Om sepies en films te verseker

Denise Hattingh.

Jacques Basson, eienaar van Klipkouers, gesels elke maand met ʼn Klipkouer-aanhouer-en-uithouer vir Maroela Media. Vandag se onderhoud is met Denise Hattingh, besturende direkteur van KEU Underwriting Managers wat in korttermynversekering vir die vermaaklikheidsbedryf spesialiseer.

Vertel ons ʼn bietjie meer van jouself.

Ek is nou al 26 jaar getroud en het twee lieflike dogters. Een het so pas haar eerste jaar op universiteit voltooi, en my oudste dogter werk saam met my. Ek is gebore in Bloemfontein, het grootgeword in Meyerton, en het KEU 15 jaar gelede op die been gebring. Ek was die grootste deel van my beroepslewe in die versekeringsbedryf. Ek weet nie altyd of dit ʼn goeie of slegte ding is nie, maar ek dink as jy ʼn passie het vir iets, dan maak dit dinge dalk bietjie makliker.

Gee ons ʼn opsomming van die tipe besigheid en bedryf.

Ons grootste kliëntebasis is gesetel in die film- en televisiebedryf. Dink aan al die programme wat net in Suid-Afrika gemaak word vir Suid-Afrikaanse gebruikers, en veral baie Afrikaanse produksies, maar ook Zoeloe- en Sothoproduksies. Dit sluit ook die sepies in wat jy op TV sien, maar dan is Suid-Afrika tans ook ʼn gewilde bestemming vir internasionale verfilming.

Waar die Europese mark nou sit met dik lae sneeu en ʼn baie sterk rand-dollar- of  rand-euro-wisselkoers, kom almal met ʼn kamera Suid-Afrika toe. Ons het ʼn goeie infrastruktuur vir film en televisie en ons is  bekend daarvoor dat ons spanne bereid is om ongelooflike lang ure te werk. Sodra die ekonomie swaai en die rand se waarde verlaag, kry ons baie meer besigheid in. Ek glo ons is een van die min besighede wat aan die goeie kant van die rand, euro, dollar én die infrastruktuur sit.

Aan die ander kant, weer, jy mag geen gebeurtenis in Suid-Afrika hou sonder versekering nie. Dit het maar gespruit uit die geskiedenis van mense wat seergekry het, die Fifa-Wêreldbekertoernooi wat in 2010 hier gehou is, ensovoorts. So daar sien jy dan baie minder internasionale sterre wat deurkom, net omdat dit te duur raak vir ons om een event te hou met genoeg mense om die kaartjies lonend te kan betaal.

Die Suid-Afrikaanse mark is egter ongelooflik besig in terme van plaaslike gebeure. Dus, almal wat ʼn pantomime opvoer of ʼn konferensie hou, het versekering nodig en dis wat ons verskaf.

Wat maak jou anders as jou kompetisie?

Versekering is eintlik maar ʼn vertrouenskontrak; jy kan maar op papier sê wat jy wil en jy kan sekere goed baie duidelik stipuleer. Mense lees egter nie kontrakte nie; so, ek dink een van my voordele is dat ek nou al in die mark is vir 20 jaar en 15 jaar besig is met KEU. Mense ken jou en weet teen dié tyd hulle kan jou vertrou, so jou woord moet jou waarheid wees. Ek dink ook dat ons ʼn goeie infrastruktuur mense met groot kapasiteit het en heeltyd innoverend is. ʼn Mens móét ook weet wat in die mark aangaan en vir enige gebeurlikheid ʼn oplossing kan bied. En dit maak dit makliker as jy kleiner is, want jy kan onmiddellik op iets reageer.

Wat dink jy kan julle nog beter doen in die besigheid?

Tegnologie verander aanhoudend, so jy kan jou indink hoe kameras byvoorbeeld verander. Dieselfde en nóg meer gebeur aan die filmkant. Die scenario’s waarmee ons werk, is dat een dag se verfilming maklik ʼn halfmiljoen of sewehonderdduisend rand kos. Dus, as enigiets fout gaan op daardie dag, om watter rede ook al, kan dit ons ʼn klomp geld uit die sak jaag. En vir ons as KEU is dit altyd belangrik om te weet hoe die tegnologie werk sodat ons ons produkte daarby kan aanpas.

Wetgewing is ook altyd ʼn kwessie, en Suid-Afrikaanse wetgewing verander nogal redelik vinnig. Die belangrikste is om soveel moontlik kennis rakende jou produk in te win en seker te maak jy kan oplossings vir alles bedink. Maar versekering bly versekering en daar is sekere prosesse wat gevolg moet word. Dis ook noodsaaklik om seker te maak die nuwe geslag besef die risikobestuur wat jy in plek moet stel, die positiewe uitwerking wat jy kan hê en jou kennis om dit te laat werk – sonder dat mense 40 bladsye hoef te lees.

Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusver gemaak het en wat het jy daaruit geleer?

Dat ek myself nie genoeg vertrou het toe ek die besigheid begin het nie, en as gevolg daarvan het ek besluit om ʼn vennoot in te neem wat my baie skade laat ly het omdat ons nie dieselfde oor besigheid, kliënte en waarheen ons KEU moet vat, gedink het nie. Dit het my baie pyn en lyding gekos om dit ongedaan te maak en terug te keer na myself toe.

Hoe gaan jy te werk om nuwe kliënte te werf?

Dis nodig om te onthou dat jou naam ongelooflik belangrik is, want dit is jou handelsmerk. As iemand in die vermaaklikheidsbedryf die naam KEU hoor, moet dit ʼn naam van gesag wees wat absolute vertroue kweek. As jy dus my stuk papier ontvang, want uiteindelik is dit ál wat ek vir mense kan gee, en iets gaan verkeerd, word ʼn tjek gelewer met dieselfde impak as komende van ʼn groot internasionale maatskappy. Ons bemarkingstrategie was nog altyd om seker te maak die naam beteken iets in die vermaaklikheidsbedryf. En ook om altyd ons woord gestand te doen!

Die bemarking wat ons doen, is direkte bemarking net aan ons makelaars en ons bied ook opleiding vir makelaars. Ons hou  ook dikwels werksesies, en word deur die filmmark uitgenooi om met hulle te gaan gesels. Ons maak ook seker dat die mense die implikasie van versekering verstaan – wat maar ʼn baie subjektiewe en vervelige onderwerp kan wees as jy dit nie opwindend maak nie. Dís waarop ons bemarking fokus.

Maak kontak met Denise by [email protected]

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.