Nuwejaarsvoorneme vir 2021

Susan Coetzer, ’n Afrikaanse akteur, vryskutjoernalis, kunstenaar en skrywer, vertel in dié rubriek wat vrouwees vir haar beteken. Foto: Verskaf.

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds (so gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg loop nie), poog om deur vroue se verhale en ervarings, meisies en ander vroue te bemagtig en inspireer. Susan Coetzer, ’n Afrikaanse akteur, vryskutjoernalis, kunstenaar en skrywer, deel haar voornemens vir 2021.

Om die swaarkry met lekkerkry klaar te kry

Ek onthou jare gelede as jong student het ek baie groot en ambisieuse Nuwejaarsvoornemens gehad… te groot vir my eie skoene.

Ek het die balk super hoog gesit. Ek sou op 1 Januarie daardie jaar vir tien dae begin vas, en ook strawwe oefening begin doen om die oormaat bakke poeding en stukke koek van die Desembervakansie af te skud.

So gesê so gemaak. Ek het op 1 Januarie vroeg uit die bed gevlieg en 10 km gaan draf, daarna ’n uur en ’n half tennis gespeel en toe ’n paar 100 m-lengtes geswem… alles op ’n leë maag.

Ek dink julle vermoed reeds dat die goeie voornemens nie volhoubaar was nie. In elk geval nie langer as 24 uur nie. Teen laatmiddag op die tweede dag van die nuwe jaar het ek rasend van honger met ’n hoofpyn, en styf en seer en verbrand deur die son, by die naaste eetplek ingestrompel.

Ek het dubbel van al die verbode kosse bestel en verslind, waarna ek myself vir ’n week afgeboek het om van die melksuur in my spiere te herstel. Ek het sommer ook dié tyd gebruik om van die oorambisieuse voornemens te vergeet.

Hierdie mislukte Nuwejaarsvoornemens het sedertdien my uitkyk op die nuwe jaar verander. Deesdae stel ek nie meer dieselfde masogistiese doelwitte vir die komende jaar nie, maar haalbare en mensvriendelike aanpassings – en wel in klein, koubare brokkies oor 365 dae opgedeel.

Ek poog lankal nie meer om Olimpiese rekords te breek nie. Ook nie om myself te pynig en van te veel plesiertjies ontneem te word nie. My voorneme is om genadig te wees teenoor myself en nie onrealistiese doelwitte te stel nie.

Ek ken deesdae my perke. Ek ken deesdae myself baie beter – dus stel ek die balk gemaklik laag, sodat ek sommer kan oorwip én slaag.

Dus, wat is my haalbare voornemens vir 2021? Dit is nou ná ’n ongekende en vreemde 2020 van inperking saam met my ou grys worshond, Boytjie. ’n Jaar waar my bespreekte damesfunksies sedert 14 Maart almal soos domino’s gekantel het… dit daar gelaat.

Die finansiële gevolge het nuwe gewoontes gevorm. My laaste Marmite, mayonnaise en tandepasta is met tandestokkies uitgegrawe om te bespaar. My voorneme is om in 2021 die tandestokkies nie as potskrapers te gebruik nie, maar om duur steak tussen my tande uit te grawe. Ek is effens moeg vir Maggi-noodles.

My getroue ou worshond se hartpille en hoesstroop vir sy kroniese brongitis moes ook in 2020 voorkeur kry bo my hare – om dit te laat stileer en kleur by ’n salon. My voorneme vir 2021 is dat ek, ook bekend as Raponsie Coetzer, weer ’n haarkapper sal besoek om my maanhare te laat snoei, en die donker, darem nie heeltemal grys nie, haarwortels weer te laat kleur en opknap. Dalk kan ek self in 2021 weer French-tips op my naels kry. Die hoop beskaam nie.

Verder het ek die (haalbare) ambisie om weer in my knapste nommer 34 jeans in te glip en die ritssluiter lag-lag op te trek. Want ek moet bely, die meeste van my oefensessies in 2020 was beperk tot my tien vingers op die klawerbord voor die rekenaar.

Meer avontuur is ook deel van my beskeie voornemens vir 2021. Dis op my To Do List om in 2021 verder per motor te reis as net na Spar of Pick n Pay op die hoek. (Ek het wel baie geld gespaar deur vir ses maande geen brandstof in te gooi nie. Altyd iets om voor dankbaar te wees.)

Maar my grootste wens vir 2021 is om nie meer my vriende en familie so oorlogsugtig met my elmboë te stamp wanneer hulle by my voordeur inkom nie, maar om hulle baie lank en hard teen my hart te kan vasdruk.

My grootste wens en hoop vir my en jou vir 2021 is dat ons ons gesigmaskers kan laat sak. Dat ons ons tande in ’n vriendelike glimlag kan ontbloot en wys ons is mekaar goedgesind is – ook tydens hierdie ontwrigtende globale pandemie.

Ek wens julle elkeen ’n gunstige 2021 toe. Mag jou beskeie voornemens haalbaar wees. Mag ons almal meer rede vind om te glimlag. Ek haal graag C.J. Langenhoven aan: “Laat ons die swaarkry met lekkerkry klaarkry.”

Ek glo dit is haalbaar.

  • Bestel nou jou FroueVonds A5-dagbeplanner vir 2021 met inspirasiestukke uit die pen van Lynette Beer. Met die aankoop verseker jy dat die FroueVonds studiegeleenthede vir behoeftige meisies en vroue moontlik kan maak. R50 van elke dagbeplanner word teruggeploeg in die FroueVonds. Plaas jou bestelling by: https://bit.ly/3gYOekW.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.