Nuwe programme vir RSG

(Foto: Nacho Carretero Molero/Unsplash)

ʼn Splinternuwe ontbytprogram – ʼn eerste vir RSG – is onlangs bekend gemaak. Louise Jooste, sakebestuurder, het tydens ʼn spesiale programbeplanningskonferensie in Auckland Park, aangekondig dat dié radiostasie se nuwe ontbytprogram, Op en Wakker, op 4 April afskop.

Die program spog met aanbieders soos Gustav Greyling, Robbie Kruse, Sue Pyler-Slabbert, Blaine Jones en regisseur André Kunz. Dit is weekoggende van 07:00 tot 09:00 op die lug.

Jooste sê die RSG-span en -bestuur is opgewonde oor die verandering, wat in pas is met radiotendense en verbruikerspatrone in ʼn veranderende media-era.

Monitor is steeds weekoggende te hoor, hoewel ʼn uur korter. Die goeie nuus is dat ʼn derde gleuf vir nuus-aktualiteit geskep word om luisteraars laatmiddae op hoogte van die jongste nuusgebeure te hou. Die 15-minuut-program is aanvullend tot die reeds gewilde Monitor en Spektrum en sal weekmiddae om 17:45 aangebied word.

Saterdag se Naweek-aktueel en Kommentaar, wat Sondagaande uitgesaai word, sal steeds die naweek se aktuele besprekings takel. Met hierdie veranderinge staan Praat saam ook opsy.

Op 2 April verwelkom die stasie ʼn nuwe tegnologieprogram wat Saterdagmiddae om 14:30 aangebied word. “Met die snelgroeiende vordering en vooruitgang van tegnologie het dit ʼn integrale deel van bykans elke mens se lewe geword,” lui ʼn verklaring wat deur die stasie uitgereik is.

Musiekentoesiaste kan uitsien na Die beste van wat luisteraars op Mandagaande terugneem na gewilde musiek van verskeie eras en genres. Alle jazz-liefhebbers kan ook naderskuif wanneer RSG elke Woensdagaand om 21:20 ʼn jazz-baadjie aantrek met Jazz op RSG, waarvoor soveel luisteraars al gevra het, met die gevolg dat Dis klassiek voortaan nie meer op die lug sal wees nie.

Die radiostasie het ook bekendgemaak dat ʼn nuwe treffersparade op Saterdae binnekort begin, asook ʼn regstreekse uitsending uit die Seepunt-ateljee met Anthea Fredericks en Lizelle de Bruin op Sondagoggende. Binnekamer sal fokus op geestelike aktualiteit en musiek. Dié regstreekse program sal direkte interaksie tussen luisteraars en omroepers vergemaklik.

ʼn Paar nuwe stemme sal van 2 April met die ingang van die nuwe finansiële jaar op lug gehoor word wanneer die radiostasie se programaanpassings in werking tree.  Die volledige programskedule sal dan op RSG se webwerf beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Estelle

Dankie tog dat Praat Saam groet … program het net te vervelig begin word, veral vroegoggend.

Linda

Praat saam, toe val hy alleen. En wat het gekom van al die praat? Absoluut niks! Het gedink Julius Malema sal sy eie tydgleuf kry, want hy is soos RSG se “mascot”. Hulle het al kultus status aan hom verleen met die dekking van al sy manewalis. Gelukkig het ek al geruime tyd die lig gsien en my sender verstel na LM Radio. RSG se kruiperige dweperige aanbieders het net een te veel geraak om te verteer dag na dag.

Chris

Praat saam was een van die verveligste programme ooit. Dieselfde aankarring oor dieselfde temas met ‘n baie fyn anti- wit ondertoon deurgeweef. Baie subtiel gedoen. Geen skade. ‘n Persoon wat met slim mense wil praat moet ook slim wees om te Praat Saam.

piet

Is dit Anthea Warner wat nou weer ook ‘n plekkie kry?

Ruby

Daardie musiek wat RSG in die oggende speel van na 04h00 tot 04h45, liewe hemel dit is erg, bag se gelag op sy beste.

Wat het geword van die interessante stories wat vertel was?