Oë is soveel meer as net vensters tot die siel

Lizma met haar nuwe bril en hondekinders Mimi en Lienka. (Foto: Spectacle World)

Die beeld van ʼn lang skaam meisie op hoërskool met ʼn groot diklensbril het onlangs uit die bloute in my gedagtes opgeduik die dag toe ek by die oogkundige met my eerste propperse bril wegry.

Ek het onthou hoe sy pouses so op haar eie haar toebroodjie staan en eet en gedurig die lomp bril op en af geskuif het. Ek onthou ook dat ek toe gedink het, ek wil nooit bril dra nie.

Nou doen ek, en verby is die dae van my hordes mankoliekerige readers. My splinternuwe blik op die wêreld is ook allermins ʼn onaansienlike diklensbril. Dit is ʼn multifokale nommertjie wat nommerpas is vir my gesigvorm en gelaatskleur, danksy die eksperts wat my deeglik onder oë gehad het. Dit is egter net ʼn bonus, want die “heldersiendheid” danksy die “een-vir-alles-bril” is op sigself die grootste geskenk.

Ek het die soort toestand wat met ouer word gepaardgaan. Oogkundige Adele Camarena verduidelik dat “presbiopie” aan die orde van die dag is wanneer jy jou veertigs bereik. “Presbiopie word deur die verharding van die lens in jou oë veroorsaak omdat hierdie einste lens aanhoudend dikker word omdat dit aanhou groei. Jy weet dit is aan die gebeur wanneer jy begin sukkel om te sien wat op jou slimfoonskerm aangaan, of jou boek of koerant wegskuif sodat die teks in fokus is.

Volgens Camarena, direkteur en oogkundige van Camarena Porter Optometrist Inc., wat onder die Spectacle World-groep val, is dit om dié rede noodsaaklik dat jy elke twee jaar jou oë laat toets. Sodra jy begin sukkel om te lees of ʼn padteken in die verte te sien, is dit volgens Camarena tyd vir ʼn oogtoets.

“Jy kan jouself vertel dat jy net ʼn paar ‘lesers’ van die apteek benodig om jou moeë oë te help vir rekenaarwerk of slaaptydlees, maar die waarheid is dat jy dalk eerder voorskrifhulp nodig het wat spesifiek opgemeet is met die korrekte optiesgesentreerde lense vir elke afsonderlike oog.”

Tydens die oogtoets word jou oë vir risikofaktore en okulêre siektes ondersoek. Verskillende aspekte van jou visie soos jou periferale visie, oogbewegings, fokusvermoë, om kleur te sien en diepte te skat, asook die skerpheid van jou visie word dan gemeet.

Camarena sê hierdie gereelde besoeke sal ook verseker dat moontlike ernstige oogprobleme gediagnoseer en behoorlik bestuur word voordat dit jou visie en algemene gesondheid beïnvloed. Oogkundiges kyk dus na veel meer as net visiesterkte. Hulle hou hul oë oop vir onder meer diabetes en hoë cholesterol en ʼn deeglike oogontleding kan selfs ook tiroïedprobleme, rumatoïede artritis, breingewasse, Lyme-siekte, veelvuldige sklerose (MS) en sekere soorte kanker uitwys. ʼn Oogkundige sal egter nooit self ʼn diagnose maak nie, maar jou aanraai om jou dokter te gaan spreek.

Van die ernstigste oogtoestande wat uitgewys kan word, is diabetiese retinopatie, gloukoom en makulêre degenerasie wat veral onder bejaardes voorkom en een van die hoofoorsake van blindheid is.

“Katarakte sal waarskynlik tydens die latere jare verskyn as gevolg van die interne lensveranderings wat veroorsaak dat die lens dowwer raak. Amper iets soos sandblasting,” verduidelik Camarena. Sy beskryf ʼn katarak as ʼn “bewolkte ooglens” wat wêreldwyd die grootste oorsaak van blindheid is.

“Baie mense sukkel ook met droë oë weens ʼn ‘traanresep’ wat minder olie of water in ons trane bevat.” Veranderings in die oppervlak van die oog en ʼn lipiedtekort is ander oorsake, maar daar is eenvoudige kure vir dié algemene lastigheid. Traanvogoogdruppels, ʼn warm, klam doek en Omega 3 sal moontlik verligting kan bring.

Adele Camarena (Foto: Spectacle World)

Camarena sê periferale visie, ook bekend as kantvisie, is nog ʼn redelik algemene probleem wat gevaarlik kan wees veral wanneer jy bestuur. Periferale visie is een van die nagevolge van gloukoom. Dit is ʼn siekte wat die optiese senuwee in jou oog beskadig en uiteindelik tot blindheid kan lei.

As jy reeds ʼn voorskrifbril of -kontaklense dra, is dit ook noodsaaklik om elke twee jaar ʼn draai by die oogkundige te maak omdat ons oë gedurig verander.

Talle mense skram egter weg van ʼn besoek aan ʼn oogkundige weens die onsekerheid oor wat die proses gaan behels. Camarena waarborg dat dit niks is om voor bang te wees nie. Die proses begin met vrae oor jou mediese geskiedenis waarna die oogtoets volg. Die oogkundige sal jou na afloop van die ondersoek in kennis stel of jy ʼn voorskrifbril nodig het, raad gee oor oor-die-toonbank medikasie soos oogdruppels en dieetaanvullings, en ook of jy jou dokter moet gaan spreek indien enigiets kommerwekkend opgemerk is. ʼn Verwysing na ʼn oogspesialis sal ook plaasvind indien die oogkundige van mening is dat refraktiewe sjirurgie benodig word.

Camarena sê as ʼn onafhanklike oogkundige vir meer as 30 jaar was dit nog altyd vir haar van groot belang om net die beste vir haar kliënte te bied. “Swak sig is ʼn gestremdheid wat ʼn enorme uitwerking op jou sukses en sekuriteit kan hê. ʼn Bril of kontaklense stel jou in staat om goed te sien en terselfdertyd goed te lyk. Dis wonderlik as die raam die kliënt selfversekerd en aantreklik laat voel.”

Camarena oordryf nie as sy sê sy en haar span gaan uit hulle pad om hulle kliënte mooi te laat lyk en voel nie. Haar praktyk was die eerste in Suid-Afrika om ʼn sertifikaat te verwerf in die kuns van brilraamstilering (the art of eyewear styling). Die raam waarmee jy uitstap sal jou hare, velkleur, gesigsvorm en persoonlikheid komplimenteer.

Camarena se span het geleer om die ses verskillende stylpersoonlikhede te kan identifiseer en dan die perfekte raam te verskaf. Sy vertel dat hulle die kursus tydens die inperkingstyd voltooi het en dat dit gróót pret was.

Kleur speel ʼn reuserol wanneer dit by die keuse van rame kom, aangesien dit jou voorkoms ʼn onmiddellike hupstoot kan gee. Sy sê hoewel die meeste mense bruin- of swartraambrille verkies, doen dit nie altyd veel vir jou voorkoms nie. “Jou brilraam moet jou persoonlikheid en styl weerspieël – van natuurlik tot dramaties en klassiek, of ietsie anders vir die dapperes. Die regte raam kan jou selfs jonger laat lyk,” voeg Camarena by.

Sy bekragtig hoe die Covid-19-pandemie groot skuiwe meegebring het wanneer dit kom by hoe ons voel en wil leef. Mense se siening oor mode het ook verander. “Ons moet bewus wees van die keuses wat ons kliënte maak, byvoorbeeld om vir eens en vir altyd van haarkleurbuisies ontslae te raak en jou grys te aanvaar. En ons sorg dat jou nuwe rocking grys hare en brilraam nommerpas is.”

Terloops, die 70’s, 80’s en 90’s is weer hoogmode, maar met ʼn moderne kinkel. “Brille is nie meer ʼn moet-hê nie, maar eerder ʼn modeverklaring.”

Deurskynende rame is ook deesdae uiters gewild, maar uitstaan kleurvolle rame asook dié met handgemaakte afwerkings is net so in aanvraag. Die ronde raam asook dun, liggewig goue rame en die sogenaamde “kat-oog” het ook weer hulle terugkeer gemaak. Geometriese rame is modieus en selfs meer aantreklik met ʼn brilkettinkie wat dié seisoen weer “in” is.

Dit klink dalk alles duur, maar Camarena verseker dat jy nie jou bankbalans hoef te knak om van dié rame te kan bekostig nie.

Nog belangriker: Vir diegene wat baie ure voor hulle rekenaars spandeer, is ʼn bril met ʼn blouligfilterlens ʼn noodsaaklikheid!

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.