Nuwe tuistes vir koningin se teddiebeer-huldeblyke

(Foto: The Royal Family/Twitter)

ʼn Groot stapel sagte speelgoed wat deur die publiek ter nagedagtenis aan wyle koningin Elizabeth II by haar verskeie wonings kort na haar dood gelaat is, gaan binnekort nuwe tuistes vind.

Buckingham-paleis het die afgelope naweek aangekondig dat dié sagte speelgoed, waarvan ʼn groot aantal van die gewilde kinderboekkarakter Paddington Bear was, professioneel skoongemaak is en binnekort by die kinderwelsynsorganisasie Barnardos afgelewer sal word.

ʼn Foto waar Camilla, die koningin-gemalin, deur dié skoon gewaste beertjies omring is, is op die 64ste herdenking van die eerste Paddington Bear‑boek uitgereik.

“Haar majesteit koningin Elizabeth II was vir meer as 30 jaar Barnardo se beskermvrou en ons is geëerd om nuwe huise te vind vir die teddiebere wat mense ter nagedagtenis aan haar gelaat het,” het Lynn Perry, uitvoerende hoof van Barnardo, aan Reuters gesê.

Dié speelgoed is tussen die magdom blomme-huldeblyke en briefies gevind wat buite paleise en koninklike parke in Londen en Windsor gelaat is gedurende die routydperk ná die koningin se dood op 8 September vanjaar.

Die verbintenis tussen die monarg en die bekende Britse beertjie volg nadat ʼn video vroeër vanjaar tydens haar platinum‑jubileum bekendgestel is waarin sy en die fiktiewe karakter ʼn koppie tee en marmelade‑toebroodjie geniet het.

In dié kosbare video, wat meer vyf miljoen trefslae op YouTube het, vertel die koningin skertsend dat sy altyd ʼn marmelade‑toebroodjie – wat Paddington se gunstelingpeuselhappie is – in haar kenmerkende handsakke ronddra.

Maroela Media het vroeër berig dat weldoeners gevolglik nie net teddiebere nie, maar selfs marmelade‑toebroodjies as huldeblyke aan die koningin na haar afsterwe gelaat het.

Verskeie opruimingsinisiatiewe is daarna van stapel gestuur en die publiek is later aangemoedig om geskenke of artefakte wat van organiese of afbreekbare materiale gemaak is, te skenk.

Die Twitter-rekening vir Paddington Bear het ook met die monarg se afsterwe dieselfde boodskap wat hy haar tydens haar jubileum toegewens het, op sosiale media gedeel: “Dankie mevrou, vir alles.”

Bronne: BBC, Reuters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lillian ·

Die advertensie wat Koning Elizabeth gemaak het saam met Paddington Bear, is ougat!

LIEZL ·

aijinne, dis seker die eerste keer wat ek die vrou sien glimlag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.