Oliebol-inisiatief maak kinderharte bly

Die Krispy Kreme Kourage oliebol. (Foto: Verskaf)

Jong Suid-Afrikaners wat aan siektes soos kanker, nierversaking of bloedsiektes ly, sal dié Kersfees hul drome bewaarheid, danksy landgenote wat Krispy Kreme-oliebolle koop.

Die kettinggroep wat al sedert 2015 in Suid-Afrika is, het vanjaar onderneem om ʼn gedeelte van die wins uit die verkope van sy Kourage-oliebolle dié feestyd aan die Reach for a Dream-stigting te skenk.

Reach for a Dream beywer hom om jaarliks talle jong lyers aan verskeie siektes se drome te laat waar word, hetsy dit ʼn groot inkopiedag is, om perd te ry of ʼn sportheld te ontmoet. Elke wens is so uniek soos elke kind.

Krispy Kreme werk al sowat twee jaar agter die skerms saam met dié organisasie en het tot dusver 39 kinders se drome laat waar word. Elke droom wat in vennootskap tussen die organisasies uitgevoer word, word in ʼn Krispy Kreme-winkel bewaarheid, “want dit is waar magiese oomblikke elke dag plaasvind”.

“Ons wil nou lede van die samelewing ʼn kans gee om dié kindertjies se drome te bewaarheid en dus maak ons die Krispy Dreamers-inisiatief deel van ons produkte. Ons wil graag die kinders se moed, wilskrag en krag vier,” sê Kayleigh Cameron, ʼn bemarkingspesialis by Krispy Kreme.

Een dromer wie se wens die organisasies waar laat word het, is jong Thapelo wat net graag ʼn brandweerstasie wou besoek. Lede van die organisasies het hom na die Sandton-brandweerstasie geneem, waar hy ʼn uniform kon aantrek en ʼn brandweertoer onderneem. Thapelo het ook ʼn boks oliebolle en sy eie Playstation en monitor, waarop hy kan speel, ontvang.

Nog ʼn jong dromer, 14-jarige Brooke wat aan leukemie ly, wou op enige TV-program verskyn om mense meer bewus van die siekte te maak en hulle ook te inspireer. Sy het toe op die TV-program RealTalk op SABC3 verskyn.

ʼn Ander seun, Lebo, se droom was om sy eie teddiebeer te ontvang. Lebo het nie net een yslike groot teddiebeer gekry nie, maar verskeie kleiner teddies ook. Hy het van oor tot oor geglimlag.

Die inisiatief sal voortduur tot alle voorraad uitverkoop is. Dit is van 2 Desember vanjaar tot 1 Januarie 2020 beskikbaar. Besoek Krispy Kreme se webwerf vir jou naaste winkel en meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.