Om hoop te gee met ’n jaggeweer

Margolé Riekert, projekkoördineerder van HelpJag, Bakkies Botha en René Roux. (Foto: Verskaf.)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. René Roux, Helpende Hand se adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie en verteenwoordiger van die #StopHonger-veldtog en die FroueVonds, vertel van die eerste bok wat sy tydens die inperking vir #HelpJag geskiet het om te sorg dat behoeftige gesinne gesonde wildvleis op die tafel kan kry.

Ek is vrou, ek is jagter

Vanjaar het ek te midde die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande vlak 3-inperkingsregulasies die FroueVonds in die Bosveld verteenwoordig. Salig sit ek langs die Bosveldvuur en maak my gereed vir #HelpJag se jaarlikse jagtog saam met van die rolspelers en ambassadeurs wat drie jaar gelede dié inisiatief van stapel gestuur het.

Hierdie jaar brand die vlamme hoog terwyl die grootwild stil hier in die hartjie van Limpopo op die plaas Lichenry rondloop. Die HelpJag-span was so bevoorreg om hierdie jaar ’n massiewe borg te ontvang van dié vyfsterplaas en die manne by New Heights Security.

Langs my om die hardekole sit twee van HelpJag se ambassadeurs. Bakkies Botha vertel staaltjies dat die manne huil soos hulle lag. Adam Tas se diep stem maak ons almal rustig terwyl ons gesels oor boogjag en watter bokke ons die volgende dag in die veld gaan soek. Ons word so bietjie stil en verlang na Appel wat hierdie jaar by ons sou aansluit, maar dit ongelukkig nie kon maak nie.

As medestigter van die FroueVonds pak ek die volgende dag die uitdaging aan om te gaan jag. My senuwees is klaar, want dit sal die eerste bok wees wat ek gaan skiet. Ek wil nie kwes nie en ek wil nie mis nie. Dan onthou ek die toonbeeld van die hedendaagse vrou – fyn en klein soos wat sy soms voorkom, het sy die hart van ’n leeu. Sy glo sy kan enige iets doen en enige pad stap, solank sy die selfvertroue bymekaar kan skrap en saam met haar Hemelse Vader die grondpad aandurf.

Met sonsopkoms drink ons almal saam ’n lekker koppie boeretroos en maak reg om te gaan jag en sodoende te sorg dat 160 kinders vir ’n maand lank wildvleis as ’n bron van proteïene kan kry.

Die dag hou baie opwinding in vir die jagters van hierdie jagtog – elkeen weet hoekom hy hier is en elkeen doen sy deel om ’n verskil te maak aan hongersnood onder behoeftiges in ons land. Ons is uit in die veld saam met ’n beroepsjagter en spoorsnyers. Die winterson skyn sag op ons koue hande. Terwyl ons loop, dink ek aan die woorde van Adam Tas se lied “Waidmannsheil” (Jagtersgroet wat beteken: Lekker jag!) “Waidmannsheil! My vellies loop stil spore in die sand…”

My beurt het ook nou aangebreek om my eerste bok te jag en die woorde gaan weer deur my gedagtes: “Waidmannsheil! Dis hoe ons mekaar dan groet. Waidmannsheil! Daar’s ’n takkie in my hoed…”

Met ’n .308-Musgrave met Bushnell-teleskoop en Aimsonic-knaldemper kry ek ook die geleentheid om ’n rooibok in die visier te kry. Met baie leiding en geduld van een van my kolegas, trek ek die sneller en maak my eie geringe bydrae tot HelpJag.

Hierdie was voorwaar ’n onbeskryflike ervaring en een wat ek nooit sal vergeet nie. Elke vrou het natuurlik ook ’n ander sterk vrou wat altyd langs haar staan en in hierdie geval was dit my kollega, vriendin en ook projekorganiseerder van #Helpjag – Margolé Riekert. Dit is daardie persoon wat jou moed inpraat en saam jou fees vier as jy sukses behaal. Wie is ons vroue nou eintlik sonder daardie ander vroue in ons lewens?

Met aandete kan ons saam as vriende gesels en terugkyk na 2020 se jagseisoen wat nog nie verby is nie. Ons kan saam hande vat in dankbaarheid vir die 16,5 ton wildsvleis wat al ingesamel is ten spyte van die pandemie. Ons verwagtinge vir hierdie teiken is ver oorskry en dit is alles te danke aan die publiek wat skenk vir die #HelpJag-inisiatief.

Dit is tyd om die bosveld te groet, vir nou. Ons trek met trots ons ambassadeurs se klerereeks aan. Ons wil nie regtig terugkeer na die kettings van die stad nie, want die bosveld en sy glorie laat jou vergeet van Covid-19 en al die hartseer wat daarmee saamgaan. Maar ons weet ook saam met ons bring ons ’n stukkie hoop terug na die Jakarandastad. Ons bring kos terug vir honger kinders en ons sal aanhou om dit te doen solank as wat die 8 000 kleuters ons nodig het.

HelpJag het oor die jare al meer as 50 ton wildsvleis vir honger kinders ingesamel. Jy kan help as jag ook deur jou are vloei. Besoek www.helpjag.co.za as jy net ’n bydrae wil maak.

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alta

Alles klink goed en wel. Ons weet almal van mense wat hongerkry in hierdie tyd. Maar is dit REGTIG nodig om ‘n onskuldige dier dood te skiet vir kos? Daar kan myns insiens ‘n ander plan gemaak word om kos te voorsien.

Alta

Dan staan julle nog met ‘n bree glimlag. Volgende foto seker die arme bokkie wat jul geskiet het. Ek is bly ek hoef nie deel te wees van Frouevonds nie. Julle stel nie ‘n voorbeeld vir ons nageslag nie. So, die hele geleentheid val plat in my oe en my menswees!

Trotse Boervrou

Indien niemand help met die uitdun van die diere nie sal daar oorbeweiding wees en dan vrek al die ander arme diere weens honger. Ten minste word honger mense ook gevoed in die proses. Buiten dat hul getalle in toom gehou moet word is jag ook ‘n bedryf en inkomste vir baie mense. Realiteit is natuurlik dat dit ook al eeue deel is van die mens se bestaan. Moet asb nie jagters slegsê nie.

Rudolph

Ons smaak en vermaak kan nooit belangriker wees as ‘n dier se lewe nie. Ons voortrekker voorsade moes jag om aan die lewe te bly toe hulle op trek was na die binneland. Dit was vir hulle ‘n saak van lewe of dood. Ons is nie meer in ‘n lewe of dood stryd gewikkel nie so jag gaan vandag oor smaak, vermaak en die poets van egos met FB fotos en artikels om ons beeld te poets. Laat die natuur sy gang gaan met wildediere. Die beste ding wat ons met hulle kan doen is om op te hou om… Lees meer »

Gysbert

Daar is n paar redes hoekom ek van jag hou.
1. Wildsvleis is gesonder as daai plastiek goed wat jy in die winkel koop.
2. Biltong en droëwors smaak bitterlik lekker.
3. Dis lekker om heeldag lank in die veld te stap. Soms selfs vir n paar dae lank.
4. Ek weet ek doen iets wat sommige andersdenkende mense irriteer.