Nuwe toekoms wink vir Siesta-aftreeoord

Solidariteit Helpende Hand is tans aktief by die bestuur van die Siesta-aftreeoord in Bloemfontein betrokke om die oord se toekoms te probeer red en die ou historiese gebou op te knap.

Dié bekende aftreeoord is nou onder nuwe direksie nadat geldelike probleme kop uit gesteek het. Die direksie bestaan uit lede van die vorige Siesta-direksie, ’n taakspan van Helpende Hand asook ’n ad hoc-komitee. Nagenoeg 46 inwoners is dus verseker van ’n goeie struktuur, kenmerkend van die Solidariteit Helpende Hand-beweging, asook maatskaplike en finansiële bystand.

Dagsorg- en vakansiesorgkamers, sowel as versorgingseenhede vir demensie- en Alzheimer-pasiënte is tans beskikbaar. Buiten die laasgenoemde is talle opgraderings in plek en ses nuwe eenhede is ook gereed vir nuwe inwoners. Die buite-eenhede is boonop dierevriendelik.

Hierdie is slegs die begin. Vir die volgende vier maande stel Helpende Hand hul span van kundigheid beskikbaar, om Siesta in ’n droomtuiste te verander.

Volgens Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur tans ook Siesta se waarnemende uitvoerende direkteur, is die tehuis se naam nie per toeval nie. “Die naam is beskore.  Siesta beteken ‘rus’.  Rus vir ’n hart, fisiese rus, emosionele rus en langverdiende rustigheid ná jare se harde werk, besige dae en duisende herinneringe, drome en belewenisse. Die naam Siesta is bestem. Want elke bejaarde in ons land behoort hul goue jare in ʼn rustige, liefdevolle, veilige omgewing te spandeer. Waar ʼn woning meer is as ’n tuiste,” sê Noëth.

“Helpende Hand glo sterk aan emosionele welstand en bevordering van bejaardes en verwelkom ook die keuse van die nuwe Siesta-direksie om hierdie ’n troeteldiervriendelike omgewing te maak. Daar is min emosionele genesing vir ’n verswakte bejaarde soos dié van die liefde van ’n  troeteldier nie,” sluit hy af.

Vir meer inligting skakel Hannah Geyser by 084 767 2817 of stuur ʼn e-pos aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.