Nuwe groep vir taalonderwysers

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Daar is sekere beroepe wat ʼn samelewing help vorm waarvan die waarde nie gemeet kan word nie. Die onderwys is so ʼn beroep – die erkenning is min, en die uitdagings baie.

Solidariteit Helpende Hand besef die waarde van onderwysers en het sodoende ʼn beroepsorganisasie op die been gebring. GeRAT, die Genootskap vir Regte Afrikaanse Taalonderwysers, is ’n professionele organisasie wat na die belange van hierdie onderwysers sal omsien.

Dié naam het sy oorsprong by die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), ’n organisasie wat in 1875 gestig is en ’n deurslaggewende rol in die vestiging van Afrikaans as ʼn selfstandige taal gespeel het.

Onderwysers wat Afrikaans gee, sal die toekoms “gerat” tegemoet kan gaan.

GeRAT hoop om die vlam van taaltrots van die destydse GRA in die 21ste eeu onder Afrikaanse onderwysers en dus ook Afrikaanse leerlinge te laat brand.

Helpende Hand glo dat beter toegeruste onderwysers ’n regstreekse invloed het op die gehalte van die onderwys wat kinders in die klaskamer ontvang. Aangesien alle Afrikaanse kinders aan Afrikaanse skole dié taal as moedertaalvak neem, is die moontlike invloed van verbeterde onderwys enorm.

Volgens Hugo Vermeulen, hoof van Helpende Hand se Skole-ondersteuningsentrum, is daar ’n sterk verband tussen moedertaal en kultuur. “Moedertaal vorm die hoeksteen van enige kultuur. Die rol wat die taalonderwyser in die klas vertolk, het ’n groot invloed op die vestiging van kulturele waardes en dit is juis hier waar ons aan onderwysers die nodige steun moet gee,” verduidelik Vermeulen.

Dit is reeds die tweede beroepsorganisasie wat deur Helpende Hand gestig is. Die eerste beroepsorganisasie uit die Helpende Hand-stal is die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW), wat vier jaar gelede tot stand gekom het en reeds aan meer as 850 Afrikaanse Wiskunde-onderwysers advies en bystand deur middel van onder meer kongresse bied.

Die eerste GeRAT-kongres vind binnekort plaas en hoërskoolonderwysers wat die vak Afrikaans aanbied, word aangemoedig om hierdie kongres by te woon. Dit vind op 29 Junie plaas en word by die Buffelspoort ATKV-oord aangebied. Tydens die geleentheid sal dr. Riens Vosloo, skrywer en kurrikulumkundige, onder meer praat oor Onderwêreld, die voorgeskrewe roman vir gr. 12-leerlinge in 2016. Besoek www.gerat.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rehana Mohamed ·

Iets om na uit te sien! Net jammer nie in die Ooskaap nie!

Nikolaas Pienaar ·

Hoe wonderlik is dit nie dat ds S.J. du Toit se inisiatiewe so lank na sy afsterwe steeds vrug dra nie!
Vrug van n man wat in sy tyd ‘n stem roepend in die woestyn was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.