Nuwe brandweerwa vernoem na seuntjie wat in Knysna-brand sterf

Die brandweerwa wat aan die Knysna-brandweerstasie geskenk is (Foto: Twitter via @JacarandaFM)

ʼn Brandweerwa wat Woensdagoggend ná die Knysna-brande vroeër vanjaar aan dié Wes-Kaapse dorpie geskenk is, is na die jong Michael Johnston vernoem wat in Junie saam met sy ouers in dié verwoestende brande gesterf het.

Maroela Media het vroeër berig Michael en sy ouers, Tony en Madré, is oorlede nadat hulle vermoedelik van die brand probeer vlug het, maar deur die vlamme oorval is. Die gesin se huis en voertuie is ook in die vlamme verwoes.

As deel van JacarandaFM se Good Morning Angels-program het Marcé Fire Fighting Technology vroeër vanjaar ingestem om ʼn spesiaal-ontwerpte brandweerwa ter waarde van meer as R1 miljoen te bou om aan die gemeenskap van Knysna te skenk. Dié voertuig is Woensdagoggend ná 18 ure op die pad by die Knysna-brandweerstasie deur ʼn weldoener afgelewer.

Die brandweerwa wat aan die Knysna-brandweerstasie geskenk is (Foto: Twitter via @JacarandaFM)

Luisteraars het Woensdagoggend die geleentheid gehad om die ateljee te bel met voorstelle vir ʼn naam vir dié brandweerwa. Clinton Manual van dié brandweerstasie het egter voorgestel dat die voertuig “Mickey J” genoem word om só die nalatenskap van die jong seun en sy ouers te eer.

“Daar was niks wat ons vir hulle kon doen nie. Dis hartverskeurend dat hulle hul lewens op so ’n jong ouderdom verloor het – veral die jong Michael. Met die naam van die brandweerwa wil ons altyd onthou wat die brand gedoen het.

“Die naam is ter ere aan hom en sy gesin. Ons weet nie wat sý toekoms sou gewees het nie, maar ons weet wat die toekoms van die brandweerwa gaan wees. Dis net toepaslik om die voertuig na hom te vernoem,” het Manual Woensdag aan JacarandaFM vertel.

Meer as R200 000 in bykomende skenkings is ook aan ander fondse gemaak om verder met nuwe brandweeruniforms en die dienste van die nuwe brandweerwa te help.

Vir meer inligting, besoek JacarandaFM se webwerf.

Tony, Madré en Michael Johnston. Foto: Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aubrey Vermaak ·

Dis nou die beste nuus wat ek in n langtyd gelees het. Net jammer dat toe die brande daar was , was daar nie so n brandweer om te help nie. Nou is so baie lewens verwoes. Hoop hy word net gereeld gediens en mooi opgepas.

Heleen ·

Ek kry skoon hoendervleis oor hierdie berig. Mag die Mickey J nog jare se goeie werk vir die pragtige Knysna doen.

Wilma Kleynhans ·

Ek is soo bly hieroor, ek het direk na die berig geplaas is dit voorgestel en ek is soo bly dat dit toe so gebeur het!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.