Nuwe beweging vier ‘voluit vrouwees’

1) Elmé Churr en CheraLee tree tydens die bekendstelling van Vroue in Beweging op. (Foto verskaf)

“Gesonde vroue skep gesonde gesinne wat weer gesonde gemeenskappe vorm.”

Só sê René Roux, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, wat namens die Solidariteit Beweging Woensdag op Vrouedag die Vroue in Beweging-inisiatief van stapel gestuur het. Die inisiatief is by die AfriForum Teater in Pretoria bekendgestel tydens ‘n glansgeleentheid wat deur meer as 300 vroue bygewoon is.

Roux, wat ook as voorsitter van die Vroue in Beweging dien, sê dié inisiatief het ontstaan uit Helpende Hand se FroueVonds (met opset verkeerd gespel, want hul leuse is “Alles loop nie altyd reg nie”), maar gaan met behulp van die groter Solidariteit Beweging poog om vroue te bemagtig. Die doel is om na elke vrou se welstand, opleiding en werk om te sien sodat sy “voluit vrou” kan wees.

“Vroue is die hartklop van ons samelewing. Daar is egter dikwels fisiese, emosionele en geestelike struikelblokke wat hulle daarvan weerhou om voluit vrou te wees. Die Vroue in Beweging wil dié struikelblokke oorkom en vroue bemagtig om gesond in die samelewing te kan funksioneer,” sê Roux.

Volgens Roux gaan die Vroue in Beweging sy doel nastreef deur 17 van die Solidariteit Beweging se instellings te mobiliseer. Hulle gaan ook kragte met verskeie ander vennote saamsnoer om vroue te bemagtig om sterker na vore te tree.

2) René Roux by die bekendstelling van Vroue in Beweging. (Foto verskaf)

“Die strategie wat ons gebruik om die Vroue in Beweging as inisiatief van stapel te stuur, is om ‘n bietjie kapasiteit, talente, hulpbronne en vaardighede van elkeen van ons vennote en die ander instellings te ontgin. So vat ons hande en maak mekaar sterker.”

Vroue in Beweging gaan die volgende twee jaar veral fokus op vroue se geloof, werk en werkplek, geskiedenis, kultuur, opleiding, holistiese welstand, mentorskap, en netwerke en vennootskappe.

“Helpende Hand se bestaansrede is om volhoubare voorspoed te verseker, nie net vir lede van die Solidariteit Beweging nie, maar vir die Afrikaner in die algemeen. Ons kry dít reg deur gemeenskappe op maatskaplike gebiede te ontwikkel. Dit is teen hierdie agtergrond wat die Vroue in Beweging in die lewe geroep is om na vroue se welstand om te sien deur te verseker dat hulle opgehef word en ook in hul werkplekke ontwikkel,” voeg Roux by.

Vir meer inligting oor die inisiatief of om dit te ondersteun, besoek www.vroueinbeweging.co.za.

Die sangers en liedjieskrywers Carma, CheraLee en Elmé Churr het ‘n lied “Blom in Sy wese” neergepen om nie net vrouwees te vier nie, maar ook om “Vroue in Beweging”, ʼn nuwe inisiatief van Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds (wat met opset verkeerd gespel word) se bekendstelling af te skop. Lees en luister na Maroela Media se onderhoud met dié sangers hier en kyk na “Blom in Sy wese” se musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wikkie ·

Ek is ‘n man, maar ek LOVE hierdie lied deur Cheralee, Elmé en Carma. Absoluut puik. Die lirieke is pragtig poëties geskryf, met lekker diep en treffende betekenis. En dan harmonise die drie se stemme absoluut fantasties saam. Daarby, sou ek lus voel vir sokkie, kan hierdie song baie geod daarvoor ook werk. En laastens, dis vir ‘n goeie doel geskryf en opgevoer. Well done!

Patch ·

Ek het die geleentheid bygewoon en dit was die moeite werd en baie goed beplan. Talana Kuhn wat as gasspreker opgetree het was uitstekend en ek het nuwe respek vir haar, na sy haar lewensreis met ons gedeel het. Cheralee, Elmé en Carma se optredes was uit die boonste rakke. Baie dankie aan die FroueVonds en Solidariteit Beweging.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.