Om ’n kind te help om kind te wees

seun-skooltas-pixabay-bemagtig-n-kind.jpg

(Foto: Ambermb/Pixabay)

Deur René Roux

Een van die grootste behoeftes wat ʼn kind het en net nooit ontgroei nie, is om te behoort. Om ingebind te word by ʼn netwerk van mense wat ons nie net lief het nie, maar verstaan en omgee.

Alhoewel daar by sommiges van ons ʼn netwerk van omgee ontbreek, is daar tog een persoon wat minstens ons behoeftes op die hart dra. Daardie een persoon wat jy met jou lewe kan vertrou en altyd op staatmaak, maak nie saak watse storms hierdie lewe ook al mag bied nie.

Een groot hartseer tendens van ons samelewing is kinders wat vaderloos grootword.  Nathan* is een van hierdie kinders wat moes leer om kind te wees sonder ʼn pappa in sy lewe. ʼn Pappa wat hom leer bal skop, finansieel voorsien, leer Bybel lees en hom voorberei op die lewe van grootwees. Nathan se pappa en mamma was nooit getroud nie.  Sy pa het kort voor sy geboorte totaal en al uit hul lewens verdwyn. Sommer net weggeloop en sy mamma agtergelaat met ʼn seuntjie wat sy op haar eie moes grootmaak.

Nathan se mamma het regtig swaargetrek en veral finansieel was dit ʼn stryd.  Maar toe ontmoet sy vir oom Bossie*. Nathan was uit sy vel van opgewondenheid want nou sou hy ook ’n pappa hê soos sy maatjies.

kind-speel-bal-piekniek-elanamarsh-pixabay.jpg

(Foto: Elanamarsh/Pixabay)

Met oom Bossie in die huis was daar nou meer kos en sy mamma het baie gelag. Nie te lank nie, toe kry Nathan ’n babasussie.  Sy was vir hom die mooiste ou dogtertjie wat nog gebore is. Kort na sussie se koms, het Nathan nog ʼn boetie bygekry. Maar nie so lank nadat boetie gebore is nie, het oom Bossie al hoe minder huis toe begin kom en sy mamma se lag het minder geword.

Eendag het oom Bossie net soos Nathan se pappa net nie weer teruggekeer huis toe nie. Mamma het vir Nathan vertel dat oom Bossie nie weer sal terugkom nie want hy het nou ʼn ander gesin.

Nathan se hart was stukkend. Netso is die pa-figuur uit sy lewe weggeruk. Weer het die bose kringloop van armoede hierdie gesin getref, maar nou is dit soveel erger, want daar is nog ʼn boetie en ʼn sussie wat swaarkry, wat ook ʼn pappa verloor het.

Ongelukkig is sy mamma se inkomste glad nie genoeg om in die gesin se behoeftes te voorsien nie. So breek die tyd aan dat Nathan moet skool toe gaan. Sy ma is platgeslaan van bekommernis. Die dorp waar hulle woon, het nie ʼn skool nie en gaan hy na die buurdorp se skool toe, moet hy in die koshuis bly en daar is net nie geld daarvoor nie.

 seun-lees-bemagtig-n-kind-pixabay.jpg

(Foto: StockSnap/Pixabay)

Nathan se mamma het van die Bemagtig-’n-Kind‑fonds te hore gekom en het die Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werker in hulle streek gekontak.  Bemagtig ’n Kind het hand opgesteek en Nathan kon skool toe gaan en sommer ook in die koshuis woon. Solidariteit Helpende Hand help ook vir Nathan se mamma met busvervoer. Nathan is baie gelukkig in die skool en in die koshuis en pas goed aan.

Ons sal nooit die pappa-rol in Nathan se lewe kan inneem nie, maar ons kan saam met hom die pad stap. Sy lewe, sy opvoeding, sy kindwees en die wete dat hy nie alleen is nie, is vir ons baie belangrik.

Hierdie verhaal kon ʼn ander uiteinde gehad het as die gemeenskap nie saamgestaan en fondse aan die Bemagtig-ʼn-Kind-projek voorsien het nie. Sonder die gemeenskap sou Helpende Hand nie kon intree en help nie. Dit is ʼn besonderse voorbeeld van ʼn gemeenskap wat saamstaan om mekaar te help.

Dankie weereens aan elke persoon wat aanhou gee vir die Bemagtig-ʼn-Kind-fonds. As jy vandag hier lees, en jy wil en kan ook help, besoek gerus www.bemagtignkind.co.za. Jy kan vandag ʼn verskil maak; ʼn verskil wat ʼn leeftyd gaan voortduur.

Om deel te word van die Helpende Hand‑familie besoek www.sluitaan.co.za.

  • Oom Bossie* en Nathan* is skuilname wat gebruik word om die familie se identiteit te beskerm.
  • René Roux is die adjunk-uitvoerende hoof by Solidariteit Helpende Hand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.