Nostalgie op die jagveld

HelpJag se drie ambassadeurs: Adam Tas, Bakkies Botha en Appel. (Foto: Verskaf)

Deur Margolé Riekert

In die laaste maand van die 2021-jagseisoen oorspoel die nostalgie my as ek oor die afgelope vier jaar van HelpJag se bestaan nadink. Dit voel soos gister toe ek die taak opgelê is om HelpJag in ʼn volhoubare projek te omskep – ʼn inisiatief wat poog om Solidariteit Helpende Hand se Kosblikkie-projek aan te vul. Met hierdie projek poog ons om proteïene in die vorm van wildsvleis deel te maak van ʼn bord kos wat daagliks aan 8 000 behoeftige kleuters voorsien word.

Die tyd het aangebreek vir die jaarlikse HelpJag-jagtog wanneer die HelpJag-familie, waaronder ons bekende ambassadeurs, Bakkies Botha, Adam Tas en Appel, bymekaarkom en daad by woord voeg.

ʼn Hele paar 4×4-bakkies se wiele rol vanuit Pretoria in ʼn noordwestelike rigting. Die eindbestemming is Soetvelde Farms, ʼn uitgestrekte plaas ongeveer 10 km duskant Potchefstroom. Die plaas spog met ʼn verskeidenheid van wild: buffels, koedoes, springbokke en selfs volstruise wat kiertsregop gatskoonmaak wanneer die bakkie en die grondpad een word.

Ons is warm deur Ro’an, eienaar van Meerkat (ʼn aanlyn veilingshuis), Ro’an se gesin, asook Ian Colyn, mede-eienaar van Meerkat en dan ook eienaar van Kooperasie Kroeg & Kos in Potchefstroom, verwelkom. Hierdie jaggeleentheid is met ʼn reuseborgskap deur die twee instansies moontlik gemaak. Die borgskap het gesorg dat 200 proteïenryke etes daagliks vir ʼn maand lank aan behoeftiges voorsien kan word.

Helpende Hand se rose tussen die dorings is Margolé Riekert (links), projekorganiseerder van HelpJag, en René Roux, Helpende Hand se adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie. By hulle is Appel, Bakkies Botha en Adam Tas. (Foto: Verskaf)

Potchefstroom is beslis ʼn gesonde gemeenskap wat weet hoe om saam te staan en saam te werk. Daar is nie geskroom om hulp met onder meer verblyf asook die verwerking en verspreiding van die wildsvleis te voorsien nie. Kraal Luxury Lodge het saam met Soetvelde Farms vir puik akkommodasie en gasvryheid gesorg. SPAR Baillie Park het die wildsvleis verwerk en Kooperasie Kroeg & Kos het gesorg dat almal soos konings eet. “Vir seker ons tipe mense,” soos Bakkies Botha sal sê. Dit was voorwaar vir HelpJag ʼn voorreg om ook in die gemeenskap te kon terugploeg.

Hierdie jaar was die jagtog om verskeie redes baie besonders. Dit is die eerste keer dat al drie ambassadeurs saam op die jagveld was. Die drie het vir eindelose pret en plesier gesorg. Wanneer armoede egter in die visier geplaas word, is alle grappies gestaak. Die kameraadskap tussen die drie ambassadeurs is werklik baie besonders. Elkeen bring sy eie dinamika na die span, maar tog deel hulle die sentiment van teruggee aan die gemeenskap.

Nog opwindende nuus is dat Wild & Jag sy nuwe digitale TV-reeks, HELPJAG/RUN & GUN, bekendgestel het. Die eerste paar episodes wys hoe HelpJag se drie ambassadeurs ʼn verskil maak. Adam Tas gesels lekker en deel sy kennis van die Bosveld met die kykers.

Adam Tas gee ʼn paar wenke vir Margolé Riekert tydens die jagtog. (Foto: Verskaf)

Na twee lang dae in die veld sluit ons die geleentheid met ʼn gesellige braai af. Ons sing, kuier, lag en gesels ure lank oor die uitdagings, maar ook oor die vooruitsigte vir die projek. ʼn Warm gevoel van tevredenheid en dankbaarheid spoel oor my.

Ek kyk terug na die afgelope vier jaar. In dié tyd was daar ʼn toename in die behoefte aan ʼn daaglikse bord kos van 5 000 na 8 000 kleuters. Die pandemie het ons land geruk en verskeie instansies, soos kleuterskole, in ʼn finansiële nagmerrie gedompel. Strenger inperkingsmaatreëls loop parallel met die toename in die hoeveelheid instansies wat op hulp staatmaak.

Ons poog gedurig om die publiek bewus te maak van die groot hongersnood onder ons land se kleuters, en hoe ʼn jagter met ʼn barmhartige hart ʼn bydrae tot liefdadigheid kan lewer. Elke koedoe kan daagliks ongeveer 40 kleuters vir ʼn maand lank voed. Een gemsbok gee daagliks aan 26 kleuters ʼn bord kos vir ʼn hele maand lank. Selfs ʼn springbok kan daagliks 6 kleuters per maand van ʼn gesonde maaltyd voorsien.

Ek maak my oë toe en dink aan die spookasemreuk van ʼn springbok wat pronk en stil-stil sê ek dankie aan ons Hemelse Vader. Dankie vir die voorreg om deel te wees van die verskil. Dankie vir die voorreg om deel te wees van ʼn groter prentjie.

  • Kyk hier gratis na ses episodes van Bakkies, Adam en Appel.
  • Margolé Riekert is die projekorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand se HelpJag-inisiatief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.