Nuwe seisoen vir Geopende Deure

Lynette Leibach, nuwe uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, en haar dogter, Kyra. (Foto: Verskaf)

Die bedieningsorganisasie Geopende Deure Suider-Afrika, wat vervolgde Christene reg oor die wêreld ondersteun en versterk, het Lynette Leibach onlangs as sy nuwe uitvoerende direkteur aangestel.

Lynette neem die leisels oor van die vorige uitvoerende direkteur, Jan Gouws, wat op 31 Augustus na meer as 30 jaar by hierdie organisasie afgetree het.

Lynette, die eerste vrou in hierdie leiersrol by Geopende Deure, sê sy is opgewonde om saam met die span te werk om Christene wat vervolging en onderdrukking oor die hele wêreld heen ondervind, te dien en te versterk.

“Met Jan se uittrede na dekades van getroue diens by Geopende Deure, is ek nederig om in die jubileumjaar as uitvoerende direkteur by die organisasie aan te sluit. Ek sien uit daarna om met ons vennote en kerkgemeenskappe kontak te maak om ’n impak te hê op die lewens van vervolgde Christene op die voorste linies.”

Agtergrond en studies

Lynette het in Johannesburg grootgeword. Sy het ’n B.Com.-graad in bedryfsielkunde, sakebestuur en bemarking, sowel as ’n B.Com.-honneursgraad in bemarking aan die Universiteit van Johannesburg voltooi. Later het sy ook ’n kwalifikasie in Christelike studies aan die St Stephen’s University in Kanada en Vineyard Bible Institute voltooi.

“As jong volwassene het ek ’n lewensveranderende kerklike bedieningstoer na die ou Joegoslawië onderneem. Die doel van die reis was om die plaaslike kerk te ondersteun na die verwoestende oorlog. Daar was ’n drastiese verandering in my beroepsgerigte fokus na hierdie ervaring.

“Ek is sedert 2003 by verskeie organisasies sonder winsbejag betrokke en het voorheen verskeie posisies in die handelswêreld, veral in Suid-Afrika, die Oos-Afrika‑ en Suider-Afrika-streek, beklee” sê sy.

Terug uit Nieu-Seeland

Sy het die afgelope vier jaar in Nieu-Seeland gebly, waar sy gewerk het as direkteur van bemarking, fondsinsameling, opvoeding en voorspraak by die Christelike internasionale ontwikkelingsorganisasie Tearfund, ’n toonaangewende humanitêre organisasie.

Voordat sy na Nieu-Seeland verhuis het, werk Lynette as adviseur vir geldinsameling oor vastelande gewerk en daarna as streeksfondsontwikkeling- en kommunikasie-direkteur by SOS Children’s Villages International in Johannesburg, ’n wêreldwye organisasie sonder winsbejag wat volhoubare programme ondersteun en opstel vir kinders.

Ander vorige poste is onder meer die individuele verhoudingsbestuurder by die Wêreldnatuurfonds (WWF), geldinsamelingsbestuurder by Sparrow Schools Educational Trust, fondsinsameling- en kommunikasie-koördineerder by HIV-SA, streeksfondsinsamelingskoördineerder by die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa), senior navorser by BMI Research en rekeningbestuurder by Nielsen.

ʼn Nuwe seisoen

“Ek is geseënd om die Here te volg na verskillende beroep- en lewensavonture. Nou is ek in ‘n nuwe seisoen van toewyding en ondersteuning om die vervolgde kerk te versterk. Ek sien uit na hierdie uitdaging en wil Geopende Deure Suider-Afrika na nuwe hoogtes lei in hierdie nuwe seisoen,” sê Lynette.

Geopende Deure Suider-Afrika vorm deel van Open Doors International. Die bediening help vervolgde Christene in meer as 60 lande reg oor die wêreld deur Bybels en Christelike literatuur te lewer, vervolgde Christene te besoek, dissipelskap en opleiding te bied, wat noodhulp bied aan slagoffers van vervolging en natuurrampe. Die bedieningsorganisasie doen ook bewusmaking en voorspraak vir vervolgde Christene.

  • In Septembermaand fokus Geopende Deure op die Midde-Ooste met ʼn spesiale veldtog genaamd Hoop vir die Midde-Ooste. Volgens Vicky Kente, woordvoerder van Geopende Deure Suider-Afrika, wil die organisasie bewusmaking skep oor die vervolging van Christene in die Midde-Ooste. Vicky het met Esté Meyer Jansen van Maroela Media hieroor gesels en verduidelik hoe jy vervolgde Christene in dié streek kan ondersteun. Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.