Nuwe era vir Centurion-teater

Die Centurion-teater se nuwe bestuur is (van links na regs) Tiaan Kirsten-Lubbe, Lian Sachse, Sanette Olivier en Engela van Loggrenberg. (Foto: Verskaf)

“Ons is opgewonde om ná die afgelope jaar weer lewe in die kunstebedryf te blaas, en om ʼn platform vir aspirantkunstenaars te bied om in die toekoms sukses te behaal.”

Dit is die woorde van Sanette Olivier wat pas die leisels as direkteur en uitvoerende hoof van die Centurion-teater oorgeneem het. Sy sê verder dat die bestuurspan hoop om sy sosiale verantwoordelikheid na te kom deur die kunste met die gemeenskap te herenig.

Saam met Olivier sal die teater voortaan onder leiding van Tiaan Kirsten-Lubbe (bemarking), Lian Sachse (kunste -administrasie) en Engela van Loggrenberg (gemeenskapsbetrokkenheid) bestuur word.

Die Centurion-teater, wat in 1993 tot stand gekom het, is steeds een van die omgewing se gewildste sentrums vir die uitvoerende kunste. Die teater word geken aan sy intieme en persoonlike karakter – ʼn plek waar die gemeenskap bymekaar kom om uitvoerende kunste te geniet en te ondersteun.

“Ons doel is om hierop voort te bou en hande met die gemeenskap te vat om te groei, suksesvol te wees en ʼn ruimte te bied waarin gehore en kunstenaars kan floreer,” sê Kirsten-Lubbe.

Hy meen sterk verhoudings skep ʼn omgewing van vertroue en ondersteuning wat geluk, geleentheid, betekenis en doelgerigtheid oplewer. “Ons sien daarna uit om die ouditorium vol teatergangers te sien en om passievolle kunstenaars op die verhoog te hê.”

Benewens die nuwe bestuur wat pas aangekondig is, word nog ʼn nuweling by die Centurion-teaterkompleks verwelkom: Scenario College for Performing Arts and Enterprise is ʼn splinternuwe kunstekollege wat in Februarie 2022 amptelik open vir heeltydse studie in uitvoerende kunste en entrepreneurskap.

Volgens Sachse en Van Loggrenberg, direkteure en departementshoofde van die kollege, is die totstandkoming van hierdie kollege ʼn droom van ʼn groep kunstebedryfskundiges wat die lig sien.

“Dié groep het uit ervaring ʼn nuwe manier gesien om die volgende geslag kunstenaars in Suid-Afrika op te lei en met die nodige gereedskap toe te rus om suksesvolle en winsgewende loopbane te skep.”

Sachse en Van Loggrenberg sê dit is geen geheim nie dat baie talentvolle individue en kunstenaars, selfs nadat hulle hul studie voltooi het, dit moeilik of onmoontlik vind om hulself en hul gesinne finansieel te ondersteun. Hulle wys daarop dat persone dikwels na ander bedrywe terugkeer, of glad nie deurdruk nie en dan ook nie vir studie in die uitvoerende kunste inskryf nie.

“Scenario College bied ʼn oplossing vir dié probleem: Deur nie net studente se vaardighede in die uitvoerende kunste te slyp nie, maar om ook op entrepreneurs- en sakevaardighede te fokus,” verduidelik Sachse en Van Loggrenberg.

Scenario College-studente sal die kampus aan die einde van hul studie as opgeleide entrepreneurs verlaat. Hulle sal ook toegerus wees met die nodige kennis om werk, loopbane en geleenthede vir hulself te skep en die vermoë om die arbeidsmark te betree.

Centurion-teater se nuwe bestuur is oorgehaal om die teater aan die gang te hou soos dit in die verlede gedoen is en met nuwe ywer en passie te bedryf. Die bestuurspan moedig die gemeenskap en kunstenaars aan om terug te kom huis toe, kaartjies te bespreek, vertonings aan te bied en die lewe in die bedryf terug te sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.