Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling nou beskikbaar

Die Bybel: 2020-vertaling (Foto: Verskaf)

Ná sowat 15 jaar lange werk deur meer as 170 medewerkers is ʼn nuwe Afrikaanse Bybelvertaling, Die Bybel: 2020-vertaling, nou beskikbaar.

“Die Bybelgenootskap is baie dankbaar dat dit in ons 200ste bestaansjaar, en ten spyte van ʼn wêreldpandemie, tog moontlik is om ʼn nuwe vertaling van die Bybel bekend te stel en só ook ʼn bydrae tot die Afrikaanse taal te maak,” sê ds. Dirk Gevers, uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Die nuwe Bybel word Sondag 29 November tydens ʼn spesiale toewydingsgeleentheid in die Kopanong-kerk in Bloemfontein bekendgestel. ʼn Aantal vertalers, kerk- en Bybelgenootskapleiers sal onder streng Covid-19-regulasies vir dié geleentheid byeenkom. Prof. Bernard Combrink, die projekleier, sal die diens waarneem en dit sal regstreeks op die Bybelgenootskap se YouTube-kanaal en op die Facebook-blad uitgesaai word.

Die Bybelvertalingsprojek het in 2006 begin op versoek van kerke wat die Bybel in Afrikaans gebruik. Die span medewerkers bestaan uit brontaalkenners (Hebreeus, Aramees en Grieks), teoloë, Afrikaanse letterkundiges, taalkundiges en vertaalkundiges. Sowat 43 vroue was op die een of ander manier deel van die medewerkerspan – heelwat meer as die geval met die 1983-vertaling.

Dit is ook die eerste keer dat feitlik alle kerke wat die Bybel in Afrikaans gebruik, by ʼn Bybelvertaling in Afrikaans betrokke is.

Die vertaalopdrag was onder meer dat die vertaling ʼn getroue weergawe van die betekenis van die bronteks moet wees, terwyl die beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks sover moontlik behou word. Die vertaling moes van hoë letterkundige gehalte, goed verstaanbaar en in goeie Afrikaans wees.

Drie weergawes van Die Bybel: 2020-vertaling is in verskeie bindstyle beskikbaar: die Bybel wat die Ou en Nuwe Testament insluit, die Bybel met Deuterokanonieke boeke, asook ʼn hoofletter-uitgawe met bepaalde woorde in die Ou Testament in hoofletters gedruk. Laasgenoemde is op versoek van spesifieke kerke voorberei.

Besoek gerus die Bybelgenootskap se webwerf vir pryse en aanlyn bestellings. Die Bybel: 2020-vertaling is ook aanlyn beskikbaar by www.biblesa.co.za en op die BibleSA-app.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.