Nuwejaarsvoorneme: ʼn Begroting waarby jy hou

(Foto bloot ter illustrasie: Unsplash)

As Suid-Afrikaanse verbruikers ooit ʼn goeie Nuwejaarsvoorneme nodig gehad het, is dit nou. Die jaar 2021 was nie veel beter as 2020 nie en niemand wil nóg ʼn jaar van verskriklike finansiële spanning beleef nie. Om te sorg dat jou finansiële lewe ten minste glad verloop het jy ʼn begroting nodig waarby jy en jou gesin hou tot op die laaste sent. Ina Opperman verduidelik waarom begrotings belangrik is en hoe om een saam te stel.

ʼn Begroting is die beste manier om te sorg dat jy jou besteding onder beheer hou en jou finansiële doelwitte bereik. Jou begroting is ʼn opsomming van jou inkomste en uitgawes vir ʼn bepaalde tydperk en word gewoonlik saamgestel vir ʼn maand op ʼn slag.

Jou begroting sal wys hoeveel geld jy verwag om in te kry en vergelyk dit dan met jou vereiste uitgawes, soos jou huislening of huur en versekering, met uitgawes waaroor jy self beheer het, soos vermaak en uiteet.

ʼn Begroting op skrif is dus kortliks ʼn instrument wat jy gebruik om te beplan hoeveel jy elke maand gaan uitgee en spaar en dit bied jou die geleentheid om jou bestedingsgedrag te volg. Al is die begrotingsproses maar ʼn droewe storie as jy nie baie geld het nie, is dit belangrik om jou finansiële huis netjies te hou.

Begrotings berus op balans en as jy dus minder bestee in een kategorie, kan jy die besparing aanwend in ʼn ander kategorie, dit spaar of belê. Jou begroting sal egter slegs werk indien jy eerlik is oor jou inkomste en uitgawes.

Ses maklike stappe om jou begroting op te stel

Probeer om nie jou begroting op ʼn stuk papier saam te stel nie en gebruik liewer ʼn rekenaarprogram soos Excel of ʼn begrotingsapp wat wys waar jy jou inkomste en uitgawes moet bysit in verskillende kategorieë saam met ingeboude formules om seker te maak jy weet waarom jy ʼn surplus of tekort het.

  1. Kry al jou finansiële dokumente bymekaar

Voordat jy begin, kry eers al jou dokumente bymekaar, soos bankstate, beleggingsdokumente, onlangse stadsraadsrekeninge, jou salarisstrokies, kredietkaartrekeninge, kwitansies vir die laaste twee maande en state vir jou huis- en motorlening, sodat jy ʼn gemiddelde uitgawe per maand kan bereken.

  1. Bereken jou inkomste

Bereken hoeveel inkomste jy per maand kan verwag. Indien jou maandelikse inkomste ʼn gewone salaris is wat maandeliks betaal word nadat belasting afgetrek is, gebruik die netto bedrag. Indien jy egter vir jouself werk of ook ander bronne van inkomste het, soos onderhoud vir ʼn kind of rente, tel dit by en skryf dit neer as die totale inkomste per maand. As jou inkomste wissel wanneer jy vir jouself werk, gebruik die maand wat jy die minste verdien as die gemiddelde inkomste per maand.

  1. Maak ʼn lys van jou maandelikse uitgawes

Maak ʼn lys van al jou maandelikse uitgawes gedurende ʼn maand, wat die volgende betalings moet insluit:

  • Huisleningpaaiemente of huur
  • Motorpaaiemente
  • Versekering
  • Kruideniersware
  • Stadsraadsrekening vir grondbelasting, water en elektrisiteit
  • Vermaak
  • Persoonlike versorging, soos jou haarkapper of skoonheidsdeskundige
  • Uiteet
  • Kindersorg, soos skool, naskoolse versorging en naskoolse aktiwiteite
  • Vervoerkoste, soos buskaartjies en taxigeld
  • Reiskoste
  • Studenteleningpaaiement
  • Spaargeld

Gebruik jou bankstate, kwitansies en kredietkaartstate van die laaste drie maande om al jou uitgawes te bepaal.

  1. Bepaal vaste en veranderlike betalings

Vaste uitgawes is verpligte betalings waarvoor jy maandeliks dieselfde bedrag betaal, soos jou huislening of huur, motorlenings, internetdiens, stadsraadsrekening en skoolgeld. Sluit ook alle ander betalings wat maandeliks hoofsaaklik dieselfde bly in. Voeg ook ʼn bepaalde bedrag vir spaar by as jy elke maand dieselfde bedrag spaar.

Veranderlike uitgawes verander van maand tot maand, soos kruideniersware, petrol, vermaak, uiteet en geskenke. Voeg ook ʼn kategorie vir nooduitgawes in wat kan opduik en jou hele begroting kan verwoes.

Skat hoeveel jy per maand aan elke kategorie onder veranderlike uitgawes bestee en gebruik jou dokumente vir die laaste drie maande om ʼn skatting te maak.

  1. Bereken die totaal vir jou maandelikse inkomste en uitgawes

Indien jou inkomste meer is as jou uitgawes, is dit ʼn goeie beginpunt. Dit beteken jy kan die ekstra geld gebruik om jou skuld vinniger af te betaal of jy kan dit spaar. Jy kan ook die begrotingsformule van “50-30-20” gebruik.

Volgens hierdie formule moet uitgawes waarsonder jy nie kan klaarkom nie die helfte van jou begroting uitmaak, terwyl uitgawes op ander kategorieë 30% moet wees en jou spaar- en skuldbetalings 20%.

Indien jou uitgawes egter meer is as jou inkomste, wat deesdae veral dikwels die geval is in Suid-Afrika, beteken dit dat jy te veel uitgee en jou besteding moet verander.

  1. Verander jou besteding

Wanneer jou uitgawes jou inkomste oorskry, moet jy plekke vind waar jy jou veranderlike betalings kan verminder. Soek vir kategorieë waar jy minder kan uitgee, soos om minder dikwels uit te eet of skrap ʼn kategorie soos jou gimnasiumbetalings en gaan draf liewer.

As die gaping tussen jou uitgawes en inkomste baie groot is of as jy baie skuld het, sal dit waarskynlik nie voldoende wees om jou veranderlike uitgawes te verminder nie. Jy sal dan moontlik jou vaste uitgawes moet verminder en jou inkomste vermeerder vir jou begroting om te klop.

Mik daarvoor om jou inkomste en uitgawes te balanseer.

Hoe om jou begroting te gebruik

Nadat jy jou begroting opgestel het, hou jou begroting maandeliks dop om seker te maak jy hou daarby. Hou rekord van alles waarop jy geld uitgee om te keer dat jy te veel bestee en jou probleemgebiede te identifiseer.

As jy sukkel met selfdissipline, is dit ʼn goeie idee om geld vir verskillende kategorieë in koeverte te sit. As die koevert dan leeg is in die middel van die maand, moet jy ophou om geld uit te gee vir daardie kategorie, of geld gebruik uit ʼn ander kategorie waarop jy dan moet bespaar.

Jou doelwit moet wees om minder te bestee as wat jou inkomste is.

Werk aan jou begroting

Hersien jou begroting soos wat jou omstandighede verander, soos wanneer jy ʼn verhoging kry, trek of ʼn nuwe asempie in die huis bykry. Gereelde hersiening sal sorg dat dit werk vir jou huidige uitgawes en waarvoor jy spaar. Jou begroting moet vir jóú werk en nie andersom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.