Om self te pluk

Die wingerdboord. (Foto: Verskaf)

Was dit nie gisteraand vir die taai, effens persgevlekte vingers en ’n stywe rug nie, sou ek myself moes knyp om te kon glo wat ek gister vir die eerste keer gedoen het. ’n Dag van eerstes gekombineer met die sagte verskyning van herfs in die Boland. ’n Dag van soveel mooi en lekker dat, al word jou geheue mettertyd ook hoe mistig, beelde en geure hul weg deur die dynserigheid sal beur.

Woordsmede met baie meer skietgoed in hul skryfarsenaal word eintlik benodig om dié Bolandse prentjie te skilder.

Ons is ’n groep vriende in ’n varsgeoeste wingerd wat die vergete trossies (met toestemming) hulle s’n maak. Agter ons die Jonkershoekberge wat magtig en trots uittroon, selfs ná al die seer en skade van die onlangse wegholbrande. En soos elke keer wanneer die vlamme alles verteer so ver hulle gaan, skiet grasgroen spriete reeds skaam-skaam, maar met vasberadenheid uit die as.

Dis die ongelooflike weerstandigheid van die natuur wat my altyd weer moed gee, die feniks wat altyd herrys.

En so stap die grootmense met hul kratte en emmertjies deur die boord om die druiwe wat agtergebly het, sommer met die hand af te pluk vir buurman-bo se wynmaakeksperiment.

Daar word nie veel gepraat nie en soos die minute verbytik, word die ritme van buk, pluk en ingooi amper soos meditasie en stap jou gedagtes sommer net ver paaie – na mense en dinge van gister. Hier en daar kyk ons op wanneer een van die kinders van êrens af in die wingerd trots uitroep dat hy op ’n groot, vol tros tussen die yl stokke afgekom het (laasgenoemde was maar skaars, want die amptelike plukkers het met hulle snoeiskêre gewikkel). Of ons prop een van die suikersoet pers korrels in ons mond en staan ’n oomblik tjoepstil vir daardie oomblik van smaakekstase.

Lizma van Zyl besig om druiwe te pluk. (Foto: Verskaf)

Stowwerig, taai en dors dra ons die laaste krat bakkie toe, nie min trots op ons nederige oes nie. Maar die werk is nog lank nie klaar nie. Die pluk was maar net die begin van ’n lang proses om die korrels te omskep in die drank van die gode.

Daardie hope “pers goud” moet nou gesorteer en skoongemaak word. Vanaand nog. Maar eers gaan ons aansit. Buurvrou-bo se tafel met ’n arendsuitsig oor die hele Stellenbosch dra swaar onder al die lekker. Dit wissel van geurige pasta en gebraaide sosaties tot ’n berg groen slaai en sampioene (in knoffel gebraai) uit die koppie net hieronder. En soos die horison pienk raak en die ligte onder in die vallei een vir een begin verskyn, klink ons ons glase. Op die Lewe. Op vreugde in eenvoud. Op samesyn. Op natuurskoon so mooi, dit gee jou ’n knop in die keel. En ons praat ook oor die manne en vroue wat jaar in en jaar uit gebukkend in die bloedige son, elke dag tydens oestyd hierdie harde werk verrig. En iemand vertel van ’n bekende boervrou wat vir haar seisoenale plukkers klassieke musiek speel wat reg oor haar hele wynland weergalm.

Die nagereg kom in groot bakke tafel toe – soet-op-soet-verleiding, een ná die ander. En dan word dit tyd vir die manne om hul moue te gaan oprol, want elke takkie, blaartjie en klipperigheid wat saam met die druiwe in die kratte beland het, moet uit – soos om die kaf van die koring te skei. Nog ’n paar uur later praat die lywe hard ná die sieldodende werk en word dit tyd om te groet.

Moeg, maar tevrede, word die volmaan ons flits soos ons met die bergpaadjie afstap huis toe.

En wie weet, volgende jaar dié tyd drink ons die vrug op ons harde, heerlike arbeid. Al sal daar dalk nooit ’n goue plakkertjie op die bottel verskyn nie, sal dit vir ons klompie soos koningswyn proe, want ons het dit sélf gemaak. En dít was wonderlik.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hanru ·

Gedoriewaar, dis nou ‘n lekker, beskrywende verbeeldingsvlug! My mond water sommer as ek lees van jou “suikersoet pers korrels” en ek dink aan die groot korrel wat bars in my mond as ek die eerste hap gee aan die Bolandse druiwe wat ons ook darem hierbo in die Transvaal by ons plaaslike kettingwinkels kan koop. Dankie vir ‘n mooi storie, Lizma.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.