Nuwe Aros-rektor ingehuldig, wil ‘draer van lig’ wees

Prof. Kobus Mentz is as die nuwe rektor van Aros ingehuldig. (Foto: verskaf)

Die Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) se nuwe rektor, prof. Kobus Mentz, is Donderdag by die Kandelaar Gereformeerde Kerk in Waverley, Pretoria, ingehuldig.

“As draers van lig wil ons personeel studente toerus om ligdraers te wees, ongeag die omgewing waarin hulle hulself bevind,” het Mentz tydens die geleentheid gesê.

Mentz het op 1 Junie vanjaar die leisels oorgeneem by prof. Rikus Fick, wat vir die afgelope vier jaar as rektor by Aros gedien het. Mentz wil voortbou op die grondslag van Christelike onderwys wat die afgelope paar jaar by Aros gelê is.

Sy skoonseun, ds. Josef Hibbert, het die skriflesing en gebed tydens die funksie behartig, terwyl talle belanghebbendes die geleentheid bygewoon het en groetboodskappe gelewer het.

Verteenwoordigers van die Aros-raad, -personeel en -studenteraad het Mentz sterkte toegewens vir die toekoms as rektor van dié private hoëronderwysinstelling.

Prof. Gerrit Smit, rektor van die Afrikaanse Protestantse Akademie, Liana van Rooy, registrateur by Akademia, en Jan Drijfhout, verteenwoordiger van die lede en ondersteuningsgemeenskap van Aros, het ook tydens die geleentheid toesprake gelewer.

Mentz se vrou, Elsa, het die geleentheid saam met haar man gevier, en twee van hul drie kinders en hul gesinne het die verrigtinge bygewoon.

Hy het ook dankbaarheid uitgespreek teenoor sy voormalige Noordwes-Universiteit-kollegas en -rolmodelle vir hul impak op sy loopbaan en teenwoordigheid by die funksie.

Mentz het benadruk dat die teenwoordigheid van die Christelike geloof in Aros se kursusse een van sy grootste prioriteite is, en dat hy daardie verantwoordelikheid in ʼn baie ernstige lig beskou.

Mentz het sy loopbaan as wiskunde-onderwyser begin, en was sedert 1985 as dosent en navorser verbonde aan die destydse Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) en later die Noordwes Universiteit (NWU).

Hy het ’n meestersgraad in onderwys aan die Universiteit van Johannesburg (toe RAU) behaal, en voltooi later ook sy PhD in vergelykende opvoedkunde en onderwysbestuur aan die PU vir CHO.

Volgens Aros was Mentz oor baie jare op verskeie maniere betrokke by die bevordering van Christelike onderwys. Hy het ook verskeie termyne as voorsitter van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika se Deputate Christelike Onderwys gedien.

Hy het tydens sy dienstyd aan die PU vir CHO en NWU bande met buitelandse Christelike universiteite en kolleges gesmee, en tientalle meesters- en doktorale studente het onder sy leiding hulle kwalifikasies behaal.

Voorts het hy as erkende navorser op sy vakgebied, nasionaal en internasionaal, referate by konferensies gelewer. Mentz het ook ’n toekenning vir voortreflike onderrig by PU vir CHO ontvang.

As ouer dien hy ook vir 20 jaar as voorsitter van die beheerliggame van drie skole in Potchefstroom, en by twee geleenthede word hy deur die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) versoek om as gasspreker by die jaarlikse hoofde-simposium op te tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Wat van regstellende aksie en BEE? Ek vra maar net. In dié simpel anti-wit SA moet wit mense mos altyd eers toestemming vra en seker maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.