Om Ma te wees in uitdagende tye

Tanya Rossouw, ’n maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand. (Foto: Verskaf.)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds (so gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg loop nie), poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om pilare in hul gemeenskappe te word. Tanya Rossouw, ’n maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand se streek in die Vrystaat, vertel hoe bevoorreg sy is om ’n ma te mag wees.

Die dankbaarheid van ’n kind maak die seer soveel beter

Ek glo in God die Vader se vermoëns. Ek glo dat Hy presies weet wat Hy doen. Ek glo daarom dat elke vrou wat Hy nog ooit gemaak het, ’n droom was wat voor Sy oë gerealiseer het. Ek glo vas dat dit nie net “massaproduksie” was om die aarde vol te kry nie, of om vir elke man ’n huweliksmaat te voorsien nie.

Dis so ’n voorreg om ’n vrou te mag wees. Vandag deel ek graag bietjie van my voorreg om ook ’n mamma te mag wees.

Ek het geleer dat daar niks is soos ’n mamma se gemoed om ’n hele gesin se gemoed vir die dag te bepaal nie. Sjoe, nè. As mamma kan oortuig dat alles wel is, glimlag die res van die gesin heel waarskynlik vir die res van die dag. Niemand weet noodwendig dat dit nie met mamma op daardie oomblik goed gaan nie. Hoe waar is dit nie? Dis meestal mammas wat daai veilige plekkie skep vir haar gesin om in vrede te mag wees. Dis so jammer baie mammas besef nooit regtig dat ’n konfytbroodjie saam met liefde en ’n drukkie, koningskos is nie. Alles kan maar skeef loop in jou dag, maar die wete dat mamma wag om te luister, te troos en liefdevol raad te gee sonder verwyte – dit maak vir altyd ’n indruk op jou kind.

Dis belangrik dat mammas weer onthou dat hulle spesiaal is. Dat hulle optredes van vandag en elke dag in hulle kinders se lewe afgeëts word.

Toe my kinders klein was, was finansies skaars. Daar was ’n stadium wat mieliepap ons “koningskos” was. Hoe kosbaar was dit om te hoor, ná die soveelste dag van net pap en melk: “Dankie, mamma, die kos was heerlik! Dis al mamma se liefde wat die kos so lekker maak!”

Trane rol daar waar hulle jou nie sien nie, want die swaarkry vat hard aan mamma, maar die dankbaarheid van ’n kind maak die seer soveel beter.

Ek onthou al die kere wat hul maats gereeld in ’n ry op my kombuiskas kom klim het – seuntjies, seuntjies daar in ’n ry – en al hul hartseer uit hul ouerhuise kom deel het, want hierdie mamma wat nie hul biologiese mamma was nie, het geluister, getroos en raad gegee. Ons arm huisie was hul veilige hawe. Wat ’n voorreg was dit nie vir hierdie mamma nie.

“Kom praat met my mamma – sy sal jou kan help.”

Die liefde oorwin alles, sê die Woord. Baie keer het ek vir die Here gevra dat in my arm omstandighede Hy genoeg liefde sal uitstort in my Jerusalem – my huis vir my gesin – wat sal oorvloei na Judea en dan Samaria en ook tot in die uithoeke van die aarde. Ons hoef nie die uithoeke van die aarde te bereik nie. Jerusalem is jou eerste en heel belangrikste opdrag. Maar daar was genoeg liefde vir die seuntjiemaatjies van Judea en Samaria ook. Hulle het gereeld my selfgebakte beskuit (wat bedoel was om ’n maand lank te hou) in een middag op die kombuiskas verorber. Daar waar die oor, die raad, die drukkies en die liefde was. Daar kon ’n man maar bietjie huil. Daai was veilige grond.

Die omslag van die FroueVonds A5-dagbeplanner vir 2021. (Foto: Verskaf.)

Onlangs kry ek weer ’n boodskappie van een van my eie: “Dankie, mamma – as dit nie vir jou was in my lewe nie sou ek dit nooit so ver kon maak nie”.

Gewigtige woorde vir ’n man van 20 wat saam deur baie harde tye is. Sonder geld, sonder luuksheid, sonder geleenthede vir verder studeer, maar met tonne opregte liefde is hulle my anker vandag. Manne na God se hart.

Dit begin by ’n mamma wat haar waarde ken en wat weet dat God die Vader geen foute maak nie.

  • Bestel nou jou FroueVonds A5-dagbeplanner vir 2021 met inspirasiestukke uit die pen van Lynette Beer. Met die aankoop verseker jy dat die FroueVonds studiegeleenthede vir behoeftige meisies en vroue moontlik kan maak. R50 van elke dagbeplanner word teruggeploeg in die FroueVonds. Plaas jou bestelling by: https://bit.ly/3gYOekW.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Chris dupreez

Is sy nie pragtig nie