Nou kan jy Weet lees én luister

 wouter-weet-opnames.jpg

Wouter hard aan die werk in ateljee.

Weet, die e-naslaangids vir leerders, bied al vir twee jaar relevante en interessante leesstof vir kinders, ouers en onderwysers. Maar nou het jy ook die opsie om na Weet se artikels te luister!

Nou kan jy sommer al op pad huis toe meer te wete kom vir jou skooltaak, of meer leer oor jou gunstelinggeskiedenisonderwerp terwyl jy jou kamer opruim. Jy hoef nie meer stil te sit en lees nie, want op Weet word die interessante inligting nou ook met klank opgeneem en beskikbaar gestel.

Volgens Petronel Fourie, Weet se projekbestuurder, maak die klankopnames dit vir nog meer mense meer gereeld moontlik om hul kennis op te skerp.

Johny Klein (Foto verskaf)

“Eerstens wil ons graag Weet se inhoud vir sig-, leer- en leesgestremde gebruikers toeganklik maak. Daar is regtig min leerhulpmiddels vir hulle beskikbaar. Tweedens kan dit as uitstekende hulpmiddel vir onderwysers dien, omdat hulle die klankgrepe in die klas kan speel wanneer hulle ʼn sekere onderwerp met die leerders behandel. Derdens kan dit tyd spaar vir ouers en kinders wat eerder na inligting wil luister terwyl hulle met ander takies besig is, in plaas daarvan om te gaan sit en lees.”

Die eerste honderd klankopnames is met die stemme van Weet se eie inhoudskoördineerder, Elana Barker, en die stemkunstenaar, akteur en regisseur Johny Klein gedoen. Johny het al rolle in ʼn rits radiodramas vertolk en reeds talle boekvoorlesings gedoen. Vir afwisseling is bykomende professionele stemkunstenaars genader om die volgende honderd artikels voor te lees, waarmee Weet eersdaags wegspring.

“Leer jou kind tans oor klimaat by die skool? Gaan luister bietjie op Weet hoekom ons land ‘sonnige Suid-Afrika’ genoem word,” sê Fourie. “Jy kan ook luister na die interessante feite rondom elektrisiteit en hoe dit die eerste keer opgewek is, of na die artikel oor energie.”

elana-barker.jpg

Elana Barker. (Foto verskaf)

Luister na Weet se artikel oor ekonomie om te hoor watter rol jy in ons land se ekonomie speel, en na die klankgreep oor kinderregte om uit te vind hoe belangrik kinders se regte reg oor die wêreld is.

Stel jy belang in geskiedenis? Nou kan jy na interessante inligting oor die ontdekkers van die vyftiende eeu luister, asook die ontdekking van diamante in Suid-Afrika. Het jy geweet dat die ontdekking van goud kort ná diamante een van die groot oorsake van die Anglo-Boereoorlog was? Luister na Weet se artikel oor die oorlog, en sommer oor die Groot Depressie van die jare dertig ook.

Op Weet kan jy ook gaan luister hoekom die Bybel die grondslag van die Christelike geloof is en die boek waarvan die meeste eksemplare nóg in die geskiedenis gedruk is, en hoekom die Christendom die wêreld se grootste godsdienstige groep is.

“Daar is nog honderde artikels wat jy saam met die klankopnames kan lees om jou

wouter-opname-ateljee-3.jpg

Wouter saam met Elana Barker, Johny Klein en Marius Vermaak, Maroela Media se ateljeebestuurder.

kennis verder uit te brei – artikels wat ook mettertyd in klank omskep gaan word,” verduidelik Fourie.

Weet bied al vir twee jaar lank gratis inligting vir leerders, ouers en onderwysers om hul kennis en begrip van skoolonderwerpe – en soveel meer – uit te brei. Met byna 800 gepubliseerde artikels, geskryf deur gesoute navorsers en skrywers en gemodereer deur kundiges voor publikasie, voorsien Weet goeie gehalte, betroubare inligting in Afrikaans.

Besoek www.weet.co.za om meer te leer en kontak [email protected] vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.