-we-loveDie winkel spreek van nostalgie, kledingstukke met ʼn storie en ʼn geskiedenis. Wie het dié kantbloes gedra? Waar is dit gekoop?

Boheemse Melville, ʼn Johannesburgse buurt, het ʼn ryk geskiedenis van winkels met eksotiese tweedehandse (“vintage”) klere – van Velvet Underground in die jare negentigs tot die kanniedood Reminiscene wat nou nog in 7de Straat pronk.

ʼn Nuwe toevoeging tot dié neiging is The Stuff We Love – waar eienaars en beste vriendinne Gwynne Conlyn en Sue Russel hulle liefde vir dié modes en klere met die publiek deel. “Die klem is op kwaliteit en iets vir elke unieke smaak. Die era van goedkoop massa-produksie kledingstukke is verby,” sê hulle.

“Ons is albei skrywers, dis hoe ons aanvanklik ontmoet het en sedert daardie eerste ontmoeting het ons nooit ophou praat nie,” skerts Gwynne oor ʼn koppie koffie waar sy op die goue fluweelbank in die winkel sit.

“Ons deel ʼn liefde vir vintage klere en ons albei het ʼn onblusbare passie vir reis. Ons vertrek gereeld op ʼn avontuur waar ons ontdek, deel, ervaar en bring dan die mooiste vintage klere en skoene terug.”

Maak enige vrouetydskrif deesdae oop en jy kry vintage – of dit nou in die mode- of dekorblaaie is – die liefde vir ou goed kraai koning. “Mense besef klere is herwinbaar en vintage beloof ʼn ongewone, unieke kledingstuk in jou kas. Die geheim is om iets moderns daarby te kombineer, jy moenie soos ʼn ou vrou lyk nie!”

En wat is Gwynne se gunsteling item in die winkel? Sy knik in die rigting van ʼn lang wit syromp vol blompatrone. “Daardie romp, gemaak van egte sy. As ek daarna kyk sien ek in my geestesoog ʼn toneel wat in ʼn Victoriaanse tuin afspeel: ʼn Jong vrou wat die romp met haar verlowingspartytjie gedra het – sy en haar geliefde omring deur blomme. ʼn Mens ruik selfs die rose.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.