Nuwe hoop vir egpaar ná Knysna-brand

Kobus Mostert (Foto: Verskaf)

Nadat ʼn Wes-Kaapse egpaar vroeër vanjaar alles behalwe die klere aan hul lyf in die verwoestende Knysna-brande verloor het, het Solidariteit Helpende Hand se motorfietsklub dié egpaar vandeesweek weer ʼn bietjie hoop gegee.

Kobus (60) en Jenny Mostert tel onder die duisende slagoffers wat vroeër vanjaar van voor af ʼn lewe moes bou nadat die Knysna-brande al hul besittings verwoes het.

Dié egpaar se kothuis tesame met hul enigste vorm van vervoer – ʼn bromponie – het tydens die brand in die slag gebly. Al wat ná die brand oorgebly het, was die klere aan hul lyf en die egpaar se geliefde kat wat Jenny by die huis uitgedra het.

Dit is egter nie die enigste tragedie wat die egpaar in die gesig staar nie. Ondanks hul groot verlies, veg Kobus ook verbete teen maagkanker nadat hy vroeër vanjaar met dié siekte gediagnoseer is. Ten spyte van sy kankerstryd moes hy daagliks etlike kilometers werk toe stap.

Adele Wright, Helpende Hand se streeksorganiseerder in die Suid-Kaap, sê juis daarom het dié organisasie se motorfietsklub besluit om so ʼn bietjie verligting in die egpaar se lewe te bewerkstellig.

Die organisasie het ʼn bromponie gekoop en die egpaar daarmee verras. “Oom Kobus was stomgeslaan toe die bromponie by sy voordeur opdaag,” sê Wright. “Ons is baie bly dat ons hom kon help. Hy en sy vrou kry baie swaar en sukkel albei met hulle gesondheid.”

Die egpaar woon tans in tydelike behuising in Knysna.

Vir meer inligting oor die egpaar of om betrokke te raak by Helpende Hand se inisiatiewe vir slagoffers soos die Mostert-egpaar, nader die organisasie by 012 644 4390 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wow ·

Wow Helpende hand en natuurlik Maroela wat vir ons die positiewe storie bring, ek kry sommer lekker kry trane en ‘n blye gevoel, daar is nog soveel positief en omgee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.