Nuwe rekenaarprogram speel gou klaar met rassistiese kommentaar

selfoongebruiker-in-restaurant

Afrikaanse kommentaar kan binnekort deur slim rekenaarprogrammatuur gemodereer word. Foto: Argief.

Sosiale media bied ʼn platform vir elke mens om hul eie opinie te gee. Tog kan die kommentaar op sosiale media ook vinnig die broeiplek van haatspraak of rassisme word en selfs kuberboeliery bevorder. Dit is hier waar slim rekenaarprogrammatuur kan help om woorde en sinsnedes te identifiseer sodat hierdie soort kommentaar gemodereer en selfs vinnig verwyder word.

Ben Verhoeven, van die Universiteit van Antwerp in België, het Woensdag verskeie Afrikaanse mediahuise en taalorganisasies in Johannesburg toegespreek oor die moontlike ontwikkeling van ʼn Afrikaanse rekenaarprogram wat kommentaar-moderators kan bystaan.

Verhoeven en sy span MA-graad studente het op versoek van prof. Gerhard van Huyssteen, van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), die moontlikheid van so ʼn rekenaarprogram ondersoek. Die studente het binne ʼn bestek van vier maande ʼn program geskryf wat soveel as 197 rassistiese woorde en 23 soorte kommentaar gebruik om rassistiese opmerkings te identifiseer. Die program gebruik eenvoudige verklarings van wat ʼn mens as rassistiese kommentaar kan beskou en het in 70% van alle gevalle geslaag om dit korrek te identifiseer.

“Dit is nie maklik vir ʼn rekenaarprogram om ʼn taal aan te leer nie omdat dit nie ʼn presiese wetenskap is nie. Taal verander en groei en veral humor, ironie en sarkasme is byvoorbeeld problematies,” het Verhoeven gesê. Volgens hom is daar steeds baie ontwikkelingswerk om te doen, aangesien die program hoofsaaklik in die Belgiese konteks op anti-Islamitiese kommentaar fokus en die toetsdata was volgens Verhoeven ook te min.

Verskeie konferensiegangers was egter opgewonde oor die moontlikheid van hierdie tegnologie en die ontwikkeling van ʼn Afrikaanse model. “Hierdie soort programmatuur kan help om die kaf van die koring te skei in die eerste fase van kommentaarmoderering en die werk van moderators wat daaglikse honderde kommentare moet nagaan, word vergemaklik,” het prof Johannes Froneman van die Noordwes-Universiteit gesê.

Dié soort programmatuur word reeds in België uitgebrei om kuberteistering, kuberpedofilie en neigings tot selfmoord en depressie te identifiseer, het Verhoeven gesê. Terwyl verskeie instansies belangstel om dit te gebruik in die bekamping van kuberboeliery, wag die universiteit egter nog vir die inkoop van groot rolspelers soos Facebook en Google.

Volgens Van Huyssteen het dit uit die konferensie geblyk dat dit belangrik is vir mediahuise en organisasies met ʼn sosiale media teenwoordigheid om ʼn duidelike beleid en riglyne vir kommentaar saam te stel. Verder moet verseker word dat kommentators kennis van die beleid neem. “Alle mediahuise moet saamwerk om die probleem van kommentaar met haatspraak en rassisme in Afrikaans te hanteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leendert van Oostrum ·

O ja?

Soos Maroela Media se polisie wat kommentaar verwyder as dit die woord “verskaf” -ver bevat.

Sieklik!

Paplepel ·

Nee wat, gee kans, binnekort gaan hulle jou ‘n keuse lys gee van watter kommentare beskikbaar is vir ‘n sekere onderwerp. Dis juis die omgewing waarteen Pink Floyd in opstand gekom het met hulle treffer “The Wall”in die laat sewentigs. Almal word breinlose skape wat presies doen wat polities korrek is.

sensasie ·

“…kaf van die koring skei” is ook hin vorm van Apartheid/segrigasie. Die program word toegelaat om dit toe te pas maar die mens mag nie vryheid van spraak beoefen nie.

Johan ·

Ek hoop hulle pad dit toe oor al die spektrums van kleur grense en nie net na een kant toe soon ons nou Al gewoond geraak het nie.

MJL ·

“Alle mediahuise moet saamwerk om die probleem van kommentaar met haatspraak en rassisme in Afrikaans te hanteer.” Lees ek reg en verstaan verkeerd of verstaan ek reg en lees verkeerd?

Pietertjie ·

Pleks dat die program die spelfoute van Maroela uitwys! Modereer…

Nico Strydom ·

Dagsê Pietertjie

Dankie dat jy die fout vir ons uitgewys het. Dit is reggestel.

Vriendelike groete
Nico Strydom
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.