Omgee-mark nou digitaal

Argieffoto (Foto: Pixabay)

’n Boer maak ’n plan. Solidariteit Helpende Hand se Omgee-mark, wat saam met die Sakeliga KragDag-ekspo gehou sou word om klein ondernemings te ondersteun wat gewoonlik op feeste en markte hul brood verdien, is nou aanlyn beskikbaar.

Dit volg nadat die Omgee-mark, wat saam met KragDag van 3 tot 5 Desember buite Pretoria sou plaasvind, uitgestel moes word aangesien die Tshwane-metro die organiseerders weens Covid-19-regulasies verbied het om met die jaarlikse buitelug-ekspo voort te gaan.

Benette Welman, Helpende Hand se projekorganiseerder van die Omgee-mark, sê Helpende Hand het toe besluit om vir die entrepreneurs wat hierdeur geraak word, ’n platform te skep waar hulle hul produkte aanlyn kan verkoop.

“Vanjaar was ʼn uitdagende jaar wat ons entrepreneurs wat by markte uitstal of hul handgemaakte items van die huis af verkoop, erg beïnvloed het. Die beweegrede agter die Omgee-mark was om hierdie entrepreneurs te help om die jaar op ’n hoë noot af te sluit.

“Ons gee steeds om en wil steeds ons geregistreerde uitstallers by die Omgee-mark ondersteun. Daarom het ons hierdie platform geskep waar die publiek uit die gemak van hul eie huise, deur die uitstallers se pragtige, handgemaakte items kan rondsnuffel. Blaai gerus deur die webwerf en ondersteun ons Omgee-mark se uitstallers deur hulle direk te kontak om bestellings te plaas. Dit is ’n ideale manier om dié Kerstyd ’n spesiale geskenk vir ’n geliefde aan te koop,” sê Welman.

Die ekspo en Omgee-mark is onbepaald tot 2021 uitgestel. Meer inligting hieroor sal nog bekendgemaak word.

Besoek die aanlyn mark by www.omgeemark.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.