Nuwe Barbie deur Olimpiese atleet geïnspireer

Ibtihaj Muhammad en die nuwe Barbie (Foto: Instagram)

Die Amerikaanse speelgoedvervaardiger Mattel het vandeesweek sy splinternuwe Barbie bekend gestel wat geïnspireer is deur Ibtihaj Muhammad.

Muhammad is die bekende skermmeester wat die eerste Amerikaanse vrou geword het om met ʼn hijab aan die Olimpiese Spele deel te neem.

Mattel het vandeesweek gesê dié Barbie-weergawe sal van volgende jaar af in winkels te koop wees.

Die Barbie is deel van die maatskappy se speelgoedreeks wat vroue wat “grense verskuif” wil vereer. Speelgoedpoppe is ook al opgedra aan die gimnas Gabby Douglas en die regisseuse van die baanbrekersfliek Selma, Ava DuVernay.

Muhammad het op sosiale media gesê sy voel geëerd dat die maatskappy dié speelding aan haar opgedra het en dat hulle só grense verskuif.

“Ek is dankbaar om die jongste lid in die Barbie-familie te wees,” het sy op Instagram geskryf. “Die Barbie Shero-program erken vroue wat grense verskuif en ʼn volgende generasie jong vroue inspireer. Ek is dankbaar om deel van dié projek te wees. Ek is trots daarop dat jong meisies oor die wêreld nou met ʼn Barbie kan speel wat ʼn hijab dra.”

Muhammad het ʼn bronsmedalje gewen in die skermsport tydens die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro. Sy is ook ʼn sportambassadeur en lid van talle programme wat vroue en jong meisies bemagtig.

Muhammad se Barbie-weergawe tussen twee ander weergawes (Foto: Instagram)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.