Nuwe uitvoerende hoof vir WAT

Dr. Phillip Louw sal op 1 Januarie 2023 die uitvoerende hoof van die WAT wees. (Foto: Phillip Louw/Facebook)

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) het Dinsdag bekend gemaak dat hy dr. Phillip Louw as die nuwe uitvoerende hoof aangestel het.

Louw het ʼn D.Litt. in leksikografie (met ʼn fokus op skoolwoordeboeke) aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf. Hy het sy loopbaan as deeltydse dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US begin, waarna hy na die Buro van die WAT getrek het.

Na sewe jaar as mederedakteur by die WAT, het hy in 2005 as senior redakteur by Oxford University Press Suid-Afrika (OUPSA) aangesluit. Sy eerste projek as redakteur vir OUP, die Oxford Afrikaans-Engels English-Afrikaans Skoolwoordeboek School Dictionary, het die ATKV-Woordwystoekenning in 2008 ontvang.

Hy was ook die hoofredakteur van die eentalige Oxford Afrikaanse Skoolwoordeboek wat in 2012 verskyn het. Tot Desember 2022 dien hy as uitgewersbestuurder vir woordeboeke en letterkunde by OUPSA, met ʼn bykomende ondersteuningsrol vir die res van Afrika en Australië.

Louw was van 2013 tot 2019 lid van die Afrikaanse Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en het meegewerk aan die 11de uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls.

Sedert 2019 dien hy as bestuurslid van die African Association for Lexicography (AFRILEX) en ook op die wetenskaplike komitee van die European Association for Lexicography (EURALEX) vir 2020-’21. In 2022 was hy die medevoorsitter van die OED se Oxford World English Symposium.

Louw, wat die leisels by dr. Willem Botha oorneem, sal dié posisie op 1 Januarie 2023 inneem.

WAT se 2022-nuutskeppingskompetisie

Dit is weer tyd vir die WAT se jaarlikse Nuutskeppingskompetisie. Dié kompetisie word op 7 Oktober in Monitor op RSG aangekondig.

Jy kan nou reeds jou nuutskeppings e-pos aan [email protected] met “Nuutskeppings” in die onderwerpveld. Die nuutskeppings moet verkieslik woorde wees wat ʼn nuwe verskynsel op ʼn treffende manier beskryf of ʼn alternatief vir ontoereikende bestaande woorde. Dit moet dus ʼn voorstel vir ʼn woord wees waaraan daar ʼn behoefte is. Die nuutskeppings hoef nie te rym nie.

Vanaf Maandag 10 Oktober sal daar elke dag tussen 07:30 en 08:00 in Monitor aangekondig word vir watter drie inskrywings daar gestem kan word ten einde die dagwenners en uiteindelike wenner te bepaal. Die pryse van die wenners, wat vanjaar weer deur die ATKV geborg word, sal Maandag aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.