Om ’n bruggie te bou vir ’n kind

kind-veld-grasse-pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Bemagtig ʼn kind” – drie pragtige woorde wat met ʼn groot verantwoordelikheid gepaardgaan. As ek net sit en dink aan my eie vyfjarige dogtertjie en die krag en genade wat ek elke dag ontvang om na haar fisieke, geestelike, kulturele en sosio-emosionele welstand om te sien, sit ek stil en vol dankbaarheid op ʼn mat in my slaapkamer en sê: “Dankie, Here”. Ek sê nie net dankie vir die feit dat ek en my man albei kan werk en voorsien nie, maar dat ons haar bowenal kan bemagtig.

Om ʼn kind te bemagtig, beteken om vir hom of haar verdedigingsvermoë, weerstand en groeikrag te bied. Projekte wat bemagtiging bevorder, poog om selfbeeld te verbeter en verleen simboliese en/of materiële bronne vir diegene wat hulself in ongunstige posisies bevind om ’n positiewe verandering in hul lewens te bewerkstellig.

As mamma het ek al telkemale die volgende woorde gehoor: “Jy benodig ʼn netwerk om ʼn kind groot te maak”. Ek is innig dankbaar vir my ondersteuningsnetwerk, en hulle is wyd en syd versprei: vriende, familie, kollegas en geliefdes in God wat my help om my kind te bemagtig.

Verbeel jou nou jy sit self in ʼn raadsaal en voor jou is kindergesiggies op papier, van hulle het jy al besoek en saam met die gesinne gebid. Hierdie kindergesigpapiere is aansoeke om hulp. Hierdie is nie jou kind nie, hierdie kind se ma en pa het nie dieselfde ondersteuningsnetwerke wat ander mammas en pappas het nie. Hierdie kind is in baie opsigte alleen, maar hierdie kind het ʼn naam – haar naam is Linka Potgieter*, en haar troetelnaam is Lienks. Klein Lienks kan nie voldoende gevoed word by die huis nie omdat die nodige ondersteuningsnetwerk en ‑struktuur nie in plek is nie. Haar ouers sukkel om haar by die skool te kry, want dit is te ver en albei is werkloos. Hul woon in ʼn sinkdakhuisie agter in iemand anders se erf, en die hartseer struikel elke liewe dag aan haar mamma se hart. Mammawees is nie ʼn kinderspeletjie nie, maar in hierdie omstandighede voel dit onmoontlik.

Lienks is lief vir haar hondjie, Spike. Spike hou nie van groente nie, maar kry dit ook nooit nie; so sy kla nie en eet graag dit wat haar ouers wel kan voorsien. Klein Lienks is lief vir skool toe gaan, maar mis so baie skooldae dat sy nie voorbly met haar skoolwerk nie. Die kinders by die skool hou hul afstand van Lienks, want sy kan nie, soos hulle, saans ʼn warm bad of stort vat nie. Sy word geboelie, en met elke boelie-opmerking bloei haar pappa se hart, want hy is saam met God haar beskermer. Pappa en mamma wil ʼn beter toekoms vir klein Linka bied.

kinders_stap_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Vandag lê Linka se aansoekvorm om hulp deur die Bemagtig-ʼn-kind-projek op die raadsaaltafel voor my, saam met talle ander blou, groen en bruin ogies wat skree vir hulp. Hoe help mens al hierdie kinders? Deur netwerke en strukture. Linka moet die opleiding ontvang wat haar toekom. Sy wil dan so graag leer en lees en lag en leef. Boonop is Lienks ʼn uitmuntende klein netbal- en skaakspelertjie met onuitputbare potensiaal. Baie ouers sal hul kinders vier keer die aantal buitemuurse aktiwiteite laat doen, waar Lienks nie eers aan een kan deelneem nie.

Die woorde in die raadsaal lui: “Waar kan ons vir Lienks help? Is daar genoeg fondse?” Nee, daar is nie genoeg geld nie, daar is net voorsiening en genade van bo. “Kom ons help in geloofsoortuiging,” volg die woorde. “Die geld sal inkom.”

Te danke aan jou en jou medemens wat hier lees, is jou netwerk nou Lienks se mamma se netwerk. Al ken sy jou nie op jou naam nie, bly die waardering oneindig groot.

Linka kan nou in ʼn koshuis woon, waar sy elke dag twee borde kos ontvang. Sy kan saam met haar maatjies speel. Sy kan in netbal floreer. Sy kan veilig slaap en huiswerk doen sonder ʼn kers, maar met ʼn lig wat in haar eie kamer helder brand. Lienks se opleidingsmoontlikhede en toekoms is voorspoedig.

Daar is egter talle ander gesiggies wat nog op die raadsaaltafel lê, asook talle ander wat nog kom.

Gaan jy saam met ons ʼn sterk ondersteuningstruktuur en -netwerk vorm vir hierdie mamma en haar dogtertjie?

Hierdie verhaal kon ʼn ander uitkoms gehad het, as die gemeenskap nie saamgestaan en fondse aan die Bemagtig-ʼn-kind-projek voorsien het nie. Sonder die gemeenskap sou Helpende Hand nie kon intree en help nie. Hierdie is ʼn besonderse voorbeeld van ʼn gemeenskap wat saamstaan om mekaar te help.

As jy hierdie artikel lees, en jy wil en kan ook help, besoek gerus ons webwerf, sluit aan as ʼn ondersteuner of SMS die woord KIND na 45763 (SMS kos R2) en help ons om kinders te bemagtig.

*Linka Potgieter is ʼn skuilnaam wat gebruik word om die identiteit van hierdie dogter te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.