Nuwe Choc-veldtog laat die tone wikkel

Choc is ʼn internasionaal geregistreerde, nie-winsgewende organisasie wat fokus op ondersteuning van kinders, en hul families, wat ʼn stryd voer teen kanker of ander lewensbedreigende, bloedverwante siektes.

“Plakkies is byna ʼn voorvereiste in enige Suid-Afrikaner se klerekas,” meen Carl Queiros, uitvoerende hoof van Choc. Die publiek word dus genooi om [op 14 Februarie] hul tone ʼn blaaskans te gee en eerder sandale of plakkies, in stede van skoene, werk toe te dra.

Queiros gee te kenne dat die pad wat kinders en tieners met kanker moet loop, hoegenaamd nie ʼn maklike een is nie.

“Om ʼn gebeurtenis soos Flip Flop-dag te skep wat jaarliks geld insamel vir die bewusmaking van kanker by kinders, is beslis ʼn hoogtepunt wat gevier moet word. Ons hoop dat die publiek op dié dag hul plakkies met oorgawe sal dra.”

Die veldtog word deur PNA, een van Suid-Afrika se grootste en suksesvolste kuns- en skryfbehoeftewinkels, ondersteun.

“Die publiek kan by enige PNA-winkel ’n Flip Flop-dag-plakker teen R10 koop,” sê Taryn Seegers, woordvoerder van die Choc-stigting. Plakkers kan ook by die naaste Choc-streekkantoor verkry word.

“Die meeste van ons sal dalk nooit in die skoene van diegene wat teen kinderkanker veg kan loop nie,” sê Seegers. “Maar ons kan sekerlik één dag in ʼn paar flip flops (plakkies) loop om hulle te wys dat ons nooit sal terugstaan in die stryd teen kinderkanker nie.”

Besoek Choc se webwerf vir meer inligting oor die veldtog en waar om jou naaste streekkantoor op te spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarita ·

Ek het my 4 plakkies sleutelhouers gekoop en ek dink dit is n briljante idee.
Sterkte aan die kiddies en ook die ouers wat die stryd voer teen kanker. bly in ons gebede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.