Nuwe horisonne wink vir jong SA mans

sout-man-dra-swaar-stiltetyd.jpg

Argieffoto (Foto: Pixabay)

“Die gesegde dat jy nie die kaarte kan kies wat aan jou uitgedeel is nie, is gedeeltelik waar. Wat jy wel kan kies, is hoe om op die situasie te reageer, nie probeer om die skuld op iemand anders te pak nie, en beheer oor jou eie lewe en toekoms te neem.”

So sê Léan Jacobs, stigter van die Northern Lights-projek, wat in Junie van stapel gestuur is. Jacobs verduidelik dat die projek beoog om jong Suid-Afrikaanse mans toe te rus met die nodige vaardighede om ʼn sukses van hul lewe te maak.

Met die oog op Internasionale Geletterdheidsdag wat vandag (8 September) gevier word, word daar opnuut op hierdie projek gefokus.

Die meeste mense dink aan geletterdheid as die vermoë om te lees en skryf, maar Care Protect Invest South Africa (CPI SA) wil dit eerbiedig as die vermoë om mense toe te rus met die bevoegdheid om finansieel onafhanklik en selfonderhoudend te word.

Die Northern Lights-projek wys daarop dat Suid-Afrika enorme sosio-ekonomiese probleme soos armoede, werkloosheid, dwelm- en alkoholmisbruik die hoof moet bied.

“Om ʼn verskil te maak, moet jy hierdie probleme een vir een aanpak. As jy dan in mense belê, moet jy hulle ondersteun tot op ʼn punt waar hulle floreer sonder die risiko om terug te val,” sê Jacobs.

Hy meen verder dat trauma soos die dood van ouers of ʼn kind, finansiële of huweliksprobleme en te veel druk om te oorleef ʼn mens op die pad van selfvernietiging en agteruitgang plaas. Veral in die plaaslike kultuur waar daar verwag word dat seuns al op 16 geld moet begin verdien en finansieel bydra tot die huishoudelike uitgawes.

Hierdie druk lei dikwels tot mislukkings en dat ander mense die skuld vir hul omstandighede moet dra. Dit is waar die Northern Lights-projek inkom. Jacobs verduidelik dat daar hulp aan hierdie jong mans verleen sal word in die vorm van leiding oor hoe om hul selfrespek en roetine te herstel en nie bloot die omstandighede te aanvaar nie.

Die volhoubaarheid van die Northern Lights-program lê in die ondersteuning wat die kandidaat ontvang en sy bereidheid om die aanbod te aanvaar.

Jacobs sê jy kan elke dag vir iemand ʼn vis gee om te eet of jy kan hom leer om vis te vang. “Hierdie mense het eens die vermoë of ambisie gehad om vir hulself te sorg. Ons moet hulle daaraan herinner en hul waardigheid herstel om hulle van die strate af te haal.”

Uit sy ervaring het Jacobs, ʼn gevestigde sakeman en suksesvolle projekbestuurder, gemeenskaplike behuising geïdentifiseer as een van die belangrikste slaggate in hierdie soort projekte.

Die Northern Lights-projek fokus dus slegs op 10 kandidate, tussen 18 en 30 jaar oud, op ʼn slag. Gedurende die program woon hulle in hul eie Wendyhuis in Pretoria-Noord waar hulle dan opleiding ontvang en vaardighede aanleer.

“Deur hierdie gebroke mans in ʼn gemeenskaplike omgewing te plaas, verminder die kans dat hulle hul onafhanklikheid herwin. Ons individuele benadering verseker dat hulle in ʼn beheerde omgewing funksioneer, ondersteuning kry en toegang het tot maatskaplike werkers, godsdiensleiers en aanlyn kursusse. Hulle leer ook lewensvaardighede aan, soos hoe om ʼn begroting te hanteer en tyd te bestuur, sodat hulle werklik kan floreer en hul volle potensiaal kan bereik,” sê Jacobs.

Die Northern Lights-projek bied ‘n volhoubare oplossing vir die maatskaplike uitdagings wat tans ervaar word. Jacobs is hoopvol dat die program ʼn verskil in jong mans se lewe sal maak.

Vir meer inligting, bel die CPI SA by 012 111 8352 of besoek www.afrikaansetoekomstrust.org. Help ATT om ander te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kwikkie12 ·

In my omgewing sien ek hoe blanke mans op die sypadjie moet slaap deur hierdie yskoue winter. Van hulle lyk jonk en energiek. Dit is hartverskeurend. Net vanoggend vir iemand gese is daar nie ‘n plaas waarop hierdie mense kan gaan werk nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.