Olifant spog nou met rare tweeling

(Foto: AFP/Jane Wynard/Save the Elephants)

’n Olifantkoei genaamd Bora het onlangs lewe geskenk aan ’n tweeling in die wildreservaat Samburu, in die noorde van Kenia.

Volgens wildbewaarders is dié verskynsel een wat byna nooit voorkom nie. Die gesin is vir die eerste keer raakgesien deur ’n groep gelukkige toergidse verlede naweek.

Videogrepe wys hoe die dae oue tweeling, een vers- en een bulkalf, gewoond raak aan hul nuwe tuiste saam met ma Bora en haar eerste kalfie. Dié is al in 2017 gebore.

In vergelyking met ander soogdiere dra Afrika-olifante die langste aan hul kleintjies – ’n volle 22 maande. Dié reusedier gee om en by elke vier jaar geboorte.

Iain Douglas-Hamilton, stigter van die Save the Elephants-bewaringstigting, het die skaarsheid van die geboorte benadruk. “’n Mens kom nie regtig tweelinge teë nie, hulle vorm omtrent 1% van olifantgeboortes.”

Die probleem met die tweeling-verskynsel is dat hulle nie altyd oorleef nie. Die laaste tweeling wat in Samburu gewaar is, in 2006, het nie langer as ’n paar dae oorleef nie.

“Die olifantkoei het gewoonlik nie genoeg melk om albei kalfies aan die lewe te hou nie,” het Douglas-Hamilton verduidelik.

Die wildbewaarders hou duim vas dat dié tweeling sal oorleef. “Die volgende paar dae gaan moeilik wees, maar ons hoop almal dat hulle sal lewe.”

Volgens Kenia se wildsensus, wat die eerste keer in 2021 uitgevoer is, spog Kenia met ongeveer 36 280 olifante. Die olifante laat nie op hulle wag nie, die syfer toon ’n 12%-groei vandat die laaste opname van die bevolking in 2014 gedoen is. Die rede hiervoor kan toegeskryf word aan ’n afname in ivoorhandel.

Die Wêreldbewaringsunie (oftewel die International Union for the Conservation of Nature – IUCN) het laas jaar gewaarsku teen stropery en die vernietiging van habitatte. Laasgenoemde kwessie kan toegeskryf word aan die omskakeling van grond vir landboudoeleindes, en het verreikende gevolge vir die voortbestaan van olifante in dié land.

Die olifantbevolking het in die afgelope 50 jaar drasties verminder. Dit het die IUCN laat besluit om dié reuse van die grasvlaktes op die rooi lys van bedreigde spesies te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
AW

Wonderlik !!

SomeOne

pragtig, hou hulle dop en sodra ‘n probleem wil opduik, kry die swak kalfie weg van sy ma af en gaan versorg hom/haar
ek verstaan ook die probleem van diere wat van hul ma’s weggeneem word, maar vir oorlewing sal dit dalk ‘n goeie besluit wees

Diline

Hulle is pragtig – hoop altwee maak dit

Andre

Pragtig!

Surizaru

Hoop die tweetjies oorleef!!

“Videogrepe wys hoe die dae oue tweeling, een vers en een kalf, gewoond raak aan hul nuwe tuiste…” Moes dit dalk lees: “een vers en een bul”?