Nuwe tuiste vir Grietjie en Marietjie

Grietjie en Marietjie is onafskeidbaar (Foto: Verskaf)

Grietjie en Marietjie, die ongewone dierepaar van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in George in die Suid-Kaap wie se hegte band reeds talle harte gesteel het, sal eersdaags ʼn nuwe tuiste kry.

Grietjie, ʼn wit-en-bruin boerbok, en Marietjie, ʼn Pointer-kruising, is al sedert begin April by dié DBV en is verlede week vir aanneming beskikbaar gestel – maar op voorwaarde dat die twee dieremaats saam aangeneem word.

Andrea Auerbach, ’n leerlinginspekteur van die Tuinroete DBV op George, vertel dat ’n vrou van Kaapstad die aannemingsaansoek vir Grietjie en Marietjie ingevul het en opgewonde wag op hul koms.

“Die vrou woon op ’n kleinhoewe in die Kaap en bied skuiling vir talle weggooidiere. Sy het tans ’n vark, ʼn ponie, honde en selfs papegaaie waarvoor sy sorg,” vertel Auerbach.

Grietjie en Marietjie se nuwe aanneem-eienaar verhuis binnekort na Rheenendal, tussen George en Knysna, waar sy ’n kleinhoewe gekoop het. Dit is hier waar Grietjie en Marietjie hulself gaan tuismaak.

“Die vrou was uit die staanspoor ons eerste opsie. Sy lyk soos ’n diereliefhebber wat haar lewe wy aan diere,” vertel Auerbach opgewonde. Saam met Grietjie en Marietjie, gaan die vrou ook twee perde by dieselfde DBV aanneem.

Grietjie en Marietjie is onafskeidbaar en dring daarop aan om heeltyd by mekaar te wees . (Foto: Tuinroete DBV)

Auerbach vertel dat hoewel talle mense belangstelling in Grietjie en Marietjie getoon het, het niemand egter die moeite gedoen om tot aksie oor te gaan en die proses van aanneming te volg nie.

“Indien jy belangstel om ’n dier aan te neem, moet jy met ons in aanraking kom. Dan is dit noodsaaklik dat jy ons kom besoek om die dier te ontmoet en te kyk of julle oor die weg sal kom. Daarna vul jy aannemingsvorms in, waarna ’n tuisinspeksie sal volg om te verseker jy is ’n geskikte kandidaat. Indien alles in orde is, steriliseer ons die dier en doen die nodige inentings waarna jy as eienaar die dier uiteindelik huis toe kan vat.”

Maroela Media het vroeër berig Grietjie en Marietjie is by ʼn oord op die Tuinroete gevind waar hulle saam met hoenders en ander pluimvee tussen die chalets rondgedwaal het. Die twee is onafskeidbaar en raak albei baie ontstig as hulle nie by mekaar is nie.

ʼn Woordvoerder van die Tuinroete DBV het vroeër vertel dat Grietjie en Marietjie saam in ʼn hok slaap en heeldag saam rondloop. Marietjie begin dadelik tjank as sy nie vir Grietjie kan sien nie en Grietjie sit net so keel op as Marietjie weggeneem word.

Die DBV is verheug dat dié ongewone vriende ook nou saam ʼn nuwe tuiste gevind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

honourable member ·

Dis so sweet. Bly hierdie 2 wonderlike diere het n goeie huis gekry.

Cora Simpson ·

Ek het sommer ‘n knop in my keel gekry van absolute vreugde vir die twee boesem vriende Baie baie dankie aan die mense mamma wat hulle volgende jare gelukkig gaan maak

Tali ·

Ek voel so dankbaar jeens hierdie wonderlike vrou wat hulle gaan aanneem, dat ek jou graag sou wou bederf met iets soos ‘n geurige olie voetewas- en massering, jou vensters en vloere vir jou was en sommer nog klomp ander bederfies oor jou dierbare hart.

smurfie ·

Dankie M&M dat julle die goeie nuus met ons deel. Ek het so gebid vir die tweetjies. My hart is sooooo bly en dankbaar.
Ek gaan nou sommer lekker slaap xxx

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.