Omgeedag wêreldwyd gevier

(Foto deur stokpic/Pixabay)

Op 30 November deel liefdadigheidsorganisasies wêreldwyd, ook hier in Suid-Afrika, in die gees van welwillendheid wanneer Giving Tuesday gevier word.

Giving Tuesday tree as ʼn onafhanklike niewinsgewende organisasie op en werk saam met ʼn wêreldwye netwerk van leiers, gemeenskappe, vrygewige individue en vennote – ook GivenGain, ʼn internasionale geldinsamelingsplatform vir liefdadigheid.

Die GivenGain-platform moedig burgers en liefdadigheidsorganisasies aan om op hierdie dag vir mekaar en vir hulle gemeenskappe om te gee.

In 2012 het ʼn jaarlikse voetsoolvlakdag van gee onder die Giving Tuesday-vaandel ontstaan, wat die afgelope paar jaar gegroei het om vrywilligersinisiatiewe, geldinsamelingsveldtogte en -geleenthede in meer as 70 lande te inspireer.

Giving Tuesday vind direk na die inkopiefeeste van Swart Vrydag en Kubermaandag plaas en moedig die publiek aan om in die vorm van skenkings en tyd terug te gee aan diegene wat dit die nodigste is.

“Dit is ʼn broodnodige inisiatief wat geldinsameling en ander vorme van verligting bevorder ná die negatiewe uitwerking van die Covid-19-pandemie,” sê Jannie Smith, GivenGain se streekbestuurder vir Afrika suid van die Sahara.

“Dit is belangriker as ooit om ons gemeenskappe te ondersteun, veral noudat mense van hul normale ondersteuningsnetwerke geïsoleer is. Ons sien daarna uit om selfs meer liefdadigheidsorganisasies by te staan in hulle poging om na behoeftige mense uit te reik.”

Die krag van vrygewigheid

Danksy GivenGain se oorgrensvermoëns word Suid-Afrikaanse organisasies met Giving Tuesday-veldtogte tans deur skenkers wêreldwyd ondersteun.

Een van dié organisasies is Made for More wat geld ingesamel het vir ʼn nuwe volhoubare gemeenskapsentrum in Durban, wat mense met gestremdhede ondersteun. Die moderne gebou is met ʼn doel ontwerp en die eerste van sy soort om inklusiewe sportaktiwiteite, opleiding, berading, leierskapkampe en werksgeleenthede aan te bied.

Nog ʼn suksesvolle deelnemende liefdadigheidsorganisasie is The South African Wildlife College, wat meer as R160 000 met sy Giving Tuesday-veldtog ingesamel het. Hierdie geld was genoeg om vir ʼn hele jaar mediese fonds aan hul K9-eenheid van 30 teenstroperyhonde te verskaf.

Hulpbronne vir welwillendheidsorganisasies

GivenGain het vanjaar weer saam met Giving Tuesday gewerk om welwillendheidsorganisasies met die nodige hulpbronne toe te rus: Van gestruktureerde tydlyne, skryfgidse en geleentheidsidees tot boeiende gevallestudies.

Volgens Smith is die doel hiermee om deelnemende organisasies aan te moedig om die meeste uit Giving Tuesday te put deur hulle veldtogbladsye aktief met hul netwerke te deel en bewustheid van hierdie wêreldwye beweging te skep.

Behalwe om liefdadigheidsorganisasies te lei oor hoe om ondersteuning van groot ondernemings te lok, is GivenGain se gratis aflaaibare fondsinsamelingspakket ʼn noodsaaklike gereedskapstel vir individue en maatskappye wat regdeur die jaar sulke inisiatiewe organiseer.

“Ons is ongelooflik trots om voort te gaan om Giving Tuesday te ondersteun en ons rol in hierdie wêreldwye vrygewigheidsbeweging te speel,” sê Smith.

“Dit het begin as so ʼn eenvoudige idee, maar demonstreer die krag van mense om teëspoed te oorkom en behoeftiges te help, hetsy die ontvanger ʼn buurman of ʼn vreemdeling is.”

Giving Tuesday stel welwillendheidsorganisasie in staat om hierdie tyd van die jaar in ʼn seisoen van onbaatsugtige gee te verander, selfs wanneer baie verbruikers meer bestee, meen Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.