Odette se verbeeldingswêreld

Odette Graskie. Foto verskaf.

Haar verbeeldingswêreld neem haar op ʼn reis na die ongewone en dan vertel sy daardie stories deur middel van tekstielkuns. Ons kuier by kunstenaar Odette Graskie by haar studio op die tweede verdieping in August House.

August House in die middestad van Johannesburg was eens ʼn vervalle pakhuis en vandag is dit ʼn toonaangewende atelier wat meer as 50 kunstenaars hulle werkspasie noem. Odette is een van hierdie kunstenaars wat nou al twee jaar lank, vandat sy BA Beelde Kunste aan die Universiteit van Pretoria afstudeer het, studiospasie huur.

Grys skaduwee-lappoppe sit op die vensterbank van haar studio se groot vensters. Dié popwerk se naam het ek later uitgevind is “Sonder”. Dit beteken om te besef dat elke mens, elke vreemdeling by wie jy verbystap, ook ʼn komplekse lewe leef, net soos jy. Elkeen met sy eie vrese, geluk, vriende, bekommernisse en ambisie.

ʼn Spasie gevul met sonlig, lap, materiaal, papier, wol, fantasieverhale en die klanke van Moses Metro Man wat sing:

Met gesange van engele,
die donker nag,
wat oopmond glimlag

en die maan
wat in die wolke
rook verdwyn deur see belyn…

Ek draf verby
na plekke wat
my blind maak 

Wag nou huigelaar
bedaar
daar is meer
wat vir jou wag
breek die boks
breek die boks waarin ek bly
dan sal ʼn sonopkoms

wag vir my…

In die een hoek van Odette se studio hang gesiglose lappoppe uit die dak met die son op hulle rûe. Die lappoppe hang in verskillende groottes aan dun rekbande uit die dak. Die werk se titel is “The Sorrows” en was vanjaar te sien by die Turbine Hall Kunstefees in Johannesburg. Besoekers kon deur die hangende poppe se lywe en bene beweeg en dit was vir Odette interessant om die mense se interaksie met die poppe dop te hou. “Party mense het gesukkel om in te gaan, dit was vir hulle ʼn nagmerriewêreld. Vir ander was dit ʼn verrykende ervaring, party hardloop deur, veral kinders, en ander loop weer versigtig en stadig deur.”

Odette is ‘n fyn waarnemer (Foto: Melanie Tait)

Die titel dui op emosies. “Dit kan dui op ʼn intense gevoel van pyn, ʼn swaar hart, op iets wat hartverskeurend is. Maar hartseer maak ook gewoonlik plek vir jou hart om te jubel”. Soos Rumi geskryf het:

“Sorrow prepares you for joy. It violently sweeps everything out of your house, so that new joy can find space to enter. It shakes the yellow leaves from the bough of your heart, so that fresh, green leaves can grow in their place. It pulls up the rotten roots, so that new roots hidden beneath have room to grow. Whatever sorrow shakes from your heart, far better things will take their place.”

Sy gebruik verskillende mediums en die meeste daarvan is interaktief, maar tekstielkuns lê haar die naaste aan die hart. “Ek dink tekstielkuns dra ʼn belangrike geskiedenis saam met elke persoon. Ons almal het ʼn gunstelingtekstiel-artikel gehad – van kombersies as baba, dalk ʼn wolspeelding of ʼn gunstelingbaadjie. Ek hou van die manipuleerbaarheid van lap, hoe maklik my idees met die medium meng om iets wonderbaarlik te word.”

Odette is ook ʼn fyn waarnemer en sy skets gereeld mense. Sy sê die straatgebeure onder haar studiovenster is ʼn skatkis vol inspirasie. “Daar is altyd iets aan die gebeur in die strate hier onder my venster. Die mees onlangse skets was van ʼn man en sy trollie wat propvol waatlemoene gepak was.” Die vreemdste plek waar sy al mense geteken het, was by die lisensiekantoor. Sy hou die mense in die lang ry dop: ʼn wipneus, grootoog, pruilmond en vang dan hulle emosie vas: bedruk, blymoedig, kwaad. Buiten mense en hul gesigsuitdrukkings, is dit woorde wat Odette inspireer.

Sy gesels oor die werk wat agter haar hang: verskillende vorms uit grys en groen lap wat aan abstrakte bome laat dink. “Ek het hierdie tekstielbome in ʼn woud in Poland gemaak waar bome en skaduwees die vertrekpunt was en die einddoel was om vir elke boom ʼn persoonlikheid te gee. Die werk is geïnspireer deur die woord ‘ambedo’ – dit is ʼn kombinasiewoord wat verduidelik kan word om in ʼn melankoliese droom, ʼn tipe van hipnose te verkeer en om totaal en al deur sensoriese detail betrek te wees.” Haar uitstalling, “Ambedo”, het juis vir galerygangers gevra om stil te raak, asem te haal, om te luister, om net vir ʼn wyle aandag te skenk. Odette het die Poolse woud lewe gegee en elke besoeker kon wegraak in Odette se verbeeldingswêreld.

Sy is tans besig met ʼn nuwe tekstielprojek, groter as enigiets waaraan sy al ooit vantevore gewerk het. “Ek is tans in ʼn groot en opwindende eksperimentele fase en een van die projekte wat ek wil aanpak, is die skep van ʼn enorme installasie waarin mense kan loop”. Maar vir nou sien sy uit na ʼn roomyskoek vir haar verjaarsdag en woorde om in die nuwe jaar te inspireer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae