Om weer te kan hoor ʼn ‘wonderwerk’ vir bejaarde egpaar

Bokkie en Erens van der Zandt. Foto: Verskaf

In die hartjie van Heidelberg in Gauteng verwelkom ’n bejaarde egpaar hul gaste in hul nederige dog kleurvolle en knus huisie.

“Dit is nou so lekker om te kan hoor as hier mense buite is,” sê tannie Bokkie van der Zandt (81) wat mettertyd al hoe meer hardhorend geword het.

Aan haar sy staan oom Erens (84), of Ertjies, soos sy geliefde vrou hom noem. Sy breë glimlag verklap sy diep waardering om die geluide om hom te kan hoor.

Anders as sy vrou, is oom Erens doof gebore. Namate tegnologie oor die jare verbeter het, kon hy egter in sy kinderjare gehelp word om met die hulp van ’n gehoorapparaat in sy linkeroor te hoor.

“Ek kan nie onthou wat ek eerste gehoor het nie. Ek onthou wel dit was ’n vreemde ervaring, maar dit was wonderlik, veral om mense se stemme te hoor,” sê hy.

Tannie Bokkie sê die gehoortoestel is mooi, klein en gemaklik. Foto: Verskaf

Oom Erens en tannie Bokkie het 63 jaar gelede ewige trou aan mekaar beloof en drie seuns en twee dogters is uit die huwelik gebore. Hulle het die meeste van die tyd in Heidelberg gewoon waar oom Erens as ’n passer en draaier gewerk het. Tannie Bokkie het meestal na die kinders omgesien en besig gebly met haar bakvernuf en unieke kunswerke wat sy uit skulpies gemaak het.

Oom Erens se gehoorapparaat het deur die jare baie verouderd geraak en tannie Bokkie se gehoor het drie jaar gelede begin verswak. Gevolglik het stilte stadig maar seker in die huishouding ingetree.

“Iets kleins soos om na die winkel te gaan was vir ons ’n groot wroeging. Sou ’n mens byvoorbeeld iemand vir hulp vra oor waar ’n produk is, dan kan ’n mens nie hoor wat hulle antwoord nie en voel dan sleg as jy vir die persoon vra om dit te herhaal,” sê tannie Bokkie.

“Ja, dis hoekom my my ore so bak staan … dit is van al die kere wat ek moes vra ‘hoe sê?’,” skerts oom Erens en hou sy linkerhand bak om sy oor.

Die egpaar verduidelik hoe hulle hulle aan die samelewing begin onttrek het aangesien hulle nie meer kon hoor en deel wees van ’n gesprek nie. Hulle het begin vrede maak met hul situasie want daar was net nie genoeg geld vir peperduur gehoortoestelle nie.

Bokkie en Erens van der Zandt kan nou weer gemaklik gesels met hul nuwe gehoorstukke. Foto: Verskaf

Hul dogter, Aniki, het in die media van Solidariteit Helpende Hand se projek vir hardhorende bejaardes gelees. Sy het namens haar ouers aansoek gedoen en die Van der Zandt-egpaar het deel van talle bejaardes geword wat deur dié inisiatief weer die gawe van gehoor gegee is.

Ná ’n besoek aan ’n oudioloog van Impact Hearing in Pretoria is hul gehoorapparate gemaak, gepas en onlangs aangeskakel. “Nou hoor ons baie mooi. Die ou mense om ons is skoon jaloers,” skerts oom Erens weer.

“Die toestel is mooi, klein en gemaklik en kom in ’n japtrap in. Dit werk perfek, die klank is mooi suiwer en die battery hou lekker lank. Ons kan nou weer kerkdienste luister en waardeer mooi musiek,” sê tannie Bokkie dankbaar. “Ek hou veral van boeremusiek. Ek en die tannie het lekker daarop gedans toe ons jonger was,” voeg oom Erens by.

Hy raak ernstiger as hy sê mense aanvaar dikwels hul gehoor as vanselfsprekend. “Ons het weer menswaardigheid en selfvertroue terug. Ons is baie dankbaar vir die wonderwerk om te kan hoor. Ons bid ook daagliks vir al die mense wat hul lewens toewy om dowe mense te help,” sê hy dankbaar.

  • Helpende Hand, in samewerking met Impact Hearing, help vanjaar 25 bejaardes met twee gehoorstukke elk, om hierdie mediese nood wat so algemeen onder bejaardes voorkom, te verlig. Sedert 2015 het Solidariteit Helpende Hand al sowat 138 bejaardes gehelp met gehoorstukke ter waarde van nagenoeg R2,3 miljoen. Die projek duur voort en hoop om nog baie mense se lewens te verbeter met die gawe van gehoor. Vir meer inligting besoek Helpende Hand se webtuiste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dogter ·

Weet julle wat ‘n plesier dit is om nie als 3, 4 keer te moet herhaal vir my ma nie.. net om dit dan weer vir my pa ook ‘n keer of 2 te herhaal.

Vir die eerste keer in jare kon ek gewoonweg net gemaklik sit en in ‘n gewone stem met hulle gesels. Helpende Hand het ‘n GROOT ding gedoen vir ons ouers. Ons sal hul ewig dankbaar bly.

Linda ·

ag weet jy dis wonderlik,ek leef self in n rolstoel maar gee graag maandeliks aan die helpende hand fonds.Dit maak my gelukkig om te sien ek dra by tot iemand anders se beter lewenswyse.n

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.