Om te druk of nie te druk nie

(Foto: Helena Lopes/Unsplash)

Covid-19 het baie van ons “drukkiesku” gemaak… en met goeie rede.

Die maskers het egter nou gewaai (en fladder die wêreld vol), maar steeds is baie van ons skugter om ons arms om iemand te sit of selfs die hand uit te steek.

Die eerste Saterdag van elke Juliemaand is Internasionale Gratis Drukkiedag, ʼn dag waarop die wêreld aangemoedig word om ʼn vreemdeling spontaan te druk. Ons het nie neurowetenskaplikes nodig om vir ons te sê ʼn drukkie laat ʼn mens lekker voel nie, maar dis bewys: dit verlaag streshormone en bring kortisolvlakke af. ʼn Druk van tussen 10 en 15 sekondes (nie korter nie) skei goedvoelhormone af en verbeter sommer dadelik jou bui.

Volgens ʼn artikel in Psychology Today is daar bewys dat drukkies veral vir ouer persone van groot waarde is. Navorsing toon dat mense in hulle ryper jare, wat elke dag van iemand af ʼn drukkie kry of een géé, gesonder en meer positief voel.

Almal van ons is egter nie “drukkiemense” nie en dis nie gekoppel aan die afgelope twee-plus jaar se bly-weg-van-mekaar-af nie, hoewel die huggers se getalle wel gedaal het.

Dis ʼn persoonlike voorkeur, maar het blykbaar ook baie te doen met jou land van afkoms. Navorsers aan die Universiteit van Oxford het ʼn paar jaar gelede op die saak ingegaan en (tot niemand se verbasing nie) gevind dat die Britte die teësinnigste is wanneer dit by liggaamlike aanraking kom, wat drukkies insluit.

Vreemd genoeg is die Italianers, wat beskou word as “warmbloedig”, net ʼn kortkop agter. Die nasie watdie mééste drukkies gee is die Finne! En dalk is dit ook die rede dat dié land se mense beskou word as die gelukkigste op aarde, ondanks die feit dat die kwik daar in die verre Noorde tot -50 ˚C kan sak.

Die Oxford-professors het ook beaam dat mans nie so mal is oor ʼn vriendelike (let wel) gevattery nie – veral nie op hulle agterkoppe nie. Die “bro hug” – ʼn vinnig druk en klap op die skouer – is wel draaglik. Ook maar net-net.

(Foto: Lizma van Zyl)

Daar is minstens tien verskillende soorte drukkies – elk wat sy eie emosie en bedoeling oordra – van vriendskaplik, tot romanties, tot kollegiaal. Een soort druk wat sielkundiges die London-Bridge Hug noem het my laat glimlag, want wie van ons is nie bekend met daardie uiters ongemaklike drukkie wanneer jy nie eintlik wíl nie maar half verplig voel. Twee mense leun in en sit hulle arms om mekaar met bolywe wat skrams raak, maar van die middel af ondertoe is hulle lywe streng geskei – amper agsterstewe-in-die-lug. So ʼn drukkie kan wel gegee word wanneer ʼn mens iemand wil troos, maar sielkundiges sê oor die algemeen moet jy maar weet dat ʼn persoon wat jou só druk nie regtig belangstel in enige vorm van intimiteit met jou nie. Eina!

Ek is redelik spaarsamig met drukkies en toe ʼn vriendin tydens ʼn Tafelbergstap haar arms om ʼn geelhout gooi en voorstel dat ek dieselfde doen, het die ongemaklikheid onmiddellik wortel(s) geskiet. Maar haar motivering dat daar bewys is dat ʼn “boomdruk” dele van jou brein stimuleer wat jou gelukkiger laat voel, het my nuuskierigheid geprikkel. Met arms om die eerste beste boom (ná ʼn vinnige kykie links en regs) het ek ingeleun en my wang teen die growwe hout laat rus. Ek het seker vir byna ʼn minuut so gestaan en net toe ek begin dink dat hierdie ʼn kabouterstorie is, het ek begin voel hoe my lyf ontspan. Die gedreun van die verkeer onder in die stad het soos die sekondes verbygetik het sagter geraak en so ook die geraas in my kop.

Môre is Internasionale Gratis Drukkiedag, maar nie almal van ons gaan die vrymoedigheid hê om ʼn vreemdeling tromp-op te loop nie.

En dis oukei.

Daar is altyd ʼn boom.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. 

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Met apievlooie in omloop, moet mens dalk tog maar sku wees vir vreemde drukkies so uit die bloute. Niks wat geforseer word is normaal nie. ‘n Boomdrukkie met ‘n kamera by is een van laasgenoemde.

Miskruier ·

Ek hou van drukkies, mens voel onmiddelik wanneer n druk nie welkom is nie. Daar is nooit ooit n seksuele stroming nie, net liefde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.