Nuwe direkteur aan stuur van ATKV-skryfskool

Prof. Thys Human, die nuwe direkteur van die ATKV-skryfskool by die NWU. (Foto: ATKV-skryfskool/ Facebook).

Die ATKV-skryfskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs bekend gemaak dat prof. Thys Human vanjaar die simboliese fakkel by prof. Bernard Odendaal as direkteur oorneem.

Human laai ’n nuwe hoop hooi op sy vurk, aangesien hy steeds gaan dien as professor in die vakgroep Afrikaans en Nederlands aan die NWU se Potchefstroomkampus.

Hy is egter baie opgewonde oor die nuwe geleenthede en uitdagings wat oor sy pad gaan kom.

“Ek het groot skoene om vol te staan. My twee voorgangers het regtig uitstekende werk gedoen.”

Dié twee voorgangers in die direkteurstoel is albei sterk literêre figure en goeie kreatiewe skrywers. Die boksie is egter nie een waarin Human homself plaas nie.

“Ek is nie ’n kreatiewe skrywer nie – mens kan dalk wonder waarom iemand wat nie ’n kreatiewe skrywer is nie tog die direkteur van die ATKV-skryfskool is. Ek dink die antwoord daarop is dat die idee nooit was dat die direkteur die nuwe skrywers en aspirantskrywers alleen hoef op te lei nie. Ek sien my rol eerder as iemand wat skrywers en skryfkenners by aspirantskrywers uitbring.”

Human is opgewonde oor al die geleenthede om die skryfskool nóg verder uit te brei en te benut.

Hy het aan Maroela Media verduidelik dat daar talle moontlike kursusgeleenthede deur die loop van die jaar is.

“In die lente is daar ’n kursus wat spesifiek op liefdesverhale gaan fokus.” Hy het skertsend opgemerk dat die weer soms so deurmekaar is dat hy nie meer weet wanneer dit werklik lente is nie. “Dit word in September aangebied,” het hy wel bevestig.

Human beplan om meer geleenthede aan skoolgaande kinders te bied. Uit sy beoordelaarservaring het hy die afleiding gemaak dat die land propvol talentvolle taalonderwysers is, maar dat dié onderwysers nie noodwendig die tyd het om skryfopleiding aan kinders te bied nie.

“Daar is ’n behoefte en ons gaan kyk hoe ons dit kan aanraak.”

Hy is ook opgewonde oor ’n vergadering wat hy in Februarie met Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, oor die behoeftes van die ATKV rakende die skryfskool gaan hê.

Human beoog om kursusse virtueel aan te bied. “Die een ding wat die pandemie vir ons geleer het, is dat ons mekaar nie van aangesig tot aangesig hoef te sien om iets te leer nie.

“In hierdie stadium is dit nog te vroeg om spesifieke planne te hê. Daar gaan hopelik baie mooi inisiatiewe kom wat die werk wat mense voor my gedoen het, gaan aanvul.”

  • Lesers wat belangstel in die ATKV-skryfskool se kursusse of meer daaroor te wete wil kom, kan die webwerf hier vir nog inligting besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.