Nuwe lewe blink vir jong vrou ná skenking

Carmi du Toit saam met die Good Morning Angels span. (Foto: Jacaranda)

ʼn Jong werkende vrou, wat na haar bipolêre ma en 18-jarige broer omsien, het onlangs ʼn hupstoot in die vorm van ʼn skenking van R35 000 ontvang. Die geld sal haar help om ʼn onafhanklike lewe te begin en haar klerkskap as regstudent te voltooi.

Carmi du Toit (21) het pas haar LLB- finale jaar by die Universiteit van Pretoria voltooi met ʼn beurs en woon die afgelope vier jaar in die TuksVillage-koshuis op kampus. Dié student gaan binnekort moet verhuis omdat sy haar studie voltooi het. Du Toit het voorheen baie onsekerheid in haar lewe ervaar en kan, weens omstandighede, nie voortgaan met haar klerkskap nie.

Om egter genoeg geld te verdien om vir haarself, haar broer (wat in graad 11 die skool verlaat het) en haar ma te sorg, sou sy haar klerkskap moes voltooi sodat sy ʼn groter salaris kan ontvang.

Du Toit se storie het aan die lig gekom toe Robyn Ball, die huismoeder van die TuksVillage-koshuis ʼn brief aan die radiostasie Jacaranda FM se Good Morning Angels-span gerig het om hierdie onbaatsugtige, dinamiese en hardwerkende jong vrou te help om haar onafhanklikheid te vestig, maar ook om haar finansiële gemoedsrus te gee om haar klerkskap af te handel en geld te begin verdien.

“Carmi is ʼn uitblinker en het ʼn wonderlike toekoms. Haar gesin het egter als verloor, haar ma het haar werk, huis, voertuig en inkomste verloor en dus het hulle nie ʼn standvastige heenkome nie,” het Ball in haar brief geskryf.

Terwyl Du Toit veilig was by TuksVillage, het haar broer en ma op straat beland. “Carmi het tydens haar studie deurgaans gewerk om haarself en haar gesin te onderhou. Gedurende die spanningsvolle tyd van eksamens het Carmi alles probeer om haar huisgesin te help en kon sy vir haar ma ʼn plek in ʼn skuiling vir haweloses vind. Sy kon egter geen plek vir haar broer vind nie.”

Du Toit het eindelik haar broer ingeneem en hom in die koshuis weggesteek. “As huisouers het ons vermoed dat daar iets aan die gang is en haar daaroor uitgevra. Sy het ons toe vertel van die swaarkry waardeur sy gaan. Ons kon help om haar broer nog dieselfde dag in ʼn skuiling te kry met die hulp van ʼn plaaslike kerk.”

Intussen is Du Toit reeds ʼn werk vir volgende jaar aangebied waar sy haar klerkskap kan voltooi. Sy het besluit om dit van die hand te wys omdat sy volgende jaar na haar broer moes omsien. Sy sou haar deeltydse werk in ʼn oproepsentrum voltyds begin doen het.

Danksy die skenking kan Du Toit egter nou vir haar ʼn nuwe woonplek vir haar en haar gesin kry, asook voortgaan met haar klerkskap.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

Een kommentaar

Marietjie Stander ·

So bly die dame kan voort gaan met haar studies. Daar wag n blink toekoms op haar. Dankie vir die skenking. Sy kan nou vir haar gesin sorg. Daar is so baie mooi in ons land, mens moet net kyk. Ek wens haar en haar gesin voorspoed toe,mag hulle drome waar word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.