NWU vereer ‘Noot vir Noot’-man, polisievrou en 7 ander

Johan van Rensburg. Foto: NWU

Die Noordwes-Universiteit het nege prominente alumni, wat nasionaal en internasionaal uitnemende bydraes tot die samelewing gemaak het, tydens ʼn glansgeleentheid vereer.

Johan van Rensburg van Noot vir Noot-faam het die toekenning vir kuns en kultuur ontvang. Van Rensburg, wat met die sangeres Rina Hugo getroud is, was vir meer as ’n dekade die medevervaardiger van Noot vir Noot en was ook ’n gewilde teenwoordigheid in die program se musiekgroep, die Musiekfabriek.

Van Rensburg was in 1968 ’n lid van die studenteraad van die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO). Hy het al verskeie toekennings ontvang, waaronder die NWU Kanseliersmedalje vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaanse kulturele aktiwiteite en sy verbintenis van 50 jaar met die NWU.

“Ek was baie verras en baie dankie daarvoor,” het Van Rensburg gesê toe hy uitgevind het dat hy vereer gaan word.

Elmarie Myburgh. Foto: NWU

Elmarie Myburgh, ʼn ervare sielkundige profileerder vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens, het die toekenning vir openbare diens ontvang. Myburgh is die Suid-Afrikaanse Polisiediens se mees ervare sielkundige profileerder en het 21 jaar ervaring in die veld. Sy is ook die diens se enigste kundige oor geweldsrisikoberaming.

Myburgh, wat die rang van luitenant-kolonel beklee, staan aan die hoof van die SAPD se ondersoekende sielkunde-afdeling vir forensiese dienste. Sy het al op hoëprofiel- kriminele ondersoekspanne gedien en was betrokke by die ondersoek van meer as 50 reeksmoordenaarsake, 70 reeksverkragtingsake en talle ander moordondersoeke, waaronder kindermoorde.

“Dit help mens om beter te voel oor die werk wat mense elke dag doen, so ek is baie dankbaar,” het Myburgh oor die toekenning gesê. “Dit is ʼn baie ondankbare werk en die polisie kry baie negatiewe publisiteit.”

Frederik Louw. Foto: NWU

Frederik Louw, ’n gerespekteerde skoolhoof in Namibië, het die toekenning vir gemeenskapsbetrokkenheid ontvang vir die verskil wat hy in talle kinders se lewens gemaak het sedert die opening van ’n nuwe private skool wat die pas vir akademici en skoolbesture aangee.

Die akademiese uitslae van Edugate Academy, wat Frederik in 2004 in Otjiwarongo gestig het, het die skool een van die top-10 in die land gemaak. Louw het Edugate Academy begin om aan leerders uit alle vlakke van die samelewing die geleentheid te gee om hulle drome te bewaarheid – op akademiese sowel as sportgebied.

Volgens Louw het hy gedink die universiteit het die verkeerde persoon gekontak toe hy die oproep ontvang het dat hy vereer gaan word.

Die NWU het Alumnitoekennings vir Uitnemendheid in agt kategorieë aan nege prominente alumni toegeken. Die ander alumni wat vereer is, is Maggy-Emelia Maliti-Ntshwe, ’n dinamiese entrepreneur wat die toekenning vir sakeleierskap ontvang het; Pieter Twine, bestuurder van die MySchool MyVillage MyPlanet-gemeenskapsfondsinsamelingsprogram wat die toekenning vir gemeenskapsbetrokkenheid ontvang het; prof. Mamokgethi Phakeng, visekanselier van die Universiteit van Kaapstad, wat die toekenning vir opvoedkunde ontvang het; prof. Alta Schutte, ʼn NWU-navorser in die stryd teen hipertensie, het die toekenning vir navorsing ontvang; die Olimpiese kampioen Caster Semenya het die toekenning vir sport ontvang; en Nomsa Mazibuko, ʼn dinamiese en veelsydige sosialemediabeïnvloeder, het die toekenning aan jong alumnus ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.