Nuwe BSc-kwalifikasie by Akademia aangebied

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, en prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, klink ʼn glasie op die fakulteit en splinternuwe kwalifikasie vir 2023, BSc (Rekenaarwetenskappe) (Foto: Akademia)

Akademia het Donderdag amptelik die instelling se Fakulteit Natuurwetenskappe tydens ʼn spoggeleentheid by die WNNR in Pretoria bekendgestel. Die instelling het, tesame met die bekendstelling van die fakulteit, die nuus aangekondig dat daar ʼn splinternuwe kwalifikasie, BSc (Rekenaarwetenskappe), vanaf 2023 via die voltydse kontakmodel by die Centurion-kampus aangebied gaan word.

Die instelling bied reeds vanaf 2021 BSc (Wiskundige Wetenskappe) suksesvol onder die vaandel van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan. Die toevoeging van die nuwe kwalifikasie in rekenaarwetenskappe bied nou ook ʼn besonderse geleentheid vir studente wat hulself as gekwalifiseerde rekenaarwetenskaplikes wil bekwaam.

Volgens prof. Hannes Rautenbach, dekaan van dié fakulteit, word die natuurwetenskappe tradisioneel en alombekend beskou as ʼn integrale deel van die universiteitswese. Dit is daarom belangrik dat dit ook deel van Akademia se ekosisteem vorm.

“Die nuwe fakulteit bied vir ons die geleentheid om nuut en innoverend te dink oor die vestiging en ontwikkeling van nuwe kwalifikasies en streef ons daarna om ʼn uitnemende fakulteit vir die Afrikaanssprekende natuurwetenskapgemeenskap in ons Afrika-tuiste te wees,” het Rautenbach gesê.

Hy noem verder dat daar wyd gekonsulteer word met die bedryf, akademici en vakkundiges. Dit is om te verseker dat die fakulteit se kwalifikasies nie net op ʼn hoë standaard onderrig word, maar dat dit ook goed vergelyk, indien nie beter is nie, as soortgelyke bestaande kwalifikasies in die mark.

Die Fakulteit Natuurwetenskappe is ook uniek weens die voorreg wat die dosente en studente het om hul vakkennis in Afrikaans uit te bou. Nog ʼn uniekheid is die tweeledige aanslag in die leerproses. Die fakulteit strewe daarna om studente beide uitnemend teoreties te onderrig, sowel as om studente se karakters te vorm in die beoefening van die natuurwetenskappe.

Rautenbach noem dat ʼn persoon vir die volgende twee redes ʼn kwalifikasie in die Natuurwetenskappe moet oorweeg: “Eerstens ʼn liefde vir die natuur en die groter Skepping en tweedens die strewe om kennis oor die natuur te benut tot voordeel van die mens se lewensgehalte.”

Hy vertel verder dat indien enige van hierdie aspekte by ʼn persoon aanklank vind, die natuurwetenskappe ʼn goeie loopbaankeuse sal wees.

Akademia se BSc (Rekenaarwetenskappe)-kwalifikasie skakel by die snel ontwikkelende veld van die rekenaartegnologie en -kapasiteit in. Volgens Rautenbach kan rekenaarwetenskappe gedefinieer word as ʼn wetenskap wat gemoeid is met die gebruik van wiskunde en algoritmes, en om laasgenoemde deur middel van rekenaars te doen. “Dit omsluit die verstaan van die teorie en abstrakte konsepte rakende probleemoplossing en berekening, en die ontwikkeling en gebruik van rekenaarkode en programmeringsvaardighede om probleme mee op te los en om berekening mee te doen.”

Rautenbach noem verder dat daar in dié kwalifikasie klem gelê word op die fundamentele boustene van die rekenaarwetenskappe, die grondbeginsels van algoritme-ontwikkeling en objekgeoriënteerde programmering. “As uitsetkwalifikasie behoort die program aanleiding te gee tot ʼn persoon wat goed ingelig is oor die fundamentele aspekte van die rekenaarwetenskappe, en wat daarom ook gereed sal wees om sy/haar skoene vol te staan in ʼn beroep in die rekenaarwêreld.”

Om in aanmerking te kom vir toelating tot Akademia se BSc (Rekenaarwetenskappe)-program word ʼn Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) met endossement vir toelating tot graadstudies met ʼn minimum van 50% vir Afrikaans en 60% vir Wiskunde vereis. Aansoeke vir die studierigting in 2023 is reeds oop.

Die nuwe fakulteit het groot planne vir die toekoms wat verskeie kwalifikasies in die fisiese wetenskappe (fisika en chemie), biologiese wetenskappe (plant- en dierkunde asook molekulêre selbiologie), sowel as in die geïntegreerde natuurwetenskappe soos landbou- en aardwetenskappe insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.