Nuwejaar, troeteldiere en vuurwerke – ’n plofbare kombinasie

bokser-honde-troeteldiere

(Foto: Nancy Nobody/Pexels.com)

Deur Megan van Wyngaardt

Dit is weer daardie tyd van die jaar waar mense verskeie feeste vier deur vuurwerke af te skiet. Vanaf die laaste week in Oktober verskyn inskrywings gereeld op sosiale netwerke, veral Facebook–blaaie, wat op die welsyn van diere fokus, soos dat mense twee keer moet dink voor hulle klappers skiet, veral omdat honde so bang is vir die harde skietgeluide. En natuurlik is Oujaarsaand, wat ʼn hoogtepunt behoort te wees, ʼn laagtepunt vir dié van ons met verskrikte, vreesbevange troeteldiere.

Studies het al bevind dat die diere nie weet waar die geluide vandaan kom nie en nie vuurwerke verstaan nie. Dié verwarring het verskeie uitwerkings, insluitend hartprobleme, naarheid, bewerasies en vrees. Diere se gehoor is ook baie sensitiewer as mense s’n, dus klink daai klapperbom ʼn duisend keer harder vir hulle en kan jou dierbare woefkind in skok gaan van akoestiese spanning.

Op gemeenskapsblaaie sien ʼn mens verder ook hoe baie diere‑eienaars kla oor die klappers, maar terwyl dit gewoonlik ʼn uitroep van frustrasie in die kuberruim is, verander dit dikwels nie die ingesteldheid van die feesvierders nie, wat bereid was om duisende rande op vuurwerke uit te gee. Terwyl sekere groepe redeneer dat beter wetgewing toegepas moet word met die koop en verkoop van vuurwerke, asook die afskiet daarvan, is die beste manier om jou diere teen die aanslag te beskerm om voorsorg te tref en te keer dat jou geliefde woefkind nie een van die tragiese statistieke word op hierdie aande nie.

Een van die eerste dinge wat jy as diere‑liefhebber kan doen, is om by jou plaaslike veearts ʼn kalmeermiddel te kry. Dit kom in tabletvorm, of in vloeistof wat jy sommer direk in hul monde kan spuit of op hul gunstelinglekkerny kan sit. Die kalmeermiddels is ook baie handig vir diere wat sensitief is vir donderweer, so jy gaan dit meer as een keer gebruik en jy kan dit dus as ʼn belegging in jou dier sien.

Volgens Petplace.com kan jy as diereliefhebber nog talle ander stappe doen. Eerstens, maak seker jy is by die huis, al beteken dit jy gaan dalk die beste Nuwejaarspartytjie in die land misloop. As jy regtig voel jy kan nie by die huis bly op een van die grootste aande van die jaar nie, maak seker jy het iemand om by jou diere te bly. Daar is talle diere-oppassers wat ʼn mens deesdae kan kontak om by jou eie huis na die diere te kom kyk. Maak net dubbel seker dit is iemand wat goeie verwysings het en dat hulle nie jou woef dalk in die middel van die nag alleen laat of met al jou besittings verdwyn nie.

Argieffoto

Maak seker jou diere is binne‑in jou huis, in ʼn vertrek waar hulle gemaklik is. Sit ʼn televisieprogram of ʼn radio aan om die klapgeluide te verbloem. Diere wat buite gelos word, wil dikwels van die harde geluide wegkom en sal maniere probeer vind om uit die erf te kom. Dit lei telkens na ʼn dier wat deur ʼn heining probeer klim en beseer word, of ʼn dier wat deur ʼn kar raakgery word en dan ʼn pynlike dood sterf. Maak die gordyne en vensters in die vertrek toe sodat die diere dit nie as ʼn uitgang oorweeg nie, omdat dit ook tot beserings kan lei.

Gee vir jou diere ʼn veilige plekkie in die huis om weg te kruip. Dalk verkies hulle ʼn hoekie of ʼn krat. Gooi hulle met ʼn kombers toe om hulle meer gemaklik te laat voel.

Maak doodseker jou dier het ʼn mikroskyfie en dat dit op datum is, in geval jou woef uitkom en iemand die hond na ʼn veearts of die DBV neem sodat jy maklik geïdentifiseer kan word en in kennis gestel kan word van waar jou dier hom of haar bevind.

Laastens, probeer om jou woef besig te hou. As hulle dalk ʼn gunstelingspeelding het, gee die speelding aan die dier om hulle aandag van die geluide af te lei.

Goeie maatreëls is al ingestel om vuurwerke beter te polisieer. Met die onlangse Guy Fawkes‑dag, het Kaapstad elf areas toegewys waar mense wettig vuurwerke kon afskiet, terwyl meer polisiebeamptes dié aand in die stad ontplooi is om onwettige vuurwerke te stuit. Elders, soos in Collecchio in Italië, het die plaaslike regering wetgewing ingestel wat keer dat vuurwerke wat geluide maak, afgevuur mag word.

Maar totdat die tipe tegnologie in elke stad in die wêreld beskikbaar is, doen maar jou deel. As jou buurman vuurwerke afskiet en jy is ongelukkig daaroor, gaan klop aan sy deur en vra dat hulle dit eerder nie doen nie. Die vinnigste manier om verandering teweeg te bring is om op te tree en nie op sosiale media te kla nie, waar jy soos die spreekwoord sê vir die bekeerdes preek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.