Die splinternuwe Afrikaanse bordspel, BogWoordKies, is nommerpas vir gesinne wat smag na saamspeel sonder die gebruik van ʼn skerm.
“BogWoordKies is op 20 Mei 2016 in ons motor op pad na Hermanus gebore en is gegrond op ʼn speletjie wat ons jare gelede op die plaas gespeel het,” het Bert van den Heever, medeontwerper van dié bordspel, gesê.
Die “kies” in BogWoordKies is nie ʼn spelfout nie, maar dit verwys eerder na die slagspreuk “tong-in-die-kies”. Die bordspel is hoofsaaklik vir pret ontwikkel, maar dit help ook Afrikaanssprekendes om
die taal beter te leer ken.
Bert van den Heever, ʼn bourekenaar, en sy vrou, Laetitia, ʼn voormalige voorskoolse onderwyseres, moes gedurende die ontwerp van BogWoordKies 1 000 woorde soek wat nie algemeen bekend is nie. Gedurende hierdie proses – wat twee jaar geneem het – het hulle ook die bord vyf keer herontwerp, gegrond op terugvoer van familie en vriende wat die speletjie help toets het.
Die spel word gespeel met Woordkaarte of Vat-ʼn-Kans-kaarte. Spelers probeer om eerste by die wenpunt te kom deur gebruik te maak van bluf, mimiek, tekeninge, algemene kennis of pure geluk. Daar is ook plekke op die bord waar spelers ʼn boete of bonus ontvang, sou hulle daarop beland.
Volgens Van den Heever kan BogWoordKies maklik gesien word as ʼn kombinasie van Balderdash, Trivial Pursuit en Pictionary. Die hele idee van die speletjie kom egter uit die 17de eeu.
“Dit was iets wat ons op die plaas gespeel het rondom die kombuistafel by ʼn olielampie,” onthou Van den Heever. “Toe was dit maar net met die gebruik van ʼn woordeboek, pen en papier, maar die hoeveelheid pret en skaterlag was dieselfde,” het hy gesê.
Die bordspel is beskikbaar by www.bogwoordkies.co.za
Dit klink heel oulik en belowend!