Nuusleser Elsa gereed vir nuwe uitdagings

Elsa Esterhuizen, die borrelende donkerkop wat graag en maklik lag. (Foto: Jislaaik-JA! Photography)

Die afgelope sewe jaar dek Suid-Afrikaners soggens vir Elsa Esterhuizen en die res van die Die GROOT Ontbyt-span ʼn plek aan hulle ontbyttafels. Elsa sʼn sal egter van vroeg April af leeg wees, wanneer sy dié ontbytprogram en GROOTplaas vaarwel roep.

Dié borrelende donkerkop het onlangs in ʼn onderhoud met Maroela Media verklap dat sy steeds nie gekondisioneerd is om soggens douvoordag uit die vere te wees nie.

“Ek is van mening ʼn mens raak dit nie gewoond nie, maar ek dink wel ʼn mens aanvaar dit naderhand.”

Haar wekker gaan weeksdae skuins voor 03:00 af en sowat 10 minute later bel haar pa om seker te maak dat sy wel wakker is.

“Dit is geen geheim dat my pa nog steeds soggens klokslag bel om seker te maak ek verslaap nie,” sê Elsa.

Net na sy oproep staan Elsa op en begin regmaak. Daar is nie stiliste op Die GROOT Ontbyt-stel wat hulle hare en grimering doen nie; so dié doen sy soggens self.

“Ek doen dit alles by die huis, maar ek is darem bevoorreg om ʼn fantastiese haarstilis te hê wat geen probleem daarmee het om elke oggend om en by half vyf my hare te doen nie.”

Elsa Esterhuizen in ‘Die GROOT Ontbyt’-ateljee. (Foto: Verskaf)

Elsa het in 2013 as omroeper by GROOTfm 90.5 aangesluit en in 2015 as nuusleser en aktualiteitsaanbieder by die Die GROOT Ontbyt begin. Sy is ook vanaf 2016 die anker van GROOTplaas, ʼn landbouprogram wat voor Die GROOT Ontbyt uitgesaai word.

Op die einste stoel waar sy gewoonlik in die ateljee sit en onderhoude voer, sit Elsa nou en gesels oor haarself: hoogtepunte, flaters en uitdagings van Die GROOT Ontbyt, asook oor familie, vriende, drome en haar nuutgevonde belangstelling in Formule Een.

“Hoewel ek waarskynlik voorheen al Formule Een gekyk het, het die F1-gogga my verlede jaar eers gebyt,” sê Elsa. Sy meen dit het dalk met Netflix se Drive to survive-dokumentêr te doen wat ʼn kykie gee van hoe dinge agter die skerms werk.

Tog is dit die strategiese aard van die motorsport wat haar vasgenael hou.

“Daardie absolute beplanning van hoe en watter bande gebruik moet word, tot by die motor se samestelling en ingesteldheid van die renjaers. Dit is geweldig opwindend, veral om te sien hoe dinge in ʼn kwessie van sekondes kan verander.”

Dan is daar ook Elsa se liefde vir videospeletjies, en veral die soort waar “karretjies teen mekaar meeding”.

“Ek weet nie presies waarom ek dit so geniet nie, maar miskien is dit my liefde vir spoed (weliswaar een van my swakpunte), en dan natuurlik die adrenalien wat daarmee gepaardgaan.

“ʼn Mens kan nie eintlik sê dat dit ʼn wonderlike manier is om te ontspan nie, want dit raak so kompeterend. Jy wil wen en eerste wees. Die oorwinning agterna en om te kyk of jy voortdurend jou vaardigheid kan verbeter, is wat hierdie soort speletjies vir my so ʼn lekker tydverdryf maak.”

Elsa Esterhuizen sal onderhoude met nuuspersoonlikhede soos Freek Robinson altyd onthou. (Foto: Verskaf)

Elsa reken dit hou ook verband met ambisie, wat sy as een van haar karaktereienskappe uitsonder, en die feit dat ʼn mens wil presteer, verbeter en die beste weergawe van jouself te wil wees.

“Dit is vir my baie belangrik om nie te stagneer nie en die heeltyd aan te hou groei. Jy bereik net ʼn punt waar jy weet wanneer dit tyd is om aan te beweeg.”

Haar besluit om Die GROOT Ontbyt na sewe jaar te groet was allermins ʼn impulsiewe een, sê Elsa. Soos met enige ander oorweging het sy eers met familie en vriende gesels.

Daar is ʼn hegte band tussen Elsa, haar ouers, sussie en ouma. Sy noem hulle haar “binnekring”: die mense wat sy vertrou, by wie sy ten volle haarself kan wees en wat haar klankbord vir groot besluite is.

“Hulle lê my geweldig na aan die hart, en ek weet nie hoe om genoeg dankie te sê vir daardie ondersteuning van hulle kant af nie.”

Net so sal Elsa ewig dankbaar wees vir die leerskool wat Die GROOT Ontbyt en GROOTplaas vir haar gebied het. Tog is die tyd nou reg vir haar om ʼn nuwe koers in te slaan.

Wanneer ʼn mens vir Elsa pols oor hoogtepunte, flaters en uitdagings kom die antwoord byna onmiddellik: “Daar is so baie herinneringe. Ek dink dit is moeilik om alles in ʼn neutedop op te som.”

Sy dink aan die voorbereidingsproses, navorsing wat sy self gedoen het, en grappe, of eerder lagsessies, op stel.

“Ek lag baie maklik en wanneer iemand voor ʼn kamera inloop terwyl ek nuus lees of ernstig moet wees, het dit dikwels in ʼn volskaalse lagsessie ontaard. Dan was daar soms geen ander uitweg as om na ʼn advertensiebreuk oor te gaan nie,” vertel sy laggend.

“ʼn Mens dink ook aan al die flaters, en hoe ʼn mens soms op jou voete moes dink wanneer tegniese foute ingeglip het (dit gebeur, eintlik daagliks!), en jy net moet maak of alles onder beheer is.”

Elsa Esterhuizen sal onderhoude met nuuspersoonlikhede soos Suzaan Steyn altyd onthou. (Foto: Verskaf)

Daar is ʼn hele paar gaste wat vir haar uitstaan, veral die onderhoude met nuuspersoonlikhede soos Riaan Cruywagen, Waldimar Pelser, Suzaan Steyn en Freek Robinson. Ook die dag toe Elandré haar regstreeks in die ateljee kom verras het: “Ek kan nie onthou wanneer laas ek so starstruck was nie!”

“As ek dit moet opsom, sal ek die woord ‘voorreg’ gebruik: Om vir soveel oggende so vroeg op te staan, al daardie dinge te kon beleef en mense ingelig te hou,” sê sy.

Elsa is dankbaar vir die ondersteuning van kykers wat getrou inskakel. “Dit is wonderlik om te weet dat mense my soggens so in hulle huise verwelkom en dat ek hulle op hierdie manier ingelig kan hou.”

Wat kykers egter dalk nié van Elsa weet nie, is dat sy eintlik ʼn introvert is.

“Daar is ʼn wanindruk dat enigiemand wat aanbied of toneel speel ekstroverte moet wees. Ek dink mense is soms dalk effens geskok wanneer hulle agterkom dat daardie persoon skaam of teruggetrokke is.”

Nietemin het sy dit nog altyd waardeer dat kykers haar nader en geselsies aanknoop, al kom dit nie natuurlik om oor ditjies en datjies te praat nie. “Dit is in daardie oomblik vir my ongemaklik en ʼn uitdaging om die sogenaamde small talk te maak. Ek is in daardie opsig eintlik nogal skaam.”

Sy sê verder dat party mense ook gewoonlik sonder om te skroom insette oor Die GROOT Ontbyt lewer, maar dat dit ook goed is om terugvoering van die kykers af te kry.

Vir eers sal Elsa haarself met ʼn paar vryskuttake besighou totdat die volgende deur oopgaan. Intussen lê haar lys met loopbaandrome nie te ver weggepak nie, want dit bly op ʼn manier steeds haar rigtingwyser vir die toekoms.

“Ek sal nie omgee om in die aande te werk nie omdat ek eintlik ʼn naguil is. Nog iets wat ek sal geniet is om ʼn aktualiteitsprogram aan te bied waar ʼn mens met nuusgebeure te doen kry en self navorsing doen. Dit bly maar my groot droom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Roek

Klas kan ‘n mens eenvoudig nie koop nie en sy het Claaass!

AmY

Een van die bestes in die land!