‘Nou kan my seuntjie lééf,’ sê dankbare ma

Caylum Willemse (Foto: Facebook)

Caylum Willemse (Foto: Facebook)

ʼn Bedrag van R7 miljoen het onmoontlik geklink, selfs heeltemal onbereikbaar. Daar was egter geen onderhandeling moontlik nie: dit was ʼn saak van lewe en dood. Nadat dokters in Augustus vir Samantha Willemse gesê het haar sewe maande oue seuntjie met ʼn seldsame geboortedefek gaan nié vir ʼn agtste keer by die dood kan omdraai nie, het sy geweet sy sal met “bloed en sweet” moet veg om hom aan die lewe te hou.

Caylum het in Augustus vanjaar nog net drie weke by die huis deurgebring weens dié seldsame defek. Die gesin is deur diep waters en het al hul “knieë stukkend gebid”.

Hulle moes selfs een keer sélf probeer om hom aan die lewe te hou deur middel van kardiopulmonêre-resussitasie. “Met elke voorval het ons harte as’t ware ook gaan staan wanneer die besef kom: My kind kan vandag sterf,” sê Samantha.

Maar Vrydagoggend kon hulle vir die eerste keer ʼn lig aan die einde van die tonnel sien. Nadat mense van heinde en ver betrokke geraak het om dié gesin met geld by te staan, het hulle ʼn somtotaal van R7,2 miljoen ingesamel.

“Ons moes al soveel keer vir sy lewe smeek. Ek het voorheen gesê hy verdien om te lewe, nes elke ander jong kind wat deur dieselfde moeilike tye gaan. Nou kan hy leef. Danksy mense wat hulle harte oopgemaak het, kry my seun ʼn kans om te lewe,” sê Samantha.

Caylum ly aan die seldsame trageoesofageale fistel (TOF) en esofageale atresie, ʼn toestand wat verband hou met die slukderm wat nie behoorlik met die maag heg voor geboorte nie. Die liggaam probeer dan as’t ware die fout regstel deur ander verbindings te maak. In sy geval het die trachea met die slukderm sowel as die maag geheg.

Sy trachea val ook heeltyd plat en die verbindings wat die trachea gemaak het, veroorsaak dat vloeistof wat hy inkry, soos melk, na sy longe gaan.

Caylum is sedert 20 Maart in die Netcare Clinton Hospitaal in Alberton onder die sorg van dr. Charles Carapinha. Hy is onder spesiale bewaking omdat die trachea enige oomblik kan platval.

Caylum Willemse (Foto: Facebook)

Caylum Willemse (Foto: Facebook)

Sy enigste hoop is ʼn sogenaamde posterieure tracheopeksie-operasie. Dié operasie is nog nooit in Suid-Afrika uitgevoer nie en Caylum moet Boston toe gevlieg word vir die operasie.

“Ons het nie geweet of dit moontlik gaan kan wees om die geld in te samel nie. ʼn Student het haar spaarvarkie vir ons leeggemaak. ʼn Karwag het my op ʼn dag voorgekeer en sy sakke leeggemaak. Dit was R28. Ek het gesê ek kan dit nie aanvaar nie, en hy het gesê hy sal nie kan slaap as hy dit nie vir my gee nie.

“ʼn Pensionaris wat net ʼn staatspensioen kry, het R250 van haar maandelikse geldjies vir my gegee, ʼn student wat besig was om vir ʼn motor te spaar het haar spaargeld van R40 000 net so aan ons oorbetaal en ʼn ouer egpaar het hulle neseier van R100 000 vir ons gegee. Dis roerend. Ek weet nie wat om te sê nie. Mense sê dit altyd, maar dis die waarheid. Ek is dankbaar – aan elke mens en vir die manier waarop hy of sy ons bygestaan het. Aan God vir sy genade.”

Die gesin vertrek die tweede week van November Boston toe vir die operasie.

“Ek wil almal op die hoogte hou. Ek wil vir hulle wys wat hulle gedoen het, dat hulle ʼn jong kind se lewe gered het. Dankie aan almal, ek sal dit nooit vergeet nie.”

Om op hoogte te bly, besoek Caylum se Back-a-buddy skarefinansieringswebwerf.

Besoek ook die Caylum Willemse-stigtingFacebook-blad en YouTube-kanaal vir nuwe inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anoniem ·

Dankie aan Ons Liewe Vader wat sulke mense op jul pad gebrink het om dit vir jul moontlik te maak om kleine Caylum vir die operasie te neem. Kan net vir jul bid dat God deur die dokter sal werk en jul seuntjie gesond sal word. Sterkte vir elkeen van julle…

Philip Koen ·

En voor die mediese wetenskap ‘n oplossing hiervoor gekry het het die Vader maar sulke kinders laat sterf. Die Vader kon ook nie help sonder geld nie.
Ek is baie bly dat daar geld ingesamel is en dat hy moontlik gehwelp kan word.

Adri ·

Sulke naasteliefde gee ‘n mens moed vir ons mense. Ons is so dankbaar saam met die ouers. Maar ek dink tog hulle moet herbsin of hulle die arme bloetjie moet vlieg; sy ou gestelletjie sal dit nooit maak nie. In elk geval het hy nie vlerke nie. Dalk moet hulle hom maar in ‘n vliegtuig laai en die vliegtuig vlieg.

Ruby ·

Alle eer aan God ons Vader.

Mamma, my hart juig saam met julle.

idi ·

Hy is Pragtig !!! Sterkte aan almal betrokke persone mag die operasie ‘n reuse sukses wees.

En dankie aan al die mense wat hulle beursies oop gemaak het.

Candice ·

Dankie Here vir al die goeie mense wat nog oor is in ons land, die ou seuntjie gaan nog diep spore los in die wereld van ons.

Susan Greeff ·

Wat ‘n pragtige storie van omgee! Sterkte aan die familie. Ons weet ons Skepper is almagtig

Amanda ·

Ons as familie kan nie genoeg dankie se vir ellkeen se bydrae en gebede nie.Caylum ons kan nie meer wag dat jy terugkom van Boston dat ons jou net bietjie kan vashou en bederf. Al die eer aan Onse Hemelse Vader.

Victor ·

Alle eer aan die mense en die dokters wat die seuntjie nou gaan help

Kleintjie ·

Alle eer a an God wat deur die mense en dokters werk om hierdie seuntjie te help.

Jean ·

Dis die mooiste ou seuntjie, ek is so dankbaar hy kry ‘n kans op die lewe. BAIE dankie aan al die weldoeners en skenkers, dit is ‘n fantastiese daad wat julle verrig het, van die R28 tot die miljoene wat geskenk is, elke bietjie help om hierdie seuntjie ‘n normale lewe te gee. FANTASTIES . mooi positiewe storie vir vandag. Baie sterkte vir Caylum en sy ouers . .julle gaan wen .. hy is in God se hande.

neelsie ·

As ons sulke hartroerende verhale lees besef ons hoe bevoorreg baie gesonde kinders is en tog word dit soms nie waardeer nie.
Ons God is ons Almagtige Vader en Genadige Voorsiener . Alle eer aan Hom!

Marietjie ·

Die klippe in die pad is uitgesorteer. Die maklike en uitvoerbare deel lê nou voor. God hou hierdie kindjie se hand vas met alles wat vir hom voorlê. Baie sterkte aan julle almal – daar is awesome mense daar buite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.